Manny Pacquiao – ‘n legende tussen toue word gebore

Pacquiao vs Cotto
Deel op

Pacquiao vs CottoBoks is die sportwêreld se skuldige plesiertjie, ‘n polities bedenklike anachronisme waarin gebreide, doelgerigte mans die teer uit mekaar slaan in ‘n wêreld waar blote verwysing na ‘n persoon se velkleur sy wêreld in duie kan laat stort en die spreker as’t ware vir ‘n steniging kan voorberei. Die waarheid is dat boks beide deelnemer en toeskouer op ‘n oervlak raak en diep instinkte aktiveer. Dit is so moeilik om te verduidelik hoekom ‘n skynbaar opgevoede mens ‘n vreugde daarin vind, net so moeilik om die aantrekkingskrag daarvan om ‘n staalhoek deur ‘n kabeljou se lip te kap en die vis met ‘n tou uit die water tot op die strand te sleep te beskryf.

Die een prikkel wat ons wél kan verduidelik is dat boks oor stories gaan, verhale van heldedade, swakhede, oorwinning en nederlaag. Vir die boksaanhanger is daar ‘n weelderige heldesaal van vegters en gevegte: Rocky Marciano teen Jersey Joe Walcott, van Duran teen Leonard, Ali teen Frazier, Hagler teen Hearns. In ‘n tyd waar ‘n swaard, ‘n spies of ‘n skild nie vir die gladiator beskore is nie, is toue, ‘n vierkantige kryt en twee verbete vegters die stoffasie waarvan legendes gemaak word. Elke vegter en elke geveg het sy eie storie, meeste van hulle onopvallend, selfs vervelig en alledaags. Maar soms word twee boksers se loopbane vir ‘n driekwartier teen mekaar vasgeslinger en word daar iets glorieryk uit gebore. Gisteroggend, SA tyd, is ‘n inskrywing in die bloemlesing van helde geskryf toe twee vegters van gemengde Latynse agtergrond teenoor mekaar agter hulle vuiste ingeklim het.

Albei boksers het reeds hulle verse in die groot drama van boks geskryf. Die weltergewigkampioen was Miguel Cotto van Puerto Rico. Hy is dik van skedel, swaar in die skouer, gefokus en ernstig en ‘n nasionale held. Die uitdager is ‘n opgeruimde bossiekop van die Filippyne, met ‘n muilbandbaardjie soos Roberto Duran s’n en ‘n veglus wat aan dié legende, die geroemde “hande van klip” herinner. Mannie Pacquiao het ‘n ongekende opmars deur gewigsklasse gemaak, ‘n oorheersing van vlieggewig tot superliggewig.

Die eerste ses rondtes van die geveg is vir die boksaanhanger wat Maria Callas se 1953 Lucia di Lammermoor in La Scala vir operacognoscenti is. Cotto het die eerste rondte doelgerig en doeltreffend begin deur ‘n onweerstaanbare aanval, reg in die kanaal tussen Pacquiao se handskoene deur. Die Filippyn het sy ratsheid gebruik om ernstige strukturele skade vry te spring. Cotto self was ligter op sy tone en vinnig genoeg oor die kryt dat dit gelyk het asof sy groter krag die magsbalans na hom toe sal laat kantel. Maar in die derde rondte het Pacquiao, in die gevaarakker teenaan Cotto,  met die skielikheid van ‘n slagyster toegeslaan. ‘n Warrel van haakhoue uit onmoontlike rigtings het lyf toe en kop toe geknal en ‘n meesterlike kortlinker het Cotto van sy voete af geslaan.

Cotto, in trurat maar met sy gevaarlike grofgeskut in posisie, het die rondte oorleef. Daarna was dit ‘n weerligreën van houe, teenhoue, van taktiese voetwerk en aanvalle. Verdediging is deur albei boksers ingeboet vir die kans om ‘n voltreffer te land. Die skrif was nog nie teen die muur vir Cotto nie, maar die pen is in die inkkannetjie gedoop toe dit duidelik word dat Pacquiao nie net in staat is om in ‘n uitgerekte kortafstandsloegfees teen Cotto te bly staan nie, maar dat hy skokkend genoeg daarop gedy  het. Van die agste rondte het Cotto, sy gesig wat teen die tyd gelyk het soos ‘n knoffelpolonie wat uit ‘n baie hoë gebou geval het, verrassend genoeg verdedigend begin boks, deur agter sy piklinker terug te val, duidelik bedag op oorlewing eerder as  oorwinning.

Pacquiao het hom meedoënloos van hot tot haar agtervolg en, wanneer hy die toegangsroetes kon afsny, Cotto met blitsende vuiste gekasty. In die laaste rondte het hy Cotto finaal vasgekeer en bestook totdat die skeidsregter homself tussenbeide gewerp het om die verslane kampioen verdere vernieling te spaar.

Manny Pacquiao is een van twee boksers wat ‘n sinvolle aanspraak op die mees gesogte titel in boks – beste vegter, pond-vir-pond – het. Die ander is Floyd Mayweather, junior. In hedendaagse boks is hierdie die droomgeveg, ‘n Hector-vs-Achilles-stryd waarna elke bokskyker uitsien.

Barbaars, ja, miskien, maar só ‘n vertoning herinner ‘n mens net weer aan die glorie wat in die eenvoudige kryt gevind kan word.

инструмент автоэлектрикаОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.