Antjie Krog – Beroepsafrikaner en nar

Deel op

Vandag lees ek ‘n verwysing na Antjie Krog in ‘n power rubriek van Tim du Plessis raak waarin hy sê: “as Afrikaanse mense in die nuwe orde kritiek lewer, ‘sterf’ hul woorde in hul ‘Afrikanermonde'”.

Dit prikkel my toe om na Tannie Antjie – die vrou is seker nou al amper sestig en daarop geregtig om met dié eretitel aangespreek te word – se artikel in die Sunday Times te gaan soek. Vir eens werk die ST se soekfunksie en siedaar! ek vind A new ancestor for our alienated Afrikaner youth.

Dis die gewone mengeldrankie van wodka uit die Onsamehangende bottel met ‘n goeie skeut wit skuld daarby, “geskud, nie geroer nie”, soos James Bond sou sê. Vanmôre was Eugene Terre’Blanche op RSG en skielik skiet die gedagte my te binne: Tannie Antjie en Oom Eugene het soveel in gemeen, hulle behoort onderbroeke met of sonder gate uit te ruil.

Want sowel Antjie Krog as ET verteenwoordig die hofnarre van ‘n globale gehoor wat hulself as “Afrikaners” voordoen. ET met sy manne in uniform, swastikavlag en histrioniese stemtoon, asook AK met haar mantel van wit skuld en popsielkunde dramatiseer twee aspekte van die Afrikanerstereotipe: eersgenoemde verpersoonlik die Afrikaner as mislukte opstandeling en laasgenoemde as onderdanige hensopper en Anglo-Amerikaanse rokspantneet.

Behalwe enkele joernaliste en Adriaan Vlok, ken ek geen Afrikaners wat “skuldig voel oor apartheid” nie. Of miskien voel ‘n klomp Afrikaners skuldig – omdat hulle in 1992 tydens die referendum “ja” gestem het. Nie net het ‘n enkele geslag Afrikaners en hul leiers alles verraai waarvoor hul voorgeslagte bloed gesweet het nie, maar hulle het ook die toekomstige geslagte van hul geboortereg en hul vryheid beroof; voorwaar iets om oor skuldig te voel!

Alle verraad – soos alle patriotisme – wentel om identiteit. As iemand wat haar rug op haar eie mense gedraai het, verkeer Antjie Krog onder die indruk dat almal dieselfde identiteitskrisis, dieselfde aangetrokkenheid tot die ANC-identiteit as sy ervaar. Dwarsdeur Suid-Afrika en selfs oorsee is daar ‘n paar miljoen Afrikaners wat geensins twyfel oor hul herkoms of lojaliteit nie.

Krog het vandeesweek weer ‘n krater van haarself gemaak deur te beweer dat Julius Malema se uitsprake verkeerd vertolk word; hy wil maar net hê ons moet hom as swartman verstaan.

In hierdie tydvak van regstellende aksie, swart bemagtiging en alles wat daarmee saamhang, verkeer ons almal onder die indruk van hoe belangrik dit is om swart te wees. In ander samelewings, soos in die VSA en veral in Hollywoodfilms, kry ‘n mens iets soos ‘n “token black”, wat die Hollanders ‘n Beroepsneger noem. Antjie Krog en haar eindelose spekulasies oor die Afrikanerpsige wat sy in Engelse koerante of voor buitelanders lewer, is insgelyks ‘n Beroepsafrikaner, iemand wat ‘n onbelangrike en eintlik vreemde element in ‘n ander kultuur moet verteenwoordig. Sulke mense word gewoonlik gekies op grond van hul toepaslikheid vir die vreemde of meerderheidskultuur.

Antjie Krog is, vanuit die ANC-bewind of die buiteland se oogpunt die “ideale” Afrikaner. Sy is ‘n mak Engelse persoon wat haarself in die Rooitaal uitdruk en slegs ‘n geringe nostalgie oor ‘n kwynende Afrikaans en Afrikanerskap voel. Enigeen kan haar aan ‘n leiband rondlei as ‘n voorbeeld van ‘n “gebore Afrikaner wat tot inkeer gekom het en nou haar onderdanigheid teenoor swartes haar lewenstaak gemaak het”. Haar gunstelingvergelyking  vir die Afrikanergeskiedenis is met Nazi-Duitsland. Soos die Nazi’s, het ons ‘n “misdaad teen die mensdom” gepleeg. Daarom voel sy is dit haar opdrag “om die regering te beïnvloed om nie te doen wat (die Afrikaner) gedoen het nie”. Vermoedelik sluit dit die oprigting van suksesvolle kragstasies en werkende staatshospitale in, iets waarvoor ons gelukkig nie die ANC kan kwalik neem nie.

Angjie Krog se histrioniese openbare vertonings van Afrikanerverraad en selfverguising – tot groot vermaak van die Afrikaner se binnelandse en buitelandse vyande – vind die volmaakte teenhanger in Eugene Terre’Blanche se ewe teatrale demonstrasies van platvloerse, kwasi-militaristiese patriotisme.

Buitestaanders kan vir albei ewe hard lag. Albei is ewe dom en bevestig die vermoede dat Afrikaners verdien om verdruk en stadigaan vanuit Suid-Afrika gesuiwer of ten minste geassimileer te word, synde ‘n volk wat uit gekke en narre bestaan.

Dat enigeen vir Antjie Krog ernstig kan opneem, is op sigself ‘n aanduiding van watter verwronge beeld van Suid-Afrika daar in die wêreld bestaan. In een opsig mag dit ons tot voordeel strek, in dié sin dat die Engelse media en die buiteland byna niks van Afrikaners verstaan nie.

Benewens haar narrestatus, mag Antjie Krog die volmaakte verspreider van disinformasie oor Afrikaners wees. Ons word as skuldig, verward, dom en onderdanig gesien. Iewers in Soen-Tsoe of Von Clausewitz was daar mos iets oor: “As jy sterk is, laat die vyand dink jy is swak. En as jy swak is, bring die vyand onder die indruk van jou krag.”

строительство домов изЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.