‘n Afrikaner in Skotland – die goeie deel

Image‘Soo, where yoo from, miss?  Gêrmany?’

Hulle hoor onmiddellik dat ek nie ‘n Skot is nie.

‘No, I’m from another continent.’

‘Pooland?’

‘That’s the saeme continent, yoo idiot!’ roep iemand anders tot almal se vermaak. Ek skud my kop en rol my oë gemaak ongeduldig en geniet die nuwe aksent.

‘It’s in the southern hemisphere,’ gee ek hulle nog ‘n leidraad.

‘Mexico! Amaêrica! Austraêlia!…’

Tot iemand uiteindelik reg raai. ‘Africa!’

‘Well done! I’m from South Africa.’

‘n Silte daal oor die klas neer en ‘n outjie steek sy hand op.

‘Hoe come yoo’re white if yoo’re from Africa?’

Op daardie oomblik het ek geweet: Skotland gaan ‘n tuiste word.

Ons het aanvanklik besluit om noord te trek as gevolg van die oorbevolking in Engeland. Dít, eerder as die hoë lewenskoste en besoedeling naby Londen, het ons gemotiveer om onsself weer eens te ontwortel. My man begeer al jare lank om in Skotland te woon, waarskynlik as gevolg van fantasieë oor die wilde Wikinge en die oorvloed enkelmoutwhiskey. Na ‘n kort vakansie in Edinburgh en Fife, het die skoonheid en andersheid van die omgewing my ook oorweldig en was dit nie moeilik om die finale besluit te neem nie. En hier is ons nou!

Ek het begin werk soek en moes weer van voor af goedkeuring kry om onderwys te gee. Mens sou dink my kwalifikasies en blink-nuwe Engelse onderwysregistrasie sou genoeg wees, maar nee. Die Skotte vertrou hulle bure omtrent net soveel soos ‘n skaap ‘n honger wolf en dus moes ek opnuut aansoek doen vir onderwysregistrasie. Enige voornemende onderwyser wat belangstel om hier te kom werk, kan gerus kennis neem van die feit dat die  Skotse registrasieproses soveel meer gebruikersvriendelik as díé van Engeland is, veral vir Suid-Afrikaners.

Die komplekse verhouding tussen die Engelse en Skotte is vir my as buitestaander ‘n bron van vermaak – seker vergelykbaar met die gekibbel tussen die Transvalers en Kapenaars. Vandat ons ons planne om na Skotland te verhuis bekend gemaak het, het ons Engelse vriende luidkeels hulle misnoeë te kenne gegee. Dit sou meer aanvaarbaar wees om na Suid-Afrika terug te keer, maar Skotland toe?!

‘It’s too cold there, you’re crazy!’

‘Uh, you know, we are from South Africa, the weather is kind of relative,’ het ek probeer verduidelik.

Maar hulle het gedink ons is van lotjie getik, behalwe die enkelinge wat hou van golf en rugby. Vir hulle het die skuif min of meer sin gemaak. Een van my kollegas het my in haar deftige aksent meegedeel dat die Skotte agterlik is, maar aangesien ons van Afrika kom sou ons miskien tuis voel … A-hemmm!!! Dat ‘n opgevoede persoon so stompsinnig kan wees gaan my verstand te bowe, maar soms kan die Engelse te veel van hulself dink. (Nes die Kapenaars.)

Die meeste Engelse dink nie veel van hulle Skotse bure nie, en dit wil voorkom of die gevoel wederkerig is. Die antagonisme is geskiedkundig van aard: ‘n eeu-oue stryd om grond, godsdiens en rykdom, en dit ten spyte van ‘n bykans identiese genetiese oorsprong.  Klink dit bekend? Om Steven Spielberg losweg aan te haal: ‘Same shit, different country.’

Die mees opvallende kenmerk van die Skotte is hulle gemoedelikheid en sin vir humor. Nie die geforseerde jovialiteit van die Amerikaners, wat jou omhels en onmiddellik jou naam vergeet nie, maar ‘n opregte belangstelling in mens as individu. Die Skotse boorlinge is van nature gasvry en hulpvaardig. Nuuskierig ook; as buitestaander is dit lekker as iemand in jou belangstel. In die klaskamer, in die winkels en by die veearts word ek steeds uitgevra waar ek vandaan kom, van presies watter deel in Suid-Afrika, waarom ons in Skotland woon en die vraagsteller het gewoonlik ‘n eie brokkie nuus oor of perspektief op Suid-Afrika. In gesprekke van geskiedkundige en politieke aard is dit duidelik dat die Skotte en die Afrikaners baie in gemeen het: hulle het tydens die ‘Highland Clearances’ in die laat 18de eeu hulle eie apartheid beleef, hulle ervaring van die inmengery en geboelie deur die Engelse, asook die interne debatte en konflikte rondom godsdiens en nasionale identiteit wat vandag steeds voortduur. Raakpunte soos hierdie lei daartoe dat ons empatie met mekaar het.

Ons woon al amper vier maande hier. My Skotse aksent verbeter daagliks – volgens my kollegas – want elke dan en wan glip vreemde woorde soos ‘wee’ en ‘aie’ uit. Ons is gelukkig hier, beplan nie om na ons Moederland terug te keer nie. Hierdie unieke volk, met hulle geheimsinnige voorvaders en kleurvolle geskiedenis, begin wortel skiet in ons harte.

‘For that is the mark of the Scots of all classes:

that he stands in an attitude towards the past

unthinkable to Englishmen, and remembers and

cherishes the memory of his forebears, good or

bad; and there burns alive in him a sense of identity

with the dead even to the twentieth generation.’

 

Robert Louis Stevenson

Voordat Skotland egter soos ‘n nuwe Utopie klink, sal ek in my volgende bydrae ook minder aangename ervaringe deel – van spelfoute in koerante tot ongepoetste skoolseuns.

мультики про монстров хай

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.