Padtoets! Chevrolet Cruze bied weelde én waarde

Deel op

Ons motorredakteur, André Olivier, het ‘n paar dae met ‘n Chevrolet Cruze wat deur GM Suid-Afrika aan PRAAG geleen is, deurgebring. Hier is sy indrukke.

Ná al die drama wat die afgelope 12 maande reg oor die wêreld in verskeie ekonomieë ondervind is, het daar ‘n vars briesie by ons deur ingewaai. General Motors was die afgelope 18 maande onder hewige druk om van al die dooie hout ontslae te raak. Die dooie hout was nie net te veel personeel vir te min werk nie, maar ook sommer ‘n hele klomp bekende name van vervaardigers wat nie meer winsgewend was nie. Ons dink maar aan Hummer, Opel, en Saab. Die Opel-sage is nog nie heeltemal verby nie, alhoewel Magna, die reuse gereedskapsvervaardiger uit Kanada, die Opel-handelsmerk gekoop het, sal net die tyd leer of hulle sal kan voortbou op die tradisie wat Opel oor die afgelope 100 jaar gevestig het. Nou is General Motors (GM) hoofsaaklik weer Chevrolet en Chevrolet alleen. Die motor wat as Chevrolet se nuwe “wêreldmotor” bekendstaan en dan ook die beursie sal moet vol maak, is die Cruze. Anders as vorige Chevrolet-sedanmotors lyk die Cruze nie na ‘n groot tenk nie. Hy voel ook nie soos een nie. Jy kan jou amper verbeel jy sit in ‘n Lexus IS of ‘n baba-Cadillac.

Europese stilering

Die Cruze is in Korea ontwerp; die span het bestaan uit Duitsers, Amerikaners en Australiërs. Hierdie is ‘n Chev wat op die Europese mark gerig is. Van voor is dit ‘n moderne storie wat nie eintlik na enige iets anders lyk nie. Die groot hoofligte vou om die neus en trek met ‘n skerp punt na bo, nogal anders, maar mooi. Van agter herinner die Cruze jou aan ‘n kruising tussen ‘n Chrysler Sebring en ‘n Corolla. Die bagasiebakdeksel laat ook die vorige 7-reeks BMW in my gedagtes opskiet. Die syprofiel en veral die voorste wielboë lyk of dit familie van ‘n Lexus IS kan wees of miskien die Mazda 6, beide Japannese motors wat gemik is op Europa en Amerika. Die motor het ‘n lang neus en ‘n kort agterstewe wat dit ‘n aggressiewe houding op die teerpad te gee. GM het die wiele op elke hoek staan gemaak en die hele motor hurk laag met groot 17-duimbande en allooivellings. Die deure maak wyd oop om toegang tot die binneruim gemaklik te maak. GM het seker gemaak dat al die panele perfek pas. Die daklyn wat in een ronding van voor na agter loop, laat die Cruze soos ‘n koepee vertoon. Dit is die eerste keer dat hierdie tipe stilering in die C-segment gebruik word. Daar is net skoon lyne, geen blink fieterjasies nie, niks plastiek-aanplakstroke nie, net skoon, skerp lyne. Kyk ‘n mens na die paneelgapings of eerder die gebrek daaraan, dan wonder ‘n mens nogal hoe GM dit reg gekry het, want hierdie soort kwaliteitlyne is gewoonlik net op baie duurder modelle te sien.

