Terwyl die wêreld se oë op die sterftesyfer in die konflikteater in Afghanistan gerig is, het ‘n meer opspraakwekkende dodetal aan die lig gekom in ‘n land wat veronderstel is om voorspoed en vrede te beleef.
Uit statistieke van die landbou-organisasie TLU SA blyk dit dat 91 Britse soldate vanjaar in die oorloggeteisterde Afganistan dood is, terwyl minstens 111 mense in dieselfde tydperk in plaasmoorde in Suid-Afrika dood is.
“Omdat die polisie nie amptelike statistieke bekend wil maak nie, is ons afhanklik van mediaberigte om ons syfers op datum te hou,” het Chris van Zyl, assistent-hoofbestuurder van TLU SA, Woensdag aan Beeld gesê.
Die afgelope agt jaar het 232 Britse soldate in Afganistan gesterf, terwyl 292 mense in net vier jaar in plaasaanvalle in Suid-Afrika dood is.
Die voorsitter van Agri-SA veiligheidskomitee, André Botha, sê onverantwoordelike uitsprake deur politici en senior staatsamptenare is die oorsaak van plaasaanvalle.
Botha sê huisrooftogte, kapings, verkragtings en veral veediefstal het aansienlik toegeneem.
Volgens Botha is TLU SA se syfers “konserwatief”.
Die polisie het Agri-SA se nasionale veiligheidskomitee vandeesweek op ’n vergadering in Centurion blykbaar versoek om nie die statistieke bekend te maak wat die polisie aan hulle gegee het nie.