Waarom minag SA se maatskappye hul belangrikste teikenmarkte?

Deel op

Ek sien onlangs op Kyknet ‘n advertensie vir MTN se uiters irriterende “Ayoba”-veldtog. ‘n Oorgewig blanke man staan langs ‘n swembad, met drillerige boude, geklee in ‘n deurtrekkertjie. Hy staan ‘n oliebol en eet. Sover ek weet, is kykNET veronderstel om ‘n Afrikaanse TV-kanaal te wees, maar die advertensie se Engelse kommentator lig ons in dat hierdie blanke man glad nie “ayoba” is nie. MTN kan dus nie eens die moeite doen om blankes in Afrikaans op kykNET te beledig nie. In die daaropvolgende toneel is daar slanke swartes wat jil, gil, dans en sing iewers in ‘n lokasie. Húlle, lui die Engelse stem, is sommer baie “ayoba.”

Boodskap: in die Nuwe!, Verbeterde! Suid-Afrika, is dit veel, veel “cooler” om swart te wees.

In ‘n vorige veldtog van MTN se mededinger, Vodacom, was daar ‘n reeks advertensies wat handel oor ‘n middeljarige blanke man by name George. George is onderbedeeld waar dit by verstandelike kapasiteit en kennis van die tegnologie kom. Hy verstaan onder andere nie wat Bluetooth sou wees nie. ‘n Jonger swart man moet George telkens korrigeer en die regte tegnologiese pad vir hom uitstip.

Boodskap: swartes se intelligensie en veral tegnologiese “hip”-geit oortref veral blanke, middeljarige mans s’n met ‘n faktor van drie.

Dit is verbysterend dat Suid-Afrikaanse maatskappye sulke minagting vir waarskynlik dié belangrikste deel van hul teikenmark het. Ek is oortuig daar gaan diegene wees wat meen mens moet sulke advertensies maar met ‘n tikkie humor opneem. Al is sulke advertensies egter veronderstel om humoristies te wees, is ek bereid om groot geld te verwed dat Vodacom en MTN dit nie sal waag om sulke grappe ten koste van swartes te maak nie. Sulke advertensies se stereotipiese humor is bykans altyd ten koste van slegs een groep, en ons almal weet wie die teikens is. Wees gerus humoristies, MTN en Vodacom, maar is julle humoristies genoeg om ook andere, en nie slegs sagte teikens soos blankes nie, aan te vat? Stellig nie.

Dit is byvoorbeeld ondenkbaar dat George ‘n middeljarige swarte sou wees met ‘n onlangse blanke gegradueerde in die rekenaarwetenskap wat hom telkens op komiese wyse sal korrigeer en van sy onkunde red. Dit sal ook beslis nie ‘n oorgewig swart vrou wees wat langs die swembad staan en ‘n vetterige hoender met haar vingers verslind nie, terwyl slanke en aantreklike blanke vrouens as veel meer “ayoba” voorgehou word, dáárvan kan mens seker wees.

Ek vra weer: Waarom hou MTN en Vodacom so min van ‘n belangrike deel van hul kliëntebasis? MTN is juis besig met personeelverminderings omdat sy inkomste besig is om te krimp. Moontlik sal dit help as hy sy minagting vir sy teikenmark sou heroorweeg.

Dis nie slegs Engelsgedomineerde maatskappye soos MTN wat veral blanke mans minag nie. KykNET, ‘n televisiekanaal in die Naspersstal wat per definisie op Afrikaners gemik is, maak op vreemde wyse geen geheim daarvan dat hy eintlik aspireer na ‘n kykerskorps wat meestal bruin is nie. KykNET hou klaarblyklik ook nie veel van sy eie teikenmark, Afrikaners soos ek, nie. Hy beledig my en elke ander kyker derhalwe met volslae gemors soos die swaksinnige “komedie” Ali Barber of met Emo Adams se monumenteel on-snaakse program “Jou show”, wat in ‘n soort kreoolse Engfrikaans aangebied word, ongetwyfeld tot Hein Willemse se groot genot. (Let op hoe die naam alreeds die Engelse woord “show” bevat.)

KykNET het boonop die vermetelheid om advertensies wat ek as blanke, middeljarige man beledigend vind, soos die MTN-advertensie hier heel bo genoem, in Engels te beeldsend. Die meerderheid intekenare van DSTV is stellig Afrikaners soos ek, maar klaarblyklik stem dit die eienaars van DSTV tot ongemak, en sou hulle wát wou gee dat ek eerder bruin moes wees, en verkieslik iemand wat Engels of dan hoogstens ‘n pidgin-Afrikaans moet praat.

Dieselfde geld waarskynlik vir beide MTN en Vodacom. Alhoewel hulle miljoene intekenare het, is die meeste van hierdie intekenare van die voorafbetaalde verskeidenheid, wat dan en wan R29 se lugtyd koop. Hierdie is tydelike, laewaardeklandisie. Laasgenoemde het duidelik geword toe beide MTN en Vodacom miljoene intekenare verloor het agv die RICA-wetgewing.

Ek verstout my weer eens om te raai dat die meerderheid van MTN en Vodacom se hoëwaardeklandisie juis ouens soos George en ek is – blankes wat maandelikse kontrakte het en pligsgetrou betaal. Weer eens: waarom vind beide maatskappye dit dan nodig om hul mees waardevolle kliënte so in die openbaar te minag?

Lees ook Anton Barnard se woernaal, SAmizdat.

виды насосного оборудованияАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.