Joost maak my naar

Deel op

Die Joost-storie wat op die oomblik al die koerante se voorblaaie haal, maak my naar. En dis nie vir die redes wat almal voorhou nie, nee.

Dis nie omdat hy ‘n leuenaar en ‘n skynheilige skurk is wat sy vrou vertel het dis nie hy op die video nie. Of dat hy gesê het dit was net een keer en nou kondig die koerante met genoegdoening aan van hoeveel gewillige vroue daar eintlik was nie. Nee, nie een daarvan nie.

Dis niks snaaks om mans te hoor spog oor hulle telling nie. Enige kroegtoonbank met ore sal daarvan kan getuig. Onsmaaklik en onopgevoed is dit wel, maar nie regte naarmaakstof nie. Hoogstens doodvervelig en sielloos kinderagtig.

Die rede waarom ek so naar is, is omdat die werklike skande, die onvergeeflike sonde, nie eens ‘n sinnetjie iewers gehaal het nie.

Ek vra myself af of al die seks en bedrieëry wat so breedvoerig in al die berigte geskets word, nie net ‘n verskoning vir pornografiese vermaak is nie. Nou kan ‘n Sondagkoerant wat voorgee om vir die gesin te wees, sonder meer die Son in die dag indra en dit sonder om te blik of te bloos. Dit is dalk die rede daarvoor dat die belangrikste aspek van die Joost-verhaal geen aandag geniet nie.

Nouja, dames en here, die rede vir my naarheid: Nie ‘n enkele woord oor die Springbokrugbykaptein se dwelmgebruik nie. Nie ‘n geligte wenkbrou, ‘n afwysende sin, ‘n oordeel van enige aard het nog die dooiehoutmedia gehaal nie.

Dis die Springbokkaptein om hemelsnaam! Dis ‘n held vir opgeskote seuns, ‘n man wat gekies is as kaptein vir hopelik sy leierseienskappe wat daar op die naat van sy rug lê, onderbroekloos in ‘n dwelmkoma.

Soos David Bullard onlangs skryf, moes almal onraad vermoed het toe Joost sê die man in die video is beter bedeeld as hy.

Dat Steve Hofmeyer vir Joost so opkom oor sy ontrouheid, is seker te verstane. Die arme Steve het ook gedink die media skuld hom. Maar nie eens Steve het hom uitgelaat oor Joost se dwelmafhanklikheid nie. Waarom nie? Is Steve bang Joost verwys na sy bles wat hy probeer wegsteek met ‘n pruik? Of dat hy wat Steve is se kinders nie ‘n woord Afrikaans praat nie?

Dit is asof daar ‘n verstandhouding tussen die dooiehoutmedia, Joost en Steve heers om geen woord oor Joost se verslawing te rep nie. Is dit nie die groot storie nie? Is dit nie die werklike misstap nie?

Nee, blykbaar nie. Want ons word Sondag na Sondag vertel van die twee se viriele sekskapades. Dat Joost s’n van sy dwelmgebruik afhang, is skynbaar eerder ‘n pluspunt wat verswyg moet word.

Enige verskoning, selfs verslawing, dwelmmisbruik, om die Afrikaanse na ‘n seksgod te laat lyk, is aanvaarbaar.

Ons sogenaamde voorbeelde het kennelik nog nooit van Viagra gehoor nie en die dooiehoutmedia gaan binnekort uitvind dat hulle die pornodoepa al hoe sterker sal moet aanmaak om hulle getroue lesers se aandag te hou.

 

free casinoФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.