Pasop vir die slange!

Deel op

Twaalf jaar gelede het ek ook ‘n voorsmakie gehad van die verraderlike optrede van voormalige lede van nasionale intelligensie (NI). Vandag bevind sommiges hulle waarskynlik in een of ander spesialiseenheid van die polisie. Dit is waarskynlik daardie spul wat UG probeer toesluit het. Dit was ook daardie spul wat hulself deel van die sogenaamde Boeremag gemaak het, wat plofstof geplant het, en wat gesorg het dat goeie Boerseuns vandag in die tronk krepeer op aanklagte van sabotasie.

Hul tydverdryf is verdagmakery van leiersfigure om te verhoed dat behoudende Afrikaners hulself as etniese groep organiseer soos in die land se grondwet voorsien word.

In die laat negentigerjare het genl. Constand Viljoen vir pres. Nelson Mandela oorreed om ‘n bedrag geld (R13 miljoen) te bewillig om blanke boere na die omliggende buurstate te stuur. Die doel was eenvoudig om weer hoop aan lande soos Mosambiek, Tanzanië en later aan ander SAOG-lande te gee ná dekades se uitmergelende burgeroorloë.

Die projek sou daardie lande se ekonomieë prikkel – veral op landbougebied – wat sou kon meehelp dat die stroom onwettiges verminder kon word. Terselfdertyd sou dit ‘n geleentheid aan Suid-Afrikaanse boere verskaf om hul eie besigheid te diversifiseer, of self die geleentheid bied om van nuuts af te begin in lande waar hulle as beleggers gesien en waardeer word en nie as wit setlaars nie.

Vir Suid-Afrikaanse boere is dit altyd wenslik om hul risiko’s te versprei. Hier dink mens aan die politieke risiko, klimaat- en droogterisiko, gewasserisiko, markrisiko, arbeidsrisko, ens waarmee boere in ‘n riskante bedryf mee te kampe het.

Die Suid-Afrikaanse Kamer vir Landbouontwikkeling In Afrika (SACADA) is gestig onder die leiding van wyle senator Dries Bruwer, eertydse president van die TLU, bygestaan deur Piet Gouws, van die Vrystaatse Landbou-unie, en ‘n groep prominente landbouers. Vanweë my kennis van Oos-Afrika, asook my baanrekord op nywerheidsgebied, was ek ook genooi om deel van die projek te wees.

Ons was vuur en vlam vir die taak, want ons het geglo dat dit ‘n edel projek is wat net goed kon beteken vir die land. Maar helaas, dit was ons nie beskore om ons werk behoorlik te verrig nie.

Die Niassa-provinsie se hooglande in die noorde van Mosambiek was ons teikengebied en die eerste groep van 13 boere het hulle daar gaan vestig. Sacada het finansiële bystand verleen en ‘n baie goeie verhouding met die plaaslike goewerneur asook die kabinet gehandhaaf. Om die regte politieke klimaat en juridiese raamwerk vir die boere te skep het ons gereël dat ‘n bilaterale ooreenkoms met groot fanfare tussen die regerings van Mosambiek en Suid-Afrika onderteken word. Dit het goeie publisiteit geniet.

Hierdie ooreenkoms sou die boere in staat stel om hul landboutoerusting soos trekkers, vragmotors, stropers en ander bates belastingvry die land in te bring en weer landuit te neem. Hul Suid-Afrikaanse rande of VSA-dollars kon na willekeur die land uitgeneem of ingebring word. Hulle kon hul eie skole oprig en sonder inmenging bedryf, hulle kon hul jaggewere saambring, maar moes dit eers by die naaste polisiestasie laat registreer. Die owerheid en plaaslike gemeenskap moes spesifiek na die intrekkers se veiligheid en welstand omsien. Op hul beurt moes die boere hul beste lewer om voedselsekuritiet vir hul gemeenskap te bereik en binne die landswette bly.

Van meet af aan het vreemde elemente begin om ‘n skinderveldtog teen ons van stapel te stuur. Kort voor lank verskyn allerhande smeerstories oor Dries en myself in die pers en oor die radio. Die feit dat genl. Viljoen die outeur van die projek was, was al klaar genoeg vir lakeie om dit verdag te maak, veral gesien teen die agtergrond van die ‘94–verkiesing. My betrokkenheid by die Volkstaatraad het die gerug laat ontstaan dat ons ‘n volkstaat in Mosambiek wou stig. Selfs die buitelandse media is vol stories gestop om die verhouding tussen SACADA en die buurstate se regerings te vertroebel.

Hoewel Dries voltyds as hoof van die onderneming opgetree het, en ek onderhoof, het ons geen salaris vir ons dienste gevra nie. Allerhande vrae oor ons motiewe het die rondte begin doen. Ons is van nepotisme, wanbestuur en selfs geldverduistering beskuldig en ‘n obskure koerantredakteurtjie in Noord-Transvaal het ons by die Heath-Kommissie aangekla. Hoewel ons reeds ver gevorder het om ‘n langtermyn finansiële program te finaliseer, het Heath se betrokkenheid die hele projek verdag gemaak en gekelder. Ná twee jaar se ondersoek kon Heath se mense absoluut niks teen ons vind of inbring nie, want daar was niks. Maar ‘n staatsinstrument is as wapen aangewend om agterdog te saai om te verhoed dat “wit boere na Afrikalande uitgevoer word”.

Iemand het aan my verduidelik dat eertydse lede van NI nog by hul onderskeie netwerke ingeskakel was en aan wie hulle sappige wolhaarstories kon verkoop om aan die lewe te bly. Hierdie mense het hulle altyd as “regse” Afrikaners voorgedoen, want daardie kader van verraaiers is deur die NP-regering ingespan om teen die destydse behoudende Afrikaners te spioeneer, hul geledere soos slange binne te dring en verdag te maak. Sodoende kon die sogenaamde hervormingsprogram en magsoorgawe van die NP, soos deur die Broederbond ontwerp was, op koers bly.

‘n Slang kan ‘n ruimte deur ‘n baie klein opening binnedring om sy prooi te vergiftig.

Pasop vir die slange…!

 

betting withoutлобановский александр харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.