Zille bring hulde aan Progressiewes

Helen Zille
Deel op

Helen ZilleMe. Helen Zille, leier van die DA, het gister hulde aan die Progressiewe beweging in Suid-Afrika gebring, wat vanjaar 50 jaar oud is en waarvan sy reeds veertig jaar lid is. In 1959 het ‘n groep van twaalf Verenigde Partylede uit die destydse opposisie weggebreek om die meer liberale en anti-Afrikaanse Progressiewe Party te stig.

Zille beweer dat die Progressiewes nog altyd die swart Amerikaanse burgerregteleier Martin Luther-King se gedagte gevolg het, naamlik dat “mense eendag op die inhoud van hul karakter beoordeel sal word en nie op velkleur nie”. Sy het benewens haar huldebetuiging aan Jan Steytler, Helen Suzman, René de Villiers, Zach de Beer, ook die ontslape miljardêr Harry Oppenheimer van Anglo American en De Beers uitgesonder as iemand wat die Progressiew Party aan die gang gehou het toe dit min steun onder Suid-Afrikaanse blankes geniet het.

Tydens die eerste verkiesing ná die twaalf Progressiewes weggebreek het, het elf van hulle hul setels verloor en het slegs mev. Suzman, danksy Joodse steun in die Houghton-kiesafdeling, haar setel behou. Mev. Suzman het jare lank as enkele Progressiewe LV die Nasionale Party in die destydse Volksraad gekasty en ongemaklike vrae oor die regering se rassebeleid gevra.

Vandag het die wiel egter gedraai en mnr. Ton Vosloo, die voormalige redakteur van Beeld, oudvoorsitter van die Broederbond en huidige voorsitter van Nasionale Pers het onlangs in Rapport insgelyks sy dank en bewondering teenoor mev. Helen Suzman uitgespreek.

Ten minste onder die blanke bevolking van Suid-Afrika, het die ultraliberale idees van die Progressiewe Party geseëvier, met tagtig of negentig persent van sowel Engelse as Afrikaners wat die Demokratiese Alliansie by die stembus ondersteun.

Volgens Helen Zille het die Demokratiese Party tydens sy samesmelting met die Nuwe Nasionale Party, die Oudnasionaliste tot die Progressiewe en liberale waardestelsel bekeer. “Toe die Demokratiese Alliansie gevorm is, wat die NNP en die DP bymekaar gebring het, het vele mense gesê dat ons ons siele verkoop het. Maar ons het voortgegaan in die geloof dat, ten einde ‘n mededinger in die stryd om mag te word, ons na mense moes uitreik wat ons nooit tevore ondersteun het nie en hulle tot ons saak moes bekeer, eerder as wat ons ‘n eiegeregtigde, geslote kringetjie moes bly. Ons het die belang – en die risiko’s – van groei verstaan. Vandag, dink ek sou ons almal kon sê dat dit die moeite werd was.

“Dit is hierdie standvastigheid van geloof en aanpasbaarheid in ons strategie in die aangesig van teenkanting wat ons deur die afgelope vyftig jaar gedra het en wat ons sal aanhou dra oor die volgende halfeeu.”

Me. Zille meen verder dat die onderhandelings by Kodesa in die vroeë negentigerjare “‘n oorwinning vir ons intellektuele tradisie” was. Volgens haar is die Kodesaplan en die huidige SA grondwet “sy wortels in die Molteno-kommissie wat deur die Progressiewe Party in 1961 opgerig is, waarvan Colin Eglin lid was. Dit het ‘n nasionale konvensie voorgestel, asook ‘n beskermde grondwet, ‘n handves van regte, ‘n gemeenskaplike kieserslys, ‘n gedefinieerde rol vir die provinsies en ‘n onafhanklike regbank. Soos ‘n joernalis onlangs geskryf het, ‘Indien dit alles bekend klink, behoort dit so te wees: dit is presies waaroor by Kodesa in die vroeë negentigerjare ooreengekom is.'”

Die leier van die amptelike opposisie meen dat die ANC en die Nasionale Party van destyds eintlik twee kante van dieselfde munt is. ANC-beleid “het sy wortels in die apartheidsregime en is geesdriftig deur elemente in die regerende party aangeneem in wat dalk die grootste ironie van ons tyd is. Dit is die geslote, baantjies-vir-boeties-samelewing met al die kenmerke van die apartheidstaat: diegene met politieke konneksies word voorgetrek, onafhanklike instellings word ondermyn in diens van die ‘nasionale belang’ en mense word na gelang van rasseverdelings gemobiliseer om die buitensporighede van die bewind te legitimeer. Vele in die regerende party hou dié mening voor en definieer dit op lagwekkende wyse as progressief.”

In weerwil van haar kritiek op die ANC as ‘n pseudo-progressiewe party, meen sy tog dat haar mede-Engelssprekende in die ANC, Barbara Hogan, “se toespraak (Vrydag) in die parlement toon dat daar diegene in die ANC is wat konstitusionalisme op dieselfde manier as ons verstaan. Sy is nie die enigste nie: net die mees aktuele voorbeeld.”

Sy bepleit ‘n herskikking van die Suid-Afrikaanse politiek om liberales en progressiewes wat in menseregte en grondwetlike regering glo, ook binne die ANC, in een party saam te snoer en diegene wat mense op ‘n rasse- of etniese grondslag wil mobiliseer, op “die teenoorgestelde oewer van Suid-Afrika se politieke rivier te laat”.

raider tombФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.