Olie na hartelus

Wanneer dit kom by hartgesondheid, mag gesuiwerde olyfolie beter wees as ander groente-olies, luidens nuwe navorsing.

Volgens Europese navorsers mag gesuiwerde olyfolie veral doeltreffend wees om die risiko van hartsiektes te verminder vanweë die hoë vlak van antioksidante wat dit bevat.

In ‘n studie van 200 gesonde mans het navorsers bevind dat gesuiwerde olyfolie – ryk in antioksidante wat bekend is as polifenole – sterker hartgesondheidseffekte toon as die geprosesseerde “nie-gesuiwerde” soorte.

Die bevindings dui daarop dat daar meer is aan gesuiwerde olyfolie as net die voorsiening van hartgesonde mono-onversadigde vet, luidens die studie se skrywers. Hulle meen dat polifenole verantwoordelik is vir die gesondheidsvoordele wat toegeskryf word aan dié olie.

Eintlik is gesuiwerde olyfolie die enigste groente-olie wat ryk is in polifenole, het dr. Maria-Isabel Covas, die studie se hoofnavorser, gesê.

“Alle groente-olies, behalwe gesuiwerde olyfolie, ondergaan ‘n proses waarin alle polifenole bykans verlore raak,” het dr. Covas, ‘n navorser verbonde aan die Munisipale Instituut vir Mediese Navorsing in Spanje gesê.

Selfs “gewone” olyfolie het ‘n laer polifenool-inhoud omdat dit ‘n versnit is van gesuiwerde olyfolie en ‘n meer geprosesseerde vorm van dié olie.

Vir die studie is 200 jong en middeljarige mans aangesê om drie olyfolies oor ‘n kwessie van drie weke te gebruik. Een olie was ‘n gesuiwerde olyfolie wat hoog is in polifinole; die ander twee is verder geprosesseer met gematigde tot lae polifenool-vlakke.

Die mans het die olie in die plek van ander dieet-vette gebruik.

Teen die einde van die studie het die navorsers bevind dat die mans se vlakke van “goeie” HDL cholesterol baie hoog was nadat hulle drie weke lank gesuiwerde olyfolie gebruik het. Hulle het ook ‘n afname getoon in sogenaamde oksidatiewe stres, ‘n proses waarin “slegte” LDL cholesterol in are gestort word.

Mono-onversadigde vette is lankal reeds bekend as ‘n gesonder alternatief tot die versadigde vette wat in diereprodukte soos botter gevind word, het dr. Covas gesê. Dit, tesame met die voordele van polifenole, maak van olyfolie ‘n “goeie bron van goeie vet”.

Toets jou kennis van die olyf deur telkens Waar of Onwaar te antwoord. Met vergunning van Olyfboom

Tel dan jou korrekte antwoorde. As jy meer as 15 uit 20 reg het, klop jouself op die skouer. Jy het ’n lewendige belangstelling in olywe en praat met gesag.

1. Frantoio is ’n kultivar wat hoofsaaklik vir die maak van olyfolie gebruik word.

2. ’n Olie met ’n delikate geur is die ideale pasmaat vir roerbraaigeregte, pastasouse en mengelslaai.

3. Frantoio het ’n intense olyfgeur.

4. Hoe groener die olywe wanneer dit gepluk word, hoe groener die kleur van die olie.

5. Die kleur van olyfolie is ’n aanduiding van gehalte.

6. ’n Goeie olie hou 12 maande, totdat die volgende oesjaar vrygestel word, in ’n donker bottel.

7. Die verskil tussen “Extra Virgin” en “Virgin” olyfolie is dat eersgenoemde gemaak word van olie wat net een keer gepers word.

8. Die verteerbaarheid van olyfolie word deur verhitting beïnvloed.

9. Die Griekse godin wat volgens legende ’n olyfboom uit die aarde opgetower en sodoende die gode se guns gewen het, se naam was Athena.

10. Pesto, ’n geïnspireerde konkoksie van vars kruie, olyfolie, knoffel, kaas en dennepitte wat as ’n vars sous met pasta geniet word, is in Genoa uitgedink.

11. “Olive Pomace Oil” is olyfolie van ’n swakker gehalte.

12. Olyfolie hou langer as dit in die yskas gebêre word.

13. Verfynde olyfolie (“Refined olive oil”) is ’n superieure produk.

14. Manzanilla is die tafelolyf wat meestal uitgehol en met soetrissie of knoffel gevul word.

15. Die gewildste olyfkultivar in Suid- Afrika is Kalamata.

16. ’n Jong olyfboom het nadat dit geplant is, nie meer as 5 liter water per week nodig nie.

