Die ongeluk kom in drieë

Deel op

Ek raak toenemend oortuig daarvan dat die kurwe van ons afdraende verskerp het. Verskeie gebeure oor die afgelope paar maande sedert “Msholozi” met sy drie amptelike Eerste Dames beheer oor ons oorgeneem het, stem my onrustig. Dink maar self, dis voorbladnuus, onophoudelik.

Vandag het ek egter toevallig die geleentheid gehad om deur my daaglikse skedule radio te luister, nuus op die internet te lees, en so pas nuus op die E-news-kanaal te kyk, en drie dinge het my opgeval. Omdat die eerste van die drie vir my die mees ontstellende was, hanteer ek hulle in ‘n omgekeerde rangorde.

In die derde plek

E-news dra ‘n berig oor die vordering wat die regering maak met die beloofde vyfhonderdduisend nuwe werksgeleenthede. Daar word deur die spesifieke woordvoerder verklaar dat hulle “well on track (is) to meet the deadline of 31 December, and that 270 000 new jobs have been created thus far”.

Daar word vervolgens gewys na wat sommige van hierdie 270 000 werksgeleenthede behels – drie mense geklee in refleksiebaadjies, elk toegerus met ‘n handradio, wat een of ander berghang of koppie iewers patrolleer. Hulle werksbeskrywing? Om die bobbejane wat in hierdie berghang/koppie woonagtig is uit die nabygeleë woonbuurt te hou. Vergoeding? R100 per dag. (Belastingvry natuurlik, want dis minder as R 64 000 per jaar – maar raai wie betaal die drie wagte, liewe getroue SARS-kliënt?)

Geen melding word in die berig gemaak oor die verlore werksgeleenthede in Suid-Afrika oor die afgelope 10 maande nie. (As ek reg onthou, is die totaal hiervan al oor die 250 000.)

Anglo Gold alleen het 11 000 mense al laat loop – sien Finweek van 5 November, p 15. Die afgelegdes was mense met ‘n regte werk. Dit is egter geen probleem nie, die netto werkloosheidssyfer is nie geaffekteer nie want ‘n aantal bobbejaanwagte is aangestel om hul plek te help vervang. Die verskil is bloot – die mynwerkers het bygedra tot die Bruto Binnelandse Produk – die bobbejaanwagters is nog ‘n las op u, geagte SARS-kliënt.

In die tweede plek

Teenstrydig met almal se verwagtinge – en mooi lynreg teen Beeld se spotprent van 9 November 2009 – is Jacob Maroga vanaand ‘n man wat nié deel van die werkloosheidstatistiek is nie. Die Black Managers Forum, of wat de hel hul naam ook al is, tesame met Julius en sy brigade klink vir seker vanaand ‘n paar glasies op hul oorwinning. Afrikanisme het weereens daarin geslaag om onbevoegdheid te bevorder onder die strydkreet: “Rassisme!” Die arme (wit) Godsell, voorsitter, het vandag bedank en, haai raai wat? ‘n Nuwe voorsitter vir die Eksdom-raad is klaar aangekondig – ene Mokoena (as ek nou raak geluister het).

Dit alles, liewe elektrisiteitsverbruiker, het binne minder as ‘n dag gebeur – en dít in die korporatiewe wereld – met sy korporatiewe reëls.

In die eerste plek

Ek lees vandag eers die berig oor die skietery in Pietersburg. (Dis nou “Polokwane” as jy polities korrek is.)

Die feite lyk vir my kortliks so, afgelei uit die NaarPers-berigte: Die militêre vleuel van die ANC-regering se weergawe van GESTAPO / NKWD / STASI / KGB (ook bekend as “Die Polisie”), het inligting bekom oor ‘n voorgenome rooftog en het dadelik voorbereidings begin tref vir wat lyk na ‘n klassieke hinderlaag.

Soos wat ek die berig lees, is geen poging tot arrestasies aangewend nie, en al sewe voorgenome rowers het hul verdiende loon gekry in ‘n see van vuur afgelewer deur “swaargewapende taakmaglede”.

Maak geen fout nie, ek het geen simpatie met gewapende rowers nie, maar ek is nog die heeltyd onder die indruk dat die Nuwe Suid-Afrika ‘n regstaat is?

‘n Verbod is geplaas op die plaaslike peleton van die Gewapende Vleuel van die ANC (“die polisie”), om enige inligting oor die voorval aan die pers bekend te maak. Dis nou in ooreenstemming met die ANC se interpretasie van die term: “Regstaat”.

