Die vrot kol in die Vrystaat

Dan Roodt
Deel op

Toe ‘n groep Afrikaners rondom 1917 onder leiding van ds. William Nicol ‘n aansoek om ‘n Afrikaanse hoërskool by die destydse Transvaalse Onderwysdepartement ingedien het, het die plaaslike Engelse koerant, The Star, na Shakespeare gegryp en gesê: “Something is rotten in the state of Denmark.”

NUUT!

Volgens The Star het Afrikaanse hoërskole bykans ‘n honderd jaar gelede die “eenheid van Suid-Afrika bedreig”. En onder heel ander omstandighede moet Engels vandag weer die gom verskaf om die bont versameling kriminele en korruptes wat hulself “Suid-Afrikaners” noem, bymekaar te hou.

Iets is egter vandag vrot in die Vrystaat. In die besonder aan die universiteit van die Vrystaat waar die nuwe, ingevoerde rektor Jonathan Jansen, openlik oorlog teen die Afrikanerstudent verklaar het. ‘n Mens moet deesdae nogal lig loop vir individue met allitererende name wat hul met onderwys bemoei, soos Jonathan Jansen en me. Mary Metcalfe wat eens op ‘n tyd al wat kleuter-, laer- en hoërskool in Gauteng is, wou verengels en weereens in ‘n hoë pos in die onderwysdepartement aangestel is.

Chris Louw, skrywer van die fameuse Boetmanbrief in die jaar 2000, het verlede Sondag vir Jansen in Rapport “‘n wolf in skaapsklere” genoem. Ongelukkig is Louw se uitstekende resensie van Jansen se boek, Knowledge in the blood, nie aanlyn beskikbaar nie. Maar ek is van plan om die knipsel in te skandeer en ‘n PDF daarvan te maak; indien enige leser hiervan belangstel om dit te bekom, stuur vir my ‘n e-pos na dan[aapstert]praag.org. (Ek gebruik nie die @-teken nie, om die internet se gemorsposadresversamelaars te flous.)

Louw se artikel, wat prominent op die middelblad van Rapport aangebied is, het soveel konsternasie by Jansen se eenmanjuigkommando genaamd Jan-Jan-Joubert (nog iemand met vele J’s in sy naam) veroorsaak dat Rapport hom as’t ware in ‘n hoofartikel in dieselfde uitgawe van Louw se siening gedistansieer het. Ook in vandag se Rapport is die Jansen-juiger Jan-Jan besig om sy hibriede held se goeie hoedanighede te besing op ‘n manier waartoe geen gillende mbongi uit die Transkei in staat is nie.

Verlede week – Vrydagoggend 23 Oktober tussen 8 en 9 om presies te wees – was ek in die ateljee van SAFM, die Engelse radiodiens van die SAUK. Die onderwerp was insgelyks die Jansen-kwessie. Dis altyd vir my leersaam om blootstelling aan Engelse radiostasies en veral die inbellers te verkry. Ek dink nie die gemiddelde Afrikaner daarbuite het ‘n idee van die vyandigheid en naakte rassehaat wat onder swart en Indiërinbellers na sulke radiostasies heers nie. Waarskynlik is dit verteenwoordigend van ‘n algemene gevoel in die land wat oor die afgelope vyftien jaar gekweek is, een van: “Voetsek Afrikaners, of ons maak julle dood!” Doodsdreigemente word sommer openlik op die lug gemaak. As jy nie tevrede is om verengels te word, asook polities en ekonomies oorheers te word nie, is daar vir jou net een keuse: emigreer. Male sonder tal moes ek dit al op SAFM, Kaya FM, Metro FM en ander radiostasies aanhoor.

Me. Mary Metcalfe het insgelyks telefonies aan die bespreking op SAFM deelgeneem. Toe ek gevra is wat ek dink van Jansen se sogenaamde kwytskelding van die Reitz-4 teen verdere dissiplinêre stappe op die kampus en die ANC se histeriese reaksie daarop, het ek geantwoord dat Jansen, die ANC en Blade Nzimande “aan dieselfde kant” verkeer en oor ‘n gedeelde einddoel beskik, naamlik om Kovsies van alle Afrikanerstudente en -personeel te suiwer. Metcalfe het ‘n skyngeveggie teen Jansen probeer handhaaf deur te sê dat hy nie “die gevoelens van die Reitz-4 se slagoffers in ag geneem het nie”.

