Die deeltydse krieketspelers uit die land van staatsgedrewe anoreksie het gister koeëlvas gelyk teen die beste wat die Protea-boulaanval in hulle rigting afgevuur het. Tatenda Taibu en Stuart Matsikenyeri het met groot sorgeloosheid 188 lopies van 193 balle gesloeg. Dit het gekom na ‘n topordeintuimeling wat Zimbabwe vyf paaltjies gekos het vir ‘n katspoegie meer as 40 lopies. Die Proteas het darem die ordentlikheid gehad om te wen, maar dit net omdat hulle kolwers 295 lopies van ‘n lustelose aanval af geslaan het.
As die SA boulers vergeet hoe gehalte boulwerk lyk, kon hulle maar net op TV gekyk het hoe die Australiese tweetal, Mitchell Johnson en Doug Bollinger, die Indiërs in Kerrieland vloer toe geboul het. Johnson het 3 vir 39 gevat en Bollinger het terreur gesaai met 5 vir 35.
Dis die soort boulwerk wat nodig gaan wees teen ‘n Engelse span wat luilekker die Warriors afgeransel het. Andrew Strauss het ‘n moeitelose 117 geslaan. Dit lyk nie of daar ‘n Kersfees hierdie Desember vir die Proteas gaan wees nie.