Misdaadprobleem? Watter misdaadprobleem?

Deel op

ImageBesef u dat, vir minstens 70% van Suid-Afrika se bevolking, misdaad glad nie so ‘n groot probleem is as vir u nie? Dit is ú wat bykans alleen ‘n probleem het met misdaad, wat teen die hoofstroom van die openbare mening in Suid-Afrika probeer spartel. Hierdie mense het dit volledig binne hul bereik om die misdaadvlakke van die land binne die volgende drie jaar na normale vlakke te laat stabiliseer. Geen magiese kragte is nodig nie, geen ingryping deur die weermag nie, geen herinstelling van die doodstraf nie.

Deel op

In ‘n sekere sin is diegene wat die opslae oor misdaad as ‘n vorm van blanke histerie beskou, heeltemal reg. Al wat nodig is om dit te verifieer, is om na inbelprogramme oor misdaad op radiostasies met ‘n beduidende swart luisteraarskap te luister. Die klaers is oorwegend blank. Die ontkenners wat, naas hul president, inbel en die kommer oor misdaad as ‘n oordrywing van die media afmaak, is oorwegend swart.

Dit is blankes wat in peiling na peiling sê dat misdaad die land se nommer een probleem is. Dit is blankes wat emigreer en sê dat hul hoofrede vir emigrasie misdaad was. Dit is die grootliks blanke ATKV wat hul tyd mors met nóg ‘n futiele SMS-petisie wat op dowe ore gaan val en inherent geen resultaat kan oplewer nie. Dit is blanke sangers wat buite die hof demonstreer teen verkragting. Die stilte uit meeste swart musici se monde is bykans oorverdowend. Dan en wan word ‘n verkragter deur ‘n boendoehof vermoor, maar die meerderheid lewe grootliks in ‘n toestand van apatie teenoor misdaad.

Die 70% van die bevolking waarna ek hierbo verwys het, is natuurlik die massa stemvee wat die ANC-regime telkens gehoorsaam terugstuur parlement toe met ‘n verhoogde meerderheid. Aangesien verkiesings in Suid-Afrika bloot reduseer tot ‘n neerdrukkende en sinnelose rassesensus, is hierdie 70% oorweldigend swart, met kleiner aantalle kleurlinge en Indiërs. As misdaad vir hulle wel ‘n probleem van dieselfde omvang as vir blankes was, kon hulle eenvoudig hul regter- of linkerhande gebruik by die volgende verkiesing, en die ANC-regime van die tafel vee.

Hulle alleen as ‘n groep, en nie kleurlinge, Indiërs of blankes nie, het die vermoë om op ‘n effektiewe wyse hul misnoeë met misdaad te kenne te gee. As hulle wou, kon hulle ‘n heilige vrees by die regering van die dag oor misdaad inboesem, deur eenvoudig te dreig om hom te vervang met een wat wel oor misdaad omgee. Hoe ‘n volgende regering sou maak om misdaad hok te slaan, sou blote taktiese oorwegings en detail wees, maar as diegene met die nodige demografiese mag werklik erns gehad het oor misdaad, sou enige regering wat aan bewind wou bly, verseker het dat misdadigers ‘n bedreigde spesie word.

Dit gebeur egter nie. Vir die meer as 70% ANC-kiesers is rresident Mbeki se sienings oor misdaad klaarblyklik reg: vir hulle bestaan daar nie ‘n misdaadkrisis nie, is die probleem oordrewe of is dit van mindere belang. Ek gee nie voor ek verstaan die swart psige nie, maar daar kan verskeie redes hiervoor wees. Een skokkende rede kan wees dat misdaad nie deur baie van die ANC se kiesers as verkeerd gesien word nie. Tony Yengeni se helde-ontvangs by sy vrylating spreek boekdele oor die dissonansie tussen wat u as blanke dink verkeerd is, en wat die ANC-regime en vermoedelik hul ondersteuners as verkeerd beskou.

Uit hoofde van bostaande het ek daarom min erg aan die geykte cliché dat misdaad swart én wit raak. Dit mag so wees, maar hoeveel simpatie ek vir diegene het wat die mag het om iets aan hul eie lot te doen, maar dit nie uitoefen nie, is debatteerbaar. Anders as blankes kan swart kiesers hulself bevry van misdadigers. Myns insiens spreek die ANC-kieser se hoogstens ambivalente houding teenoor misdaad net weereens van die diametries teenoorgestelde prioriteite en waarskynlik onoorkombare botsings van belange van die radikaal verskillende volke wat hierdie grondgebied moet deel.

{mos_mb_discuss:13}

хорватия апартаментыАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.