Die Gelykheidshof in Johannesburg gaan vandag die finale argument in die leier van die ANC-jeugliga, Julius Malema, se haatspraaksaak rondom verkragting aanhoor.
Malema staan tereg op klagtes van haatspraak en teistering omdat hy tydens ‘n verkiesingsvergadering in Januarie gesê het dat president Jacob Zuma se beweerde verkragtingslagoffer ‘n “goeie tydjie gehad het”.
Die Sonke-netwerk vir geslagsgeregtigheid het die klag gelê en meen dat die uitspraak baie skadelik was vir verkragtingslagoffers en vroue wat bang is om verkragtingklagtes aanhangig te maak.
Die organisasie versoek ‘n volle verskoning en R50 000 aan skadevergoeding wat aan ‘n sentrum vir mishandelde vroue betaal moet word.
Gedurende die verhoor het Malema homself verdedig deur te sê sy kommentaar was gegrond op ‘n spesifieke voorval en was nie ‘n algemene verklaring nie.
Hy sê dit was gegrond op regter Willem van der Merwe se uitspraak wat Zuma in 2006 van verkragting kwytgeskeld het.