Cosatu betoog oor ‘Mandela-kaffer’-CD

Deel op

Betogende Cosatu-lede het gister deur ‘n staalheining gebars en het die hoofingang van die Sun City-dobbeloord versper om ‘n memorandum te gaan oorhandig.

NUUT!

Omtrent 1000 betogers het Saterdag die strate ingevaar om te eis dat Sun International sy kontrak met Falcon-veiligheidsdienste beëindig, nadat een van die firma se werknemers ‘n CD gespeel het met lirieke waarin na die vorige president Nelson Mandela as ‘n “kaffer” en na oudpresident Thabo Mbeki as ‘n “bobbejaan” verwys word.

Die heining is opgerig om die betogers daarvan te weerhou om die hotel se hoofhek te bereik.

“Ons gaan nie die memorandum hier oorhandig nie, ons wil dit by die hoofhek oorhandig,” het provinsiale sekretaris van Noordwes Solly Phetoe gesê alvorens die betogers deur die heining gebars het. Die optoggangers het ook teen die beweerde onregverdige en rassistiese werksomstandighede by die internasionale vakansieoord betoog.

“Daar is rassisme by dié instelling. Die ergste is dat hulle ons internasionale leier, ons vader Nelson Mandela, beledig het,” het Phetoe gesê.

“Oor Nelson Mandela gaan ons geen kompromie tref nie,” het hy gesê. “As hulle nie instem tot ons eise nie, gaan ons by hulle konsert en by die miljoendollargholftoernooi betoog.”

Die Polisie-eenheid vir openbare orde het daarin geslaag om die skare in toom te hou.

Volgens Phetoe is rassisme algemeen by Sun City. Hy het gesê swart werkers word aan poligraaftoetse onderwerp terwyl hulle blanke eweknieë dit nie hoef te ondergaan nie.

Die betogers het ook die onmiddellike afdanking geëis van ‘n blanke bestuurderes wat na bewering aan twee werkers gesê het dat hulle soos bobbejane ruik.

“Sy het na bewering vir hulle gesê dat hulle behoort te bad en as hulle nie reukweerder kan bekostig nie, sy dit met graagte vir hulle sal aankoop,” het Madito Morobalwa, sekretaris van die Moses Kotane-tak van Cosatu gesê.

In die memorandum beweer Cosatu dat ‘n werker, Debra Danke, in ‘n vertrek met slange toegesluit is nadat sy van die diefstal van geld uit ‘n hotelkamer beskuldig is, selfs nadat sy deur ‘n poligraaftoets kwytgeskeld is.

Die federasie beweer swartes word om kleinlike redes afgedank, terwyl blankes in ernstige gevalle met waarskuwings ontkom. Na bewering het ‘n blanke werknemer slegs ‘n waarskuwing ontvang nadat hy R2 miljoen se goedere van die oord verwyder het.

Kurt Peter, afdelingsbestuurder by die oord, wat die memorandum namens Sun City en Sun International in ontvangs geneem het, het gesê hulle verwerp enige vorm van rassisme.

“Ons werk onverpoos om rassisme uit te wis en ons daag Cosatu uit om saam met ons te werk om rassisme uit te roei,” het hy gesê.

Hy het verduidelik dat ‘n indringende ondersoek na die beweerde belediging van Mandela tans onderneem word. Volgens hom is ‘n bestuurder by Falcon-veiligheid afgedank in verband met die voorval en ‘n ander is geskors.

Cosuta het gedreig om by Fifa aan te dring dat Sun International se geriewe nie tydens die 2010-sokkerwêreldbeker gebruik word nie.

“Ons sal die internasionale wêreld versoek om nie sake met Sun International te doen as hulle nie rassisme beëindig nie,” het Phetoe gesê.

Cosatu in die Weskaap het ook gedreig om ‘n veldtog teen Sun International-hotelle in die provinsie, soos Grand West-casino en die Table Bay-hotel, te loods.

Noordwes-Cosatu het gesê indien daar nie op hul griewe teen Maandag gereageer word nie hulle internasionaal sal mobiliseer om sanksies teen Sun International ingestel te kry.

air flow чисткаФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.