Die betowering van die DA se koloniale droom

Deel op

Eergister het ek die grootste deel van die dag, van vroegoggend tot ná sononder, by die Vryheidsfront Plus se stalletjie by Tijgerpoortlaerskool naby Silver Lakes in Pretoria deurgebring. Die geleentheid was ‘n munisipale verkiesing wat in wyk 2 van die Bronkhorstspruit- (“Kungwini”-) munisipaliteit gehou is.

Gister het die uitslae bekend geraak en dit blyk dat die VF+ eintlik besonder swak in dié besondere tussenverkiesing gevaar het. Die VF+ het naamlik ‘n skamele 66 stemme teenoor die DA se 1079 behaal:

DA 1079

ANC 214

VF  66

Onafhanklik (gesteun deur belastingbetalersunie) 37

Soos ‘n briefskrywer op PRAAG gister met waarskynlike verwysing na hierdie wyk geskryf het, is “(d)ie demografie in die wyk… seker 70% blanke Afrikaanssprekendes, 25% blanke Engelsprekendes en 5% swart Sothosprekendes”.

Vir diegene van ons wat onwrikbaar glo in die idee van Afrikanervryheid en dat ons taal, kultuur en ideniteit eendag weer sal herleef om tot sy volle reg te kom, kan so ‘n uitslag nie anders as uiters teleurstellend ervaar word nie.

In my geval, ná ongeveer 10 ure buite op ‘n koue en reënerige dag – ek het agtergekom dat ek nie warm aangetrek was nie – is die teleurstelling sekerlik veel erger. Die onmiddellike vraag wat by ‘n mens opkom, is: waarom stem Afrikaners deur die bank vir die party van die ultraliberale of “progressiewe” mev. Zille, met sy boodskap van assimilasie en integrasie binne die sogenaamde “reënboognasie”?

Aan die ander kant was ek voorbereid op ‘n swak vertoning deur die Vryheidsfront. Deur die dag was dit duidelik dat die meeste blanke Afrikanerkiesers hulself meer geredelik tot die DA-stalletjie gewend het. Sekerlik beskik die DA oor ‘n meer “herkenbare handelsmerk” as die Vryheidsfront en geniet dit meer aandag in die nasionale media.

Gedurende die dag het ek egter baie tyd gehad om die petalje van ‘n munisipale tussenverkiesing dop te hou en ek meen ek het ‘n paar gevolgtrekkings om met my lesers te deel.

Ons Vryheidsfrontstalletjie was slegs drie of vier meter van die DA s’n aan die oorkant van die skool se inrypad verwyder. As ‘n mens tien ure lank na die DA-embleem met sy NSA-vlag en NSA-kleure moet staar, dan voel jy jy begin iets van die groepering aan die oorkant verstaan, benewens natuurlik mev. Zille se onlangse toespraak oor die Progressiewe beweging in Suid-Afrika.

Ook het ek geredelik met lede van die DA gesels, van mnr. Dennis Peach wat saam met kollegas hul stalletjie beman het, tot die pas verkose leier van die DA in Pretoria, mnr. Brandon Topham, wat in sy silwer Porsche Boxster opgedaag het om sy troepe te kom inspekteer.

As ‘n mens eerlik is, moet jy erken dat die DA die historiese telg van die ou SAP-beweging in Suid-Afrika is. Trouens, hoewel wyk 2 ‘n Afrikanermeerderheidsgebied is, was die meeste DA-werkers Engelssprekendes vanuit die Pretoria-omgewing. Hulle praat wel goed Afrikaans, maar ‘n hele paar het erken dat hulle ‘n lang pad in die politiek geloop het, van die Verenigde Party, deur die Progressiewe Party of PFP tot by die DA. Oud-Nasionaliste was nie eintlik onder die partywerkers verteenwoordig nie. Om sy liberale, reënbooggetuigskrif gestand te doen, was daar ook ‘n Indiër- en ‘n swart medewerker.