Binneruim

Maak die deure oop en skuif agter die leerbedekte stuurkolom in. Alles lyk modern en vars. Die stowwe wat gebruik word in die Cruze en spesifiek die LT-model wat ons onder hande gehad, is puik. Harde, duursame plastiek gekombineer met aluminium en sagte grys leer span alles mooi saam om die Cruze daardie duursame gevoel te gee. Daar is nie net die gevoel van “Britse” weelde nie, maar ook die “Duitse” gehaltegevoel en die “Japannese” sin vir doeltreffendheid. ‘n Gevoel van doelgerigtheid soos net die Koreane dit kan doen, kom ook sterk na vore. Iets wat wel ontbreek, is die tipiese “Amerikaanse” belewenis. Hierdie is ‘n Chev, maar hy voel nie soos ‘n groot Amerikaanse skip nie. Kopruimte reg deur die motor se binneruim is uitstekend en beenruimte voor, sowel as agter, is meer as genoeg vir ‘n C-segmentmotor. Die Cruze is nie verniet die segmentleier wat beenruimte vir die agterste passasiers betref nie. Daar is sitplek vir vyf volwassenes en alles in die grootste gemak. Enige iemand wat al agter in ‘n 3-reeks of ‘n A4 gesit het, sal weet dat daar maar net net nie genoeg spasie is vir ons groot Boerseuns nie. Sit jy agter, is die sitplekke ook diep en die skouerlyn van die agterruite is hoog, net soos in die Lexus IS. Agter die stuur is dit ‘n gemaklike plek met al die kontroles op die regte plekke, groot ronde knoppe om die radio en outomatiese klimaatbeheer te verstel. Alles is logies en maklik bereikbaar. Die LT-model is toegerus met satellietknoppies op die leerbedekte stuurwiel vir die radio sowel as die togbeheer. Daar is outomatiese klimaatbeheer en ‘n 6-skyf voorlaai-CDspeler met ses luidsprekers. Die instrumente is reg voor die bestuurder en die enigste ding wat pla is die hoek waarteen die bestuurder na veral die spoedmeter kyk. Dit is effens hinderlik as sonlig daarop weerkaats. Om die ritrekenaar te werk, moet ‘n mens ook jou vat ken want die rekenaar se kontrole is op die linkerkantste armpie langs die stuurwiel geleë en dit is ‘n ronde ringetjie wat gedraai moet word en nogal moeilik om te doen terwyl jy bestuur. Die klankdemping binne die Cruze is ook goed en die feit dat die enjin klink of hy bietjie hard werk, is net steurend as jy haastig raak.

Enjin

Die Cruze is beskikbaar met twee petrolenjins met verplasings van 1,6 liter en ‘n 1,8 liter-brandstofinspuiting. Daar is drie toerustingvlakke, die L, LS en LT. PRAAG het die vlagskip 1,8 LT onder hande gehad. Die enjin is die bewese GM-familie-enjin, die Ecotec wat dwarsdeur die jare in veskillende GM-motors diens gedoen het. Die LT is toegerus met ‘n 1,8-liter dubbele bonokasenjin wat 104 KW ontwikkel. Die redelike wringkrag van 176 NM word by 3 800 toere ontwikkel. Dit is nogal heel respektabel vir ‘n 1,8-literenjin. Die motor se kragbron voel teen hoër toere of hy effe sukkel om die bakwerk op spoed te kry, maar ry besadig en alles verloop seep glad. Die Cruze word deur die voorwiele aangedryf deur ‘n sesspoed- outomatiese ratkas; ja daar is net ‘n outomaties in die LT-gewaad beskikbaar, nogal jammer. Chev moes so bietjie meer aandag gegee het aan die ratkas;na ons mening is dit die swak skakel in die Cruze. Die ratkas is heeltemal te sensitief; hy skakel gans en al te gou oor na ‘n hoër of laer rat, veral as daar teen ‘n opdraande uit gery word. Wanneer jy haastig raak, is dit ook asof die ratkas nie kan byhou nie; hy weet nie watter rat om te kies vir watter toestande nie. Dit was nogal baie steurend veral as jy net rustig op ‘n Sondagoggend ‘n bult moet uitry op pad kerk toe. Om die verrigting van die motor te toets, het dit ook baie geduld gekos omdat die ratkas die heel tyd wil inmeng met wat die bestuurder besig is om te doen.

Veiligheid

Die Cruze LT is toegerus met 15-duimremskywe aan al vier die wiele, die allooivellings is oorgetrek met 17-duimrubber. ABS-remme sowel as EBD (elektroniese remverdeling) is standaard in die Cruze. Daar is ook nie minder nie as ses lugsakke om die insittendes in die geval van ‘n botsing te beskerm. Sportleersitplekke wat genoeg sy- en rugsteun bied, hou ook die passasiers styf in die driepuntgespestelsel wat nog voor die impak van ‘n botsing styf trek. Daar is ‘n SDM-stelsel wat die lugsakke beheer. Die stelsel monitor die tipe impak en besluit dan in millisekondes watter lugsakke moet hoe hard en hoe vinnig ontplooi word. Ander veiligheidskenmerke is die voetpedale wat weg vou tydens ‘n botsing; energie-absorberende materiaal is reg deur die passasiers kajuit gebruik om enige impak op die insittendes so lig as moontlik te prober maak. Die sitplekke is ook toegerus met die ISOFIX-stelsel waar kinderstoeltjies op enige sitplek veilig vasgemaak kan word. GM het tot aan die mense om die Cruze gedink toe hulle hom ontwerp het. Sou jy dalk ‘n voetganger raak ry, is die Cruze se neus so ontwerp dat die voetganger se kop nie ”n harde deel van die motor tref nie. Daar is ‘n energie-absorberende spasie tussen harde dele soos die enjin en die enjinkap ingebou juis vir die manne wat nie kyk waar die motors ry nie.