17. Die groot groen ghoens word van die kultivar Barouni gemaak.

18. Die vier Manzanilla-olyfbome in jou tuin groei fantasties, maar hulle wil nie dra nie. Windskade is die mees voor-die-hand-liggende oorsaak.

19. Wanneer jy olywe koop om self in te lê, is dit belangrik dat die olywe almal dieselfde grootte moet wees.

20. Throubes is ’n Griekse olyfkultivar.

ANTWOORDE

1. Waar. Frantoio, saam met Leccino, is die belangrikste oliekultivars in Suid- Afrika. 2. Onwaar. Hoewel mense persoonlike voorkeure het, is ’n delikate olie nommerpas saam met gestoomde vis, groente en aartappels in die skil. Medium vrugtige olie met grasagtige geure is meer geskik vir pasta en groenslaai.

3. Waar. Veral as dit jonk en vars is.

4. Waar. Die kleur van die olie hang egter meer af van faktore soos kultivar- en grondtipe, as van rypheid.

5. Onwaar. In Italië word olyfolie amptelik in ’n blou glas geproe, sodat die kleur geen rol kan speel by die beoordeling van gehalte nie.

6. Onwaar. ’n Goeie olie hou maklik 18 maande wanneer dit weg van hitte, lig en lug gestoor word.

7. Waar. “Extra Virgin” moet egter minder as 1 persent suur bevat, terwyl “Virgin” tot 3 persent suur kan bevat.

8. Onwaar. Olyfolie kan ses tot sewe keer verhit word sonder dat dit enige gesondheidsvoordele inboet.

9. Waar.

10. Waar. Die oorspronklike weergawe, met basilie, staan bekend as Pesto Genovese. Probeer gerus om jou eiers in pestobotter te braai, of kikker mayonnaise met ’n eetlepel pesto op.

11. Onwaar, want dit mag glad nie as olyfolie geklassifiseer word nie. Dit word chemies geëkstraheer uit die soliede doppekoek wat agterbly nadat die olywe gepars is.

12. Onwaar. Dit sal verdik en stol.

13. Onwaar. Net soos “Pomace Oil” word dit chemies gemanipuleer, wat die unieke geure bederf en baie van die gesondheidsvoordele vernietig.

14. Waar.

15. Onwaar, hoewel dit die mees gesogte keuse is onder plaaslike verwerkers. Die kultivar wat die meeste aangeplant word, is Mission, omdat dit vir olie sowel as tafelolywe geskik is. Mission lewer ’n delikate olie met subtiele geure.

16. Onwaar. Dit benodig omtrent 15 tot 20 liter water weekliks.

17. Waar, hoewel dit in die spreektaal meestal as Queen-olywe bekend staan.

18. Onwaar. Die olyf is minder onderhewig aan windskade as ander vrugsoorte. Die rede is waarskynlik ’n gebrek aan kruisbestuiwing. Plant gerus ’n Frantoio saam met die ander en kyk wat gebeur.

19. Onwaar. Grootte maak glad nie saak nie. Dis egter baie belangrik dat hulle ferm moet wees!

20. Onwaar. Dit is songedroogde olywe wat droog verpak word. Dit word geweeg en in die verhouding 9 dele olywe tot 1 deel growwe sout gemeng. Die eerste maand word dit daagliks gemeng deur in ’n houer te skud of te rol, daarna algaande minder totdat dit drie maande later gereed is, dalk selfs langer. As dit te sout vir jou palaat is, kan dit ’n rukkie in water geweek word, gedreineer en dan in olyfolie saam met Provensaalse kruie of karweisaad gerol word. Heerlik!

Hoe lank kan olyfolie hou? Alle goeie olies behoort duidelik aan te dui wanneer die leeftyd van die produk verval. Die leeftyd van olyfolie kan so kort as drie maande wees indien dit nie reg gestoor was nie, dit in ’n deursigtige glasbottel verkoop word, op ’n rak in die supermark bokant verhitte deli-produkte uitgestal word, en tuis in helder lig sonder die prop rondstaan. Dit kan drie tot vier jaar lank hou mits die vrugte gesond halfryp geoes is, ’n kultivar is wat ’n hoë polifenoliese inhoud het, gefiltreer en in ’n goed verseëlde donker bottel verpak is, en deur die handelaar sowel as die verbruiker op ’n koel, donker plek gebêre word.

 

магазин детские игрушки

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.