Indien enigiemand tussen die jare 1948 en 1994 sou gesê het dat die meeste Afrikaners eendag weer vir die Sappe of Oudsappe sou stem, sou so ‘n persoon as ‘n naïweling uitgekryt gewees het. En tog was dit in wyk 2 van “Kungwini” wel die geval. Afrikanerkiesers het uit beleefdheid soms by die Vryheidsfrontstalletjie getalm, ons petisie vir beter dienslewering geteken of ‘n geselsie aangeknoop en natuurlik was daar 66 mense wat wel vir ons gestem het, maar oor die algemeen het ek die indruk gekry dat die kiesers veel eerder met die DA en sy NSA-kleure geassosieer het as die oranje en groen van die VF+.

Die wortels van die probleem lê egter veel dieper. Die ANC het deur propaganda aan bewind gekom, propaganda wat ook die DA bevoordeel – ten minste by die rasseminderheid of -minderhede. Die situasie in die Weskaap verskil hemelsbreed van dié in Pretoria of Bronkhorstspruit en daarom is die redes waarom kleurlinge in die Kaap vir die DA steun heel anders as waarom Afrikaners in die ou Transvaal insgelyks die party ondersteun. Terloops, selfs in die Noord-Transvaal of Limpopo – eertydse bakermat van die HNP, KP en ander regste partye – het die DA in vanjaar se parlementêre verkiesing die Vryheidsfront Plus ver uitgestof. Terwyl die HNP se ondersteuners volhou dat hulle nie die wettigheid van die Nuwe Suid-Afrika erken nie, stem hulle lustig vir die liberales in die DA!

In die minderheidspolitiek – en diegene wat nie glo dat blankes deesdae ‘n toenemende minderheid is nie kan gerus maar na die bevolkingstatistieke gaan kyk – bou die DA spoed op in die vaarwaters van die ANC. Trouens, mev. Zille beskou haarself as ‘n getrouer bewaker van die huidige SA grondwet en maatskaplike stelsel as die ANC self. Hoe meer die regime se propagandiste uitvaar teen rassisme en die historiese skuld van apartheid, hoe meer stem die Afrikaners vir die DA. Want hoewel sy die ANC in pragmatiese terme opponeer, ondersteun mev. Zille en haar Progressiewe – met ‘n hoofletter – geesgenote die ANC se waardestelsel, van “nasiebou” tot die aftakeling van die Afrikaneridentiteit en -instellings.

Die arme Afrikanerkieser wat dus gister soos ‘n nat hoender in die reën opgedaag het om sy ietwat futiele stem te kom uitbring – want danksy swart getalle beheer die ANC feitlik elke munisipaliteit in die land, buite die Weskaap – se wil is geknak deur ‘n dubbele aanslag. Sowel die ANC as die DA het hom reeds oortuig dat hy hom oor sy geskiedenis, volkskap, kultuur en identiteit behoort te skaam.

Een van die DA-amptenare in ‘n blou hempie het heel dag lank die kiesers op gemaak vriendelike manier verwelkom – meesal op Engels, hoewel hy ook Afrikaans magtig was. En die Afrikaners praat met hom Engels terug. Soos Wilco Labuschagne in sy brief aan PRAAG skryf, het “die DA… baie lamppale versier, uit Kaapstad gebel en op Engels gevra of hulle op my kan staatmaak en ‘n pamflet versprei oor hoe sleg die VF+ is”. As ons daaraan dink, maak dit tog baie sin. Die Britse ambassade is steeds in Kaapstad, ná al die jare. En mev. Zille, wat is sy anders as ‘n soort “Kaapse goewerneur”, Haar Majesteit se politieke verteenwoordiger in Suid-Afrika wat soos die ou Sappe ‘n Engelse nasie, lid van die Britse Gemenebes, wil bou? Net dié keer gaan dit nie meer oor ‘n blanke nasie van Europese afkoms nie, maar om ‘n multikulturele, veelrassige – of dan “nie-rassige” – nasie.

Ook die verengelsing van Suid-Afrika onder die ANC bevoordeel die DA. Die Vryheidsfront Plus, wat sy veldtog in Afrikaans voer en ‘n spesifieke appèl op die Afrikanerkieser rig, bevind hom dus in ‘n posisie waar hy as minderheidsparty moet meeding teen ‘n party wat weens sy Engelstaligheid voorgee dat hy ‘n “nasionale” of “universele party” is.