Verrigting

Tydens ons rukkie met die Chevrolet Cruze LT het ons verskeie paaie in stadsverkeer, op die oop pad en ‘n kombinasie van die twee gery. Die Cruze voel kragtig genoeg, maar soos ons vooreen genoem het, is die ratkas dalk die swak skakel hier. Volgens GM kan die Cruze 190 km/h haal, met ‘n 0-100 km/h-tyd van 11 sekondes. Ons kon die 11 sekondes tot by 100 km/h maklik bereik, maar het na vele proberslae afgesien van die topsnelheid van 190 km/h. Dalk is dit omdat die motor slegs 2 500 km op die afstandsmeter het. Die gemiddelde brandstofverbruik oor ons toetstydperk was 12,1 liter per 100 km wat na ons mening heeltemal te hoog is vir dié tipe motor. Met ‘n 60-literbrandstoftenk beteken dit dat die Cruze skaars 500 km gaan haal met ‘n vol tenk brandstof. Dalk was dit weereens omdat die motor nog nuut is en nie mooi ingeloop nie.

Toerusting en ruimtes

In LT-gewaad is die Cruze nogal heel volledig toegerus met alles wat ‘n mens in veel duurder motors sou aantref. Wegvoubare kantspieëls, ten volle toegeruste leerbekleedsel met agterste wegvoufunksie, elektriese ruite voor en agter, outomatiese truspieeltjie in die dak, ritrekenaar en ten volle outomatiese klimaatbeheer. Dan is daar nog outomatiese hoofligte met wegstapfunksie en outomatiese reënveërs. Ons toetsmotor was boonop met ‘n outomatiese sondak toegerus. Daar is bekerhouers voor en agter, bêresakke agter die sitplekke vir allerhande geite. Daar is ook parkeerogies wat waarsku wanner jy te naby ‘n voorwerp is wanneer jy agteruit ry vir dié van ons wat sukkel om agteruit te parkeer. Die bagasieruim sluk ‘n enorme 450 liter se bagasie wat dan ook van die grootste in die klas is. Agterste beenruimte is 917 mm, ook ‘n leier in die segment. Om alles te kroon, gee GM nog ‘n 5-jaar 120 000km-waarborg met padbystand. Daar is ook ‘n 3-jaar 60 000km-diensplan; dienste moet elke 15 000 km gedoen word.

Prys

Teen R244 440 is die Chev Cruze LT nie sleg geprys nie. Die motor bied goeie waarde vir geld in die klas waarin hy meeding. Wanneer ‘n mens kyk na die mededinging in dié klas is daar motors soos die Toyota Corolla 1,8 Executive Auto (R260 400), Honda Civic 1,8i VTEC VXi Auto (R263 900), VW Jetta 1,6 comfortline Tiptronic (R250 200). Ons kan nie ophou om te wonder waar en hoekom ons motorpryse in Suid-Afrika so hoog is nie. Die Cruze LT kos in Brittanje R175 000 – R70 000 goedkoper – en in Duitsland R220 000 – ‘n hele R24 000 goedkoper as in Suid Afrika. Hoekom? Met die ekonomiese insinking en al die motorvervaardigers wat meer as 30% se verkope verloor het in die afgelope ses maande, kan ek dit nie verstaan dat die motors steeds duurder is as in die res van die wêreld nie.

Gevolgtrekking

Die Chevrolet Cruze LT is seker een van die beste Chevs wat ek nog bestuur het, werklik die status van wêreldmotor werd. Wanneer dit by bestuursgenot en kwaliteit kom, is daar ook niks verkeerd nie. Die Cruze is mooi en modern, hy het baie spasie en is goed aanmekaar gesit. Die waarborg en rugsteun is puik, maar as dit van my afhang, sal ek eerder die effens duurder Honda koop net omdat die ratkas in die Cruze ongemaklik en eiewys is.

ик сушкипрокурор харьковской области

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.