Kitsdoodstraf

Deel op

Dit sal ‘n skrikwekkende gedagte wees dat iemand wat net ‘n basiese opleiding agter die rug het en geleer skiet het, die mag gegee word om te besluit oor lewe en dood. Maar is dit nie wat gebeur nie?

Die koerante is die afgelope paar dae volgeskryf oor die polisie wat deur politici en bevelhebbers aangepraat word om te skiet om dood te skiet. Vir ‘n misdaadvoos publiek is dit moontlik welkome woorde – vir die eerste keer word daar hard gepraat teen misdaad en dit lyk ook of daar hard opgetree word.

Daar is waarskynlik maar min mense wat lang trane huil oor die 17 transito-rowers wat die laaste twee maande doodgeskiet is in drie verskillende voorvalle. Die meeste van hulle was geharde misdadigers wat self nie sou stuit om ‘n lewe te neem nie.

Na die ongelukkige voorval waarin ‘n drie-jarige seuntjie per ongeluk doodgeskiet is en die uitlating van die onverantwoordelike adjunk-minister van polisie, Fikile Mbalula, dat onskuldige mense in die kruisvuur gaan sterf, was die polisie gou om daarop te wys dat geen lid van die publiek in die transito voorvalle gewond is nie.

Van die 17 rowers was minstens 15 uit op borgtog en verhoorafwagtend en almal het ‘n misdaadgeskiedenis gehad. ‘n Paar was op die polisie se soeklys.

Die nasionale woordvoerder van die polisie, senior superintendent Lindela Mashigo het gesê die polisie is trots op sy lede wat die booswigte platgeskiet het, want hulle bedreig ons vryheid en veiligheid.

Verseker het almal wat hulleself agter hoë tralieheinings wegsluit, rede om saam te juig, want minstens is daar ‘n paar minder geweldenaars op straat. Maar maak dit ons meer vry en veilig?

Die hele prentjie moet in oënskou geneem word. Hierdie misdadigers wat geskiet is, moes nooit op straat gewees het nie. Waarom was hulle uit op borgtog? Hoe kan dit wees dat ‘n groep van hulle vantevore in die hof onskuldig bevind is? Was dit ‘n geval dat die sake nie goed voorberei was nie? Is dit die oorvol tronke wat maak dat geregtigheid nie seëvier nie? En die belangrike vraag: Hoeveel transitorooftogte moet ‘n persoon pleeg voor ‘n konstabel hom in die visier kry en besluit dat ‘n kits doodsvonnis die beste oplossing is?

Natuurlik gun ons elke polisieman om homself te verdedig net soos ons dit aan elke lid van die publiek gun, maar om met die houding na ‘n toneel te gaan dat jy maar mag skiet om dood te skiet, gaan nie die gebreke in die totale regstelsel toeverf nie.

Regters wat in howe die doodsvonnis uitspreek het jare lank studeer, moet baie ondervinding hê en kan rustig al die kante van die saak aanhoor voor hulle ‘n beslissing gee en nog steeds het Radio Pretoria twyfel oor die vermoë van die regbank om in ons skeefgetrekte ideologiese bestel werklik die Bybelse opdrag uit te voer.

Soveel te meer twyfel ons aan die onderskeidingsvermoë wat iemand wat maar enkele maande lank opgelei is. Ons het al dikwels berig oor byvoorbeeld metro-polisielede wat mense wat vir ‘n vermeende verkeersoortreding afgetrek word, aanrand en rassisties beledig. Wie gaan die streep trek om te sê hulle mag nie ook sommer skiet nie?

 

ukladka-parketaАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.