Wat is die DA se boodskap nou eintlik, op die keper beskou? “Ons, die DA, kan die land doeltreffender volgens ANC-beginsels regeer as die ANC self!” Die DA wil die Xhosas vinniger in die Weskaap vestig en vir hulle meer en beter huise bou as wat die ANC kan doen. Net so wil die DA die Zimbabwiërs en ander vreemdelinge met groter warmte in die land verwelkom as wat die ANC-ministers reeds doen. Op geen fundamentele politieke kwessie verskil die DA wesentlik van die ANC nie.

In gister se reën en koue, voor die hek van Tijgerpoortlaerskool, terwyl ek toekyk hoe die Engelse van die DA hul Afrikanerstemvee met ‘n mengsel van hovaardigheid, minagting en aangeplakte vriendelikheid in die kraal jaag, het ek by myself gedink: Miskien moet ons Afrikaners dankbaar wees dat die ANC die land regeer en nie die “ware progressiewe” (mev. Zille se term) van die DA nie. Want hulle sou dalk veel meer doeltreffend die “apartheidsbuurte” opgebreek en geïntegreer, die Afrikaanse skole vinniger verengels en hul “reënboogpatriotisme” met groter ywer en fanatisme op ons afgedwing het.

Wat ek hier sê, is allermins suur druiwe oor die Vryheidsfront eergister verloor het. Want dis nie net die Vryheidsfront wat verloor nie; dis die hele Afrikaanse beweging, die Afrikaner, die taalstryd, ons voortbestaan, ons geskiedenis wat tans besig is om skipbreuk te ly. Die kragte aan die ander kant, hetsy swart demografie, hetsy die Sap-ideologie van ‘n heengegane geslag Britte en verengelsde Afrikaners, was veel sterker as wat ons gedink het. My pa se geslag het vuisgeslaan met Sappe en het geweier om op te staan as “God save the King” in die bioskope gespeel word. Maar vandag sing die Afrikaners lustig “God save Africa” saam met die ANC en gaan stem in opdrag van sms’e wat vanuit Goewerneur Zille se kantoor in Kaapstad na Pretoria versend word.

Die Vryheidsfront, asook elkeen wat hom- of haarself steeds as ‘n Afrikaner of ‘n Boer beskou, sal baie hard moet gaan dink wat ons nou te doen staan. Ons tyd is besig om uit te loop en oor ‘n paar jaar gaan die Afrikanervolk in dié land net ‘n vae herinnering wees. Daar sal nie meer ‘n enkele Afrikaanse pleknaam in dié land oorbly nie en soos ons al gesien het, word selfs die Afrikaanse boeke in die biblioteke by tye verpulp. Sowel die ANC as die DA werk baie hard aan ons verdwyning.

Die gemiddelde Afrikaner is so banggepraat, geïntimideer, verguis, gebreinspoel, geestelik afgetakel en geknak dat hy soos ‘n elektries geskokte hond in ‘n sielkunde-eksperiment reageer. As hy die geel liggie sien aangaan, nog voor hy die pyn voel, begin hy al tjank en sy eie stert byt. Om met sy mede-Afrikaners te assosieer en – ‘n strafbare sonde – ‘n Afrikanerparty of selfbeskikking te ondersteun, is vir hom amper taboe.

Die oorlog wat daar vir ‘n groot deel van die afgelope twee eeue op meer as een manier teen ons gevoer is, is nog lank nie verby nie. Gedurende die tweede helfte van die twintigste eeu was dit ‘n terreuroorlog, maar veral: ‘n propagandaoorlog. Hoewel, wat is die huidige vlaag geweld in die naam van “misdaad” anders as terreur?

Tot dusver het Afrikanerleiers en -intellektuele geen doeltreffende teenvoeter vir die vyand se diaboliese en ophoudelike propaganda gevind nie. Ons is gedurig op die verdediging en beskik nie oor die Machiavelliaanse sin vir die leuen, die halwe waarheid en gemaakte verontwaardiging waarvoor ons vyande ‘n natuurlike aanleg het nie.

Die Vryheidsfront behoort ernstig te besin oor die vorm van politieke opposisie wat hy wil beoefen. Daar is ‘n ou debat oor “samewerkende” of “regstreekse” opposisie teenoor die ANC. Ná enkele maande lyk dit nie asof daar enige voordeel vir die Afrikaner of vir die Vryheidsfront geleë is in die adjunkministerskap van Pieter Mulder nie. Enersyds bied dit ‘n gerieflike stok aan die DA om die VF+ mee te slaan, andersyds het geen verdere toegewings van die ANC aan die Afrikaner gevolg nie en word ons met groter minagting as ooit deur die owerheid behandel.

