Die Berlynse muur het nie vir ons geval nie

Deel op

Tans word die ineenstorting van die Berlynse muur wêreldwyd gevier. Ongeveer ‘n maand voor daardie gebeurtenis twintig jaar gelede was ek in Berlyn waar die “skandmuur” soos die Wes-Duitsers dit genoem het, nog in al sy glorie gestaan het. Ons Wes-Berlynse vriende het aan ons verduidelik dat die kommunistiese regering in Oos-Duitsland dit ‘n “anti-fascistiese beskermingsmuur” genoem het.

Deur wagte met masjiengewere op die muur te plaas wat skiet op enigeen wat sou probeer om daaroor te ontsnap, is die destydse Oos-Duitse bevolking teen “die fascisme” beskerm. Hierdie logika is eie aan kommunisme, want in ‘n kommunistiese stelsel is dit die leierskap, die party en uiteindelik die politburo wat die beste weet wat vir die bevolking goed is.

Suid-Afrika, afgesien van Kuba, Noord-Korea en China, is die enigste land ter wêreld waar daar tans ‘n Kommunistiese party in die regering verteenwoordig is. Die ANC-bewind se leiers spreek mekaar as “kameraad” – oftewel “comrade” – aan.

Ek dink ‘n mens kan met taamlike vrymoedigheid sê dat die huidige Suid-Afrikaanse leierskap, in die vorm van die politici, joernaliste en akademici, kwalik in 1989 verheug was toe die Oos-Berlyners oor die Glienickebrug gestorm en die muur stuk vir stuk begin afbreek het. Nóg Nelson Mandela, nóg Joe Slovo of enige ander leier van die ANC-SAKP, het dit destyds as ‘n positiewe verwikkeling gesien. Jakes Gerwel, die pas afgedankte voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ‘n direkteur van Nasionale Pers, het blykbaar in trane uitgebars toe hy die skouspel in Berlyn op die televisie gadegeslaan het.

Terwyl die Afrikanergeskiedenis en apartheid vandag in die publikasies en op die TV-kanale van Naspers verguis word, is daar nog nooit enige inligting oor die 100 miljoen mense wat deur kommunisme gedood is, gepubliseer nie. Die Franse skrywers Stéphane Courtois en Nicolas Werth het “Die swart boek van kommunisme” geredigeer waarin die verskriklike misdade wat in die naam van die rooi ideologie geplees is, in besonderhede vermeld word. In vele kommunistiese lande is hele groepe mense in volksmoorde vermoor en in massagrafte begrawe. Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die Russiese kommuniste feitlik die hele Poolse elite uitgemoor en in massagrafte in die Katynwoud begrawe, waarna hulle die skuld jare lank op die Duitse Nazi’s geplak het. Eers in die tyd van Boris Jeltsin het Rusland formeel erken dat hulle destyds vir dié massamoord verantwoordelik was en nie die Duitsers nie.

Maar Nasionale Pers met ekstreem-linkse direkteure soos Jakes Gerwel en Hein Willemse is nie die enigste plaaslike mediagroep wat nostalgies en ongemaklik oor die heengaan van kommunisme voel nie. In vandag se Sunday Times, wat deur die Avusa-swartbemagtigingsgroep uitgegee word, verklaar die redakteur, Mondli Makanya: “Maar met die ineenstorting van kommunisme het die wêreld ook iets goeds verloor. In die triomf oor kommunisme, het ons as mense die baba met die badwater uitgegooi…”

Suid-Afrikaanse – ook Afrikaanse – universiteite word vandag deur ‘n geswore kommunis, Blade Nzimande, beheer. Hy is die minister van sogenaamde hoër onderwys wat geen akademiese vryheid of outonomie duld nie. As die universiteite nie na sy pype dans nie, is hy gou om die sweep in te lê. Nie dat die universiteite hierteen beswaar het nie, want hulle is maar te gretig om die kommunistiese ideale van gelykheid en kollektiewe denke op die kampusse toe te pas, soos onlangs ook by Kovsies gesien is. Aan die universiteit van Stellenbosch is ‘n eredoktorsgraad aan die eertydse ondergrondse leier van die Kommunisteparty, Bram Fischer, toegeken. Die nuwe rektor van die Vrystaatse universiteit, prof. Jonathan Jansen, het Bram Fischer insgelyks as “die grootste Kovsie van alle tye” beskryf.

Terwyl die kommunistiese staat deur ‘n geslote elite of nomenklatura oorheers word, skep die stelsel ook ‘n massamens, ‘n tropmens wat nie tot eie denke in staat is nie en bloot die stroom volg. In sy roman Animal Farm het die Britse skrywer George Orwell hierdie stelsel gesatiriseer en die toepassing van die gelykheidsideaal opgesom met die woorde: “Sommige diere is meer gelyk as ander.” In ons land sanik die ANC en SAKP gedurig oor “die armes”, terwyl hulle self in weelde leef, met duur motors en rykmanswonings.

