Regstellende aksie in die spervuur

Deel op

Regstellende aksie se Engelse naam, affirmative action, kan waarskynlik naatloos toegepas word wanneer dit ingespan word waarvoor dit bedoel is – die beskerming van minderheidsregte. Dan maak dit immers deel uit van ‘n belangrike volkeregtelike beginsel, naamlik die beskerming van minderhede wat in ‘n gewone een-mens-een-stem-stelsel aan die kortste end sou trek.

Die beskerming van minderheidsregte en selfs die toestaan van selfbeskikking en wisselende vlakke van outonomie word in die meeste moderne grondwette erken. Dit word onder meer in die Europese Unie se grondwet vasgelê wat Turkye, wat graag lid wil word, reeds gedwing het om verreikende toegewings aan die Koerdiese minderheid te maak. Die Baske wat onder Franco se bewind erg onderdruk is, geniet in die moderne Spaanse staat aansienlike outonomie, terwyl Brittanje die Skotse en Walliese parlemente heringestel het.

Indië, op wie se grondwet Suid-Afrika s’n grootliks geskoei is, erken verskeie staatkundige minderheidsbelange, soos ‘n aantal gereserveerde setels in die nasionale parlement vir die voor-Indiese inboorlingbevolking. Nieu-Seeland het weer ‘n Maori-kongres, in die handel en wandel bekend as die Maori-parlement.

Tog doen die staatkundige outonomie nie genoeg om werkplekdiskriminasie teen te werk nie. Maatreëls om hierdie skeeftrek teen te werk word dan in die grondwet ondervang, en in veral arbeidswetgewing uitgespel.

Juis omdat dit in die Suid-Afrikaanse grondwet gegrondves is – weliswaar as beperkende kwalifisering van die hoofbeginsel dat nie op grond van ras, etnisiteit, geslag en vele meer onbillik teen iemand gediskrimineer mag word nie – moet Suid-Afrika ingevolge die grondwet self sy oog op verwikkelinge in die buiteland hou. Die buitelandse regspraak wat in die oog gehou moet word, word volgens die grondwet nie beperk tot lande met ‘n Romeins-Hollandse regstelsel nie en die arbeidsreg in Suid-Afrika neem juis vele presedente vir uitleg uit die Engelse reg.

In die VSA, wat ‘n hibride vorm van die Romeins-Hollandse reg handhaaf, was daar vroeër vanjaar ‘n insiggewende regstellendeaksie-uitspraak in die hoogste hof. Dit het in wese daarop neergekom dat standaarde – in daardie geval by ‘n brandweerstasie – nie verslap mag word ter wille van raskwotas nie. Noodsaaklike dienslewering op die vereiste standaard tel meer.

In Suid-Afrika, waar regstellende aksie ontwerp is om die meerderheid te bevoordeel, sou dit onverantwoordelik wees om die terminologie, affirmative action te gebruik omdat dit nepotisme of rasnepotisme in die hand kan werk.

Buitendien sluit die Suid-Afrikaanse arbeidsreg slegs nie-gestremde blanke mans van regstellende aksie uit.

In die geval wat nou deur Solidariteit hof toe geneem word, is ‘n blanke polisievrou bevordering geweier, terwyl arbeidswetgewing hierdie kategorie mense juis onder die bevoordeeldes van regstellende aksie uitlig. Die SAPD verweer hom op sy kwotabeleid. Geen wonder nie dat grondwetkenners soos Cachalia, Davis en ander verkies om ook in Engels na corrective action eerder as affirmative action te verwys.

Word egter na die grondwet self teruggegaan, is dit duidelik dat die grondslag vir regstellende aksie nie primêr kwotas, en allermins raskwotas, in die oog het nie, maar alle individue teen wie daar in die verlede onbillik gediskrimineer is. Hier is ‘n grys area. Sedert 1994 – en eintlik in afwagting op die nuwe bedeling toe poste voor 1994 bevries is – is reeds teen blanke mans gediskrimineer.

In watter stadium sou daar dan aangevoer kan word is daar in die verlede, dws sedert 1994, onbillik teen hulle gediskrimineer?

Regstellende aksie, en veral affrimative action, is ontwerp om minderhede te beskerm; en selfs daar moet die regstoepassing gereeld in die howe hersien word.

Dit is nie ontwerp om ‘n meerderheid te bevoordeel nie, en lei tot talle ooglopende onbillikhede, in ooglopende teenstelling met die veronderstelde grondslag van natuurlike geregtigheid van die Suid-Afrikaanse regstelsel. In die huidige toepassing ontstaan die absurde situasie dat die kind van ‘n swart magnaat wat die beste privaat skole en die beste universiteite kon bywoon, steeds weens vermeende onbillike diskriminasie in die verlede voor ‘n wit kinderhuisseun wat deur deeltydse studies sy kwalifikasie behaal het, bevoordeel moet word. Teen dié agtergrond was die uitspraak voor ‘n bruin gehoor van Tokyo Sexwale, ‘n magnaat, dat hy sy bruin kinders ook nog die voordeel van affirmative action wil laat trek, uiters ongelukkig. Dit was egter as stemwerwery vir die betrokke gehoor bedoel.

Dit is egter noodsaaklik dat begin word met regsopruiming en Solidariteit se huidige regsaksies is van die uiterste belang.

справку 046-1александр лобановский харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.