Daar is egter ook die verhouding teenoor die DA. By die gewone kiesers, asook lede van sowel die DA as die Vryheidsfront, is daar ‘n gevoel dat “die opposisie moet saamwerk teen die ANC”. Die vraag is egter op watter basis dit kan geskied as die ideologiese verskille onbrugbaar groot blyk te wees. Hoewel die DA ‘n verenigde opposisie en koalisievorming predik, beskou hy tog op ‘n manier die Vryheidsfront, eerder as die ANC, as sy “ware vyand”. Mev. Zille het in ‘n verbasende erkenning gesê dat sy die Marxistiese Barbara Hogan van die ANC en SAKP as ‘n “geesgenoot” beskou vanweë haar “begrip vir die grondwet” terwyl sy diegene wat hulle aan etniese of rassedenke skuldig maak as ‘n verskynsel beskou wat liefs tot die buitenste ruim – of ‘n ander oewer – verban behoort te word.

Hoewel daar pragmatiese en opportunistiese redes daarvoor mag bestaan, is samewerking met die DA myns insiens nie vir die Vryheidsfront moontlik nie. Net soos wat mev. Zille die Vryheidsfront en die swart-nasionalistiese vleuel van die ANC as twee sye van dieselfde munt beskou, behoort die Vryheidsfront en Afrikaners in die algemeen die DA en die ANC as twee aansigte van dieselfde “reënboogmonster” te beskou. Albei is integrasionisties, assimilasionisties, Engels en wesentlik gekant teen Afrikanervoortbestaan.

Die ANC beheer die staat, die weermag, die polisie, asook die grootste deel van die media, waaronder die SAUK. Op hierdie stadium kan ons kwalik genoeg kragte teen die ANC monster. Maar die “ANC lite” wat as die DA bekendstaan, kan effektief beveg word, as die kleinere manifestasie van ‘n veelkoppige monster wat ons voortbestaan bedreig. Indien ons sukses teen die DA behaal, mag uiteindelike sukses teen die ANC nie uitbly nie.

Dit maak nie saak hoeveel slim planne Afrikanerleiers en -intellektuele beraam om vryheid en selfbeskikking internasionaal te bevorder en selfs te beding indien Afrikaners op voetsoolvlak in elke verkiesing ten gunste van hul oplossing in die reënboognasie met sy onderbroekvlag stem nie.

Die geskiedenis in Suid-Afrika herhaal hom blykbaar oor en oor. Die stryd tussen die Vryheidsfront en die DA het al die eienskappe van die Nat-Sap-stryd van destyds. In ‘n hoë mate verskaf die Afrikanerkieser vandag die getalle om die Engelstalige se fantasieë oor koloniale beheer moontlik te maak. Die DA verbeel hom dat hy – in weerwil van die land se demografie wat vanweë onwettige immigrasie konstant versleg – ‘n “alternatiewe regering” kan wees en dat hy verder op die horison steun vanuit die Westerse wêreld en veral Brittanje en Amerika geniet. Hierdie is alles illusies en drome wat nog nie aan die toets van die harde werklikheid onderwerp is nie. Ongelukkig is dit ‘n verleidelike droom, ‘n politieke piramideskema wat die skyn van ‘n oplossing aan die kieser voorhou. Weereens skep die kulturele oorheersing van die Engelstalige die indruk dat hy iewers steeds ‘n onsigbare hand op die hefboom van mag het, wat die Afrikaner in sy toenemende identiteitskrisis lok om sy gewig by die koloniale droom van die DA in te gooi.

Afrikaners kon een keer in die onlangse geskiedenis teen die Britse Suid-Afrikanisme mobiliseer en seëvier. Heel moontlik kan hulle dit nou vir ‘n tweede keer regkry om die Sappe op hul baadjie te gee. Maar dan sal ons die stryd met groter skerpte en kragdadigheid moet aanpak. Getalle is op dié stadium nie so belangrik nie. Dit gaan meer oor die integriteit en veral die intensiteit van ons teenkanting teen hierdie bose bestel waarvan die DA vir seker ook ‘n pilaar is.

оптовые цены трековыеОлександр Фільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.