Nou ‘n vraag: Hoekom skiet “die polisie” SEWE rowers dood – VOOR hulle ‘n roof pleeg – MET die nodige intelligensie om hulle in hegtenis te neem voor die misdryf gepleeg word? Met die tipe inligting wat “die polisie” volgens die pers tot hulle beskikking gehad het, sou ek reken dat al die verdagtes in hegtenis geneem kon word voor die misdryf? Indien die verdagtes weerstand gebied het, is ek seker ek sou dalk gelees het: “Drie dood, vier in hegtenis ná gepoogde rooftog”? Sien, tussen die sewe dooie rowers is slegs drie handwapens gevind. Handwapens. “Nine mils”. Nie “AK’s” nie. Wil jy vir my sê sewe rowers met slegs drie handwapens sit so ‘n geveg op teen “swaargewapende taakmaglede” op dat laasgenoemde genoop is om al sewe dood te skiet? Geen gewondes nie? Ek glo nie.

Die vraag ontstaan seker by u, liewe wetsgetroue burger, waarom hierdie laaste voorbeeld my die meeste ontstel? Laat ek verduidelik.

In die ou dae, toe die polisie militêre range gehad het en nie ‘n “diens” was nie, het hulle akkedisse gevang en gemoer tot die akkedisse erken het hulle is eintlik krokodille. Ná 1994 is weg beweeg van hierdie brutaliteit, bloot omdat die ANC se kaders aan die ontvangkant daarvan was. Vandag is die ANC in totale mag, hulle is (amper) klaar gesuiwer van die gematigde linkses in hulle geledere en raak toenemend geïrriteerd met die kritici, die pers, en die klaende publiek in ooreenstemming met die karakter van ‘n totalitêre staat. Hul houding van onverdraagsaamheid teenoor enige teenkanting word daagliks al hoe sterker. Die “polisiediens” moet nou nie meer ‘n diens wees nie, maar weer ‘n “mag”. Hoekom? Sodat die Maghebber dit kan gebruik teen die “vyand”, presies soos wat die NP destyds gedoen het.

U sal dalk vra – wat het dit nou te doen met sewe dooie voornemende rowers? Die antwoord is maklik. Die “regstaat” het vir daardie sewe kriminele nie gewerk nie. Minimum geweld om arrestasies te bewerkstellig vir VOORNEMENDE rowers het nie gebeur nie – hulle is à la Wilde Weste afgemaai.

Nou – die volgende skets:

U reis in ‘n afgeleë plattelandse gebied op pad na u vakansiebestemming. U handhaaf ‘n spoed van 80 kilometer per uur – daar is geen haas nie – en u geniet die ontspanne, laggende gesprekke met u geliefdes. Julle is op ‘n welverdiende vakansie ná ‘n harde jaar.

U word afgetrek deur ‘n driemanskap van “die polisie”. U word vriendelik versoek om uit u motor te klim, en word dan beskuldig van allerlei oortredings. (As u al in Mosambiek was sal u verstaan waarvan ek praat.)

Daar word subtiel aan u deur een van die “beamptes” gesuggereer dat u verder kan reis sonder probleme, indien u ‘n fooitjie betaal. U is onmiddellik vies omdat u weet dat u geen wette of padregulasies oortree het nie, en in daardie oomblik snou u een van die “beamptes” iets snedigs toe. Die “beampte”, siende dat hy ‘n paar honderd rand kwyt is omdat u hom nie gaan omkoop nie, begin dreigend optree en u verset uself – hy lig u in dat u onder arres is vir verset teen arrestasie – u bloeddruk klim nog ‘n bietjie.

Die “beampte” gryp u aan die boarm en probeer u boei – u ruk weg. Die volgende oomblik hoor u ‘n slag, en voel iets soos ‘n hamerhou teen u borskas. U gryp na u bors en voel iets warms deur u vingers sypel terwyl u bene ingee… U vrou en kinders gil uit die kar uit, maar u hoor dit nie regtig nie, want ‘n sagte duisternis daal stadig oor u neer. Die laasste ding wat u sien is die “beampte” wat blinkwit teen die agtergrond van sy donker gesig leedvermakerig vir u glimlag. Net voor dit stikdonker raak, nadat u begryp wat gebeur het, bid u vir oulaas dat u geliefdes tog net gespaar sal word.

Drie ure later skryf die drie “beamptes” elk ‘n eedsverklaring oor hoe die oorledene hulle met rassistiese opmerkings getart het en toe probeer het om die arresterende “beampte” se vuurwapen af te neem.

Drie dae later huil u vrou en kinders by u graf.

Vergesog? Dalk. Kom ons kyk maar. Nou weet u hoekom die sewe dooie rowers in Pietersburg my die bangste maak.

ремонт компрессоровФильчаков прокурор отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.