As student aan die universiteit van die Witwatersrand in die apartheidsjare is ek destyds deur die kommunistiese mentaliteit getraumatiseer. In my tweede jaar het ‘n medestudent aan my verduidelik dat, om die vak Staatsleer te slaag, ek nasionalisme moes verguis, liberalisme moes kritiseer en pro-Marx moes skryf, hoewel ons “opbouende kritiek” oor die Sowjetunie kon lewer. Vele van die studente wat destyds in die laat sewentigerjare die stroom gevolg en hul lewenslank tot kommunisme bekeer het, beklee vandag hoë posisies in die ANC-SAKP-regering. Iemand soos Barbara Hogan, die minister van gesondheid byvoorbeeld, wat tans insgelyks deur Nasionale Pers as ‘n bekwame minister opgehemel word. Is Hogan steeds ‘n oortuigde kommunis soos sy destyds op die kampus was? Waarskynlik ja.

Anders as die Oos-Duitse, die Russiese, Poolse, Tsjeggiese en ander dissidente wat die simboliese ineenstorting van ‘n ideologie met die afbreek van die Berlynse muur kon aanskou, het ons Afrikanerdissidente maar sleg daarvan afgekom. Onder die ou stelsel het die Broederbond en die Nasionale Party al hoe meer outoritêr begin handel en is kritiek, soos vandag, kwalik geduld. Hoewel – verstout ek my om te sê – onder apartheid het ons veel meer spraak- en akademiese vryheid as nou gehad. Onder apartheid kon jy by Wits of Kaapstad ‘n kommunis wees en die Rand Daily Mail het elke dag die NP-regering verguis. Vandag mag jy egter nie eens op ‘n Afrikaanse kampus ‘n Afrikaner wees nie en dis slegs op die internet, wat nie onder Blade Nzimande of Jakes Gerwel se beheer staan nie, waar ons indringende kritiek op dié korrupte, onbekwame bewind mag lewer.

Die Broederbond en die NP het op velerlei maniere verraad gepleeg. Daar was egter ook intellektuele verraad, want hulle het die Marxistiese siening van ons geskiedenis aanvaar en vandag word dit as die gekanoniseerde waarheid aan ons voorgehou. Op skool het ek destyds teen die stiksienigheid en benepenheid van die destydse Broederbondbeheerde stelsel gerebelleer, net om aan ‘n Engelse universiteit met die kommunistiese eenvormigheid van denke gekonfronteer te word. As iemand in die jare voor 1989 aan my sou sê dat die Broederbond en die NP hulle eendag tot kommunisme gaan bekeer en saam met die ANC sou werk om die Afrikaners te verdruk, sou ek seker gedink het so ‘n persoon is reg vir die groendakkies. Maar dis presies wat gebeur het. Soveel Broeders aan die universiteite, in die NP en in die media het gelinksomkeer en verkondig vandag die nuwe (rooi) evangelie met groter gemak as wat hulle destyds die gemeenplase van uitrafelende Afrikanernasionalisme herhaal het.

Ons as jeug is destyds vertel: wees Afrikaans, wees trots op jou geskiedenis, jou taal en kultuur. Maar ons vaders van destyds, die Broeders in beheer, het dit nooit self geglo nie. Vandag is ons, soos Pim Fortuyn so mooi in sy boek De verweesde samenleving verduidelik het, wees gelaat. Ons is die enigste geslag sedert die dae van die Boererepublieke wat die voorreg gesmaak het om Afrikaans te kon grootword, maar skielik is dit van ons weggeneem en moet ons by ‘n totalitêre stelsel aanpas waar ons op die Marxistiese model tot “nuwe mense” omvorm en getransformeer gaan word.

Is ek dus verkeerd as ek sê dat die Berlynse muur in ons land nooit geval het nie? Daar is geen fisieke muur nie, maar die kommunistiese mentaliteit is steen vir steen opgebou. Die mentaliteit van: “Ons het die waarheid in pag.” Of: “Bly stil, jy wat uit jou beurt uit praat of kla, en dien Ons Groot Toekomsplan.” In die plek van klassegelykheid het die ideaal van die multikulturele, sogenaamde “nierassige” samelewing gekom en dít durf niemand bevraagteken nie. Anders is jy ‘n ketter, ‘n rassis en ‘n “vyand van die staat” soos hulle in die Sowjetunie gesê het en reg vir heropvoeding in ‘n Siberiese strafkamp.

Inderdaad het ons dié November, twintig jaar ná ‘n gebeurtenis wat Europa en die wêreld verander het, niks om te vier nie. Gaan gerus uit op straat en kyk rondom u: daar is baie mure in Suid-Afrika en elke dag word nuwes gebou.

обучениеДанильченко Юрий Брониславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.