Ystervuis teen webwerwe

Deel op

Die inhegtenisname van die bekende Johannesburgse “blogger” Uhuru Guru van die woernaal South Africa Sucks het gister skokgolwe deur Suid-Afrika se internetgemeenskap gestuur. Oënskynlik het die ANC-bewind op die vooraand van die Wêreldsokkerbeker tot hardhandige optrede oorgegaan teen webwerwe wat die land se probleme soos misdaad en verdrukking van minderhede aan die groot klok hang. Daar is ook die afgelope dae ‘n veldtog deur anonieme briefskrywers op LitNet, ‘n webwerf in die Media24-stal, gevoer teen die misdaadberigte wat South Africa Sucks gewoonlik met kommentaar aanbied.

Die voordeur van Uhuru Guru is gisteroggend om 6:30 deur ‘n “taakmag” van die polisie afgeskop en hy en sy gesin is hardhandig uit die bed gepluk. Sy vrou is nie toegelaat om enige oproepe te maak nie en selfs sy dogtertjies se selfone is gekonfiskeer, tesame met alle rekenaartoerusting in die huis. Die taakmag, wat uit lede van die polisie, veiligheidspolisie en verskeie spesialiseenhede soos kubermisdaad bestaan het, het die webmeester ook oor PRAAG en dr. Dan Roodt ondervra, wat moontlik kan veroorsaak dat die polisie se veldtog na hierdie webwerf kan uitbrei.

Uhuru Guru, wat tans om sakeredes verkies om anoniem te bly, is agterna na ‘n Johannesburgse polisiestasie geneem waar hy tans in aanhouding verkeer. Volgens sy regsverteenwoordiger is daar duidelike pogings deur die staat om die regsproses te vertraag ten einde hom vir die maksimum periode vir ondervraging aan te hou. Die klagtes teen hom is onduidelik, maar daar word gepraat van crimen injuria, asook ‘n insident tydens 1993 toe een van sy werknemers gesteelde goedere ter waarde van enkele honderd rand op sy perseel versteek het. Dit wil voorkom asof die polisie dié klag wat sestien jaar gelede teruggetrek is, op hul rekenaar opgespoor het ten einde ‘n verskoning te vind om hom in hegtenis te neem.

Volgens Uhuru Guru se regsverteenwoordiger is “die hardhandige en oordrewe optrede deur die polisie… duidelik polities gemotiveer”.

PRAAG het enkele dae gelede vanuit ‘n bron binne die ANC verneem dat daar ‘n groep blanke Afrikaners binne die polisie verkeer wat weens transformasiedruk hul eie poste en begrotings moet motiveer deur op ‘n fiktiewe “regse gevaar” te spioeneer. Die polisie wat gister teen Uhuru Guru van South Africa Sucks opgetree het, was blykbaar deur die bank blanke Afrikaners wat direk aan hoofkantoor rapporteer en nie aan enige plaaslike polisiestasie nie.

Volgens Uhuru Guru se regsvereentwoordiger het hulle ‘n “sinistere indruk gemaak, presies soos die ou Veiligheidspolisie in die tagtigerjare onder die Nasionale Party. Ek was destyds baie links gewees en as ek nie so ontnugter was deur die nuwe Suid-Afrika nie, sou ek seker steeds links gewees het. Daarom moes ek dikwels met die Veiligheidspolisie namens kliënte onderhandel wat in aanhouding was. Gister se ervaring het my ‘n gevoel van déjà vu gegee. Dit was presies dieselfde, dieselfde mense, dieselfde metodes, dieselfde kyk in die oë. Een van: ‘Te hel met jou. Ons maak wat ons wil.'”

Dr. Dan Roodt van PRAAG het intussen verklaar dat “daar geen bande tussen PRAAG en South Africa Sucks bestaan nie. Terwyl South Africa Sucks se hooffokus misdaad en Suid-Afrika se rasseprobleme is, wil praag.co.za ‘n onafhanklike, algemene kuberkoerant wees wat lesers oor allerlei sake inlig en ook onverskrokke, maar beskaafde kommentaar lewer. Hoewel die feite oor misdaad wat in South Africa Sucks vermeld word gewoonlik waar is, handhaaf die blad ‘n polemiese en uitdagende toon wat nie ons styl is nie. Maar dis Uhuru Guru se goeie reg, indien Suid-Afrika wel ‘n demokrasie met spraakvryheid sou wees. Die huidige gebeure laat egter twyfel of Suid-Afrika veel langer op die etiket ‘liberale demokrasie’ sal kan aanspraak maak.”

Dr. Roodt was egter vol moed dat die alternatiewe Afrikaanse media die huidige aanslag van die staat sou oorleef. “Die ANC is ‘n magshonger monster wat geen teenspraak of alternatiewe sienings duld nie. Immers het die beweging sy tande in die ou Oos-Europa geslyp waar totalitêre bewinde alle aspekte van die samelewing beheer het. Daarom, toe ons praag.co.za as ‘n e-koerant gevestig het, het ons die blad se bediener in die VSA opgestel waar ons die beskerming van die Amerikaanse grondwet en wette oor vryheid van spraak geniet. Nóg die ANC, nóg die Veiligheidspolisie wat tans ‘n voorbeeld van South Africa Sucks gemaak het, kan ons stilmaak. Al word ons almal in die tronk gesit weens ons menings teen geweldsmisdaad en meerderheidsoorheersing in Suid-Afrika, beskik ons ook oor mense in oorsese lande wat die webwerf van daar af kan bedryf en aanhou publiseer.”

дитячі велосипеди купитиАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.