Meer as ‘n oorwinning vir die Springbokke

Deel op

Net na gister se toets kry ek ‘n teksboodskap van ‘n vriend: “Hierdie Smit-outjie het ‘n toekoms op haker. Waar was hy die hele tyd?”

Wel, hy was oop en bloot versteek, as vasskopstut net regs van die een Springbokhaker na die ander. Smit se veldtog op stut is ‘n Pieter de Villiers-eksperiment wat gou vergeet maar lank onthou sal word. My ou wetenskaponderwyser het gesê ‘n eksperiment misluk nooit nie. Dit verskaf die feite wat die wetenskaplike op die uitkyk voor is. Maar die wyse navorser besluit binne ‘n redelike tyd of die eksperiment vir hom genoeg data gegee het om die eksperimentele oor te dra na die praktiese. Hoe lank hierdie “redelike tyd” is, word bepaal deur die aard en die doel van die betrokke eksperiment. De Villiers se eksperiment met Smit het ‘n volle agtien maande geduur.

In daardie tyd het die Springbokskrumkreet verander van iets soos “moor hulle!” tot “o gaats!” Hulle voorpak is in die bind-en-stootfaset deur sulke liggewigeenhede soos Australië en Skotland op ‘n knop gedruk. Gister was dit weer sulke tyd, met ‘n voorry bestaande uit die nat-agter-die-ore Wian du Preez, Adriaan Strauss op haker en dáárdie Smit-outjie op vaskopstut, wat ‘n nuwe trurat ontdek het teen ‘n Italiaanse voorlinie wat die monster Martin Castrogiovanni ingesluit het.

In die laaste kwart van die wedstryd is die Springbok-voorry hersaamgestel met die Ondier, Mtawarira, op loskop, die bonkige buksie BJ Botha terug uit die rugbykoue op vaskop en die rooikopoutjie, John Smit, op haker. Die verskil was so verstommend dat ‘n mens suspisieus rondgekyk het vir iets wat soos kriptoniet lyk. Castrogiovanni, wat verlede week nog ‘n paar All Black-kopvelle teen sy totempaal vasgespyker het, se gesig was soos dié van ‘n booswig in ‘n komiese opera wanneer sy vrou hom by die diensmeisie vang. En as hy nog nie mooi verstaan het wat so pas gebeur het nie, was Heinrich Brüssouw daar in die bouvalle van die Italiaanse skrum om hom te verduidelik. En wat gebeur het is dat die Springbokskrum deur die Italianers geplons het soos ‘n tiener deur ‘n kleuterswembad.

‘n Mens moet aanvaar dat John Smit in 82 toetse iets en die ander van skrumwerk geleer het, en dit was duidelik sigbaar in daardie een skrum. Ons hoop een van daai dinge is dat hy geen vaskopstut is nie.

Dié skrumvertoning het ‘n hele nuwe toga oor die Springbokke se voorspelbare en saaklike oorwinning van 32-10 gehang. Bryan Habana het sy gebruiklike drie gedruk na die gebruik nadat Ryan Kankowski uiteindelik deur ‘n gaping gegalop en vir Bryan Habana met ‘n binneaangee gevind het vir dié om sy gebruiklike drie te gaan druk.

Nie lank daarna nie was dit die Springbokke wat met ‘n toeswaaihekbeweging wyd geslaan het, ‘n maneuver wat ‘n seepgladde, dodelik akkurate aangee van Heinrich Brüssouw ingesluit het. Habana het die verdedigers kantlyn toe getrek en hy het die bal binnetoe gewip vir Jaque Fourie om te vang en onder die pale te gaan druk.

Italië het self gewys hulle kan ‘n swakplek raakslaan en senter Gonzalo Garcia het vir Adrian Jacobs op ‘n knop gejaag en homself toe deur die gevolglike gaping gestuur vir ‘n drie wat mooi op die oog was. Die halftydtelling was 12-7.

Die patroon was in die tweede helfte voortgesit met Italië wat gemaak en breek – maar hoofsaaklik breek – het in die skrums terwyl die Springbokke ‘n amperse monopolie op lynstaanbesit gehad het. Die Bokke het nog twee mooi drieë gedruk, eers toe Danie Rossouw op die buitekant veldafgerammel het en met hekelfynhande ‘n aangee agter sy rug vir Habana gegee het. Dié het binnekant toe gesypel en vir Fourie du Preez gevind wat skuins oor die veld gesuiker het vir die doellyn.

Die laaste Bok-drie was Du Preez se werk toe hy ‘n bal uit die lynstaan ontvang en gebreek het. Die begunstigde van sy bresslaanwerk was Wynand Olivier wat sy eerste toetsdrie ooit gaan druk het.

Tot dusver was die Springboktoer ‘n amperse Götterdämmerung, maar met hierdie oorwinning het daar tog ‘n skynseltjie hoop opgegaan, al is dit net met die kennis dat die einde van ‘n geklike eksperiment ‘n ou Springbokbate, die skrum, in glorie kan herstel. Ons kan net hoop dat ander ewe rampspoedige Pieter de Villiers-proewe tot ‘n einde sal kom, die vernaamste daarvan om van Adrian Jacobs, ‘n liggewigbuitesenter, as liggewigbinnesenter in te span, en om vir Ryan Kankowski wat ‘n legendariese impakspeler kan wees, as beginarbeider te kies.

En miskien is dit ook hoogtyd dat die mees desperate eksperiment in Suid-Afrikaanse rugby, Pieter de Villiers as afrigter, ook einde kry.

mositaldentДанильченко

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.