Maar wat gebeur enkele dae later? Julius Malema lê met groot fanfare ‘n besoek aan die Bloemfonteinse kampus af en verklaar onomwonde: “Jansen is een van ons“! Gewoonlik neem dit ‘n paar weke of maande voordat ek reg bewys word en die Nasperskoerante verkeerd, maar dié keer was dit net enkele dae. Vandat Jansen die studente sogenaamd terwille van “versoening” begenadig het – terwyl hulle steeds strafregtelik en in die gelykheidshof vervolg word – het Beeld, Rapport en ander Naspersorgane ons oor en oor verseker dat Jansen “sterk sal staan teen die ANC”. Nou weet ons Jansen en die ANC-jeugliga is vinkel en koljander.

Ons sal nooit weet wat presies tussen Jansen en Malema gesê is nie, maar ek sal my regterarm verwed dat Jansen iets in die volgende trant aan Malema verduidelik het: “Man, ou Julius, jy en ek verskil van styl, maar my benadering is nie minder dodelik nie. Jy loop die Afrikaners trompop, maar ek vang hulle met ‘n slap riem. Op die ou end vernietig ons hulle saam.”

Boetman Chris Louw is ‘n fyn leser van Jansen se Knowledge in the blood. Hy meen dat Jansen die Afrikaner se aangebore beleefdheid en respek vir gesag as sy swak plekke geïdentifiseer het. Louw maak in verlede Sondag se Rapport dié insiggewende opmerking: “Engels, skryf Jansen, het markwaarde vir die nuwe mobiele en globale klas van kenniswerkers onder Afrikaners, en Afrikanerpragmatisme sal in dié konteks self sorg vir die finale uitfasering van Afrikaans as universiteitstaal. By Tukkies was die taalvoorkeur van die meerderheid studente uiteindelik beslissend Engels.”

Jansen beskou die Afrikaanse taal en kultuur as inherent rassisties en daarom vernietigbaar. Sy eerste stap by Kovsies is om 25 nuwe swart, bruin en Engelse dosente – Afrikaners is natuurlik nie welkom nie – aan te stel wat in Engels sal doseer. Afrikanerpragmatisme en -beleefdheid sal die res doen, want om in die klas op Afrikaans by ‘n swart of kleurlingdosent aan te dring, sal nie net “onbeleefd” wees nie, maar selfs “rassisties”.

Daar is egter ‘n donkerder sy aan Jansen. Dit is wat ek sy “biopolitiek” sou noem. Hoewel Jansen donker van kleur is en homself as “swart” beskryf, is hy natuurlik geen swartman nie en word ook nie deur plaaslike swartes as sodanig aanvaar nie. Uit vele van sy uitlatings, asook die strekking van Knowledge in the blood, verstout ek my om te sê dat Jansen as rasgemengde en as kleurling vanaf die Kaapse Vlakte waar hy eens op ‘n tyd gesukkel het om matriek te slaag, homself as ‘n soort model aan ons voorhou. Soos wat Breyten Breytenbach in sy gevleuelde woorde tydens sy Somerskooltoespraak van 1973 met ‘n verbysterende toekomsvisie dit gestel het:

“Ons is ‘n bestervolk met ‘n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om wéér in ander vorme te kan verbind. Net, ons het in die slagyster getrap van die baster wat aan bewind kom… En soos alle basters – onseker oor hul identiteit – het ons die begrip suiwerheid begin aanhang. Dit is apartheid. Apartheid is the law of the bastard.

Breytenbach sal seker vandag sy eie woorde wil sluk, want terwyl dit destyds romanties geklink het om basterskap, asook regering deur die Swartman (wat hy nogal met ‘n hoofletter geskryf het) op te hemel, is die werklikheid vandag allesbehalwe romanties. Die enigste stukkie waarheid uit dié aanhaling is die frase: “En soos alle basters – onseker oor hul identiteit…”

Soos ‘n vorige geslag Afrikanerantropoloë voorspel het, het hierdie identiteitsonsekerheid van die basters – en ons half verwesterde swart elite is ook maar kulturele “basters” – monsters wat daagliks moor en verkrag, gebaar.

Anders as wat Breyten Breytenbach ses-en-dertig jaar gelede beweer het, beskik Suid-Afrika vandag oor ‘n Afrikanerprobleem omdat ons juis nié basters is nie. Verlede week op SAFM maak ‘n Engelse vrou en medegas in die ateljee, dr. Terry Oakley-Smith, die opmerking teenoor my dat Afrikaans ‘n “mengeltaal” is. Helaas, nee! Moontlik is die Kreoolse Afrikaans of Kreoolse Engels wat hulle op die Kaapse Vlakte en in Sewendelaan besig, ‘n mengeltaal, maar die skoonheid en sjarme van Afrikaans is juis dat die taal deur soveel eeue samehangend Wes-Germaans gebly het. Daar is veel minder leenwoorde, hetsy Frans, hetsy Engels of enige ander taal, in Afrikaans as in moderne Nederlands, Duits of enige ander taal. Engels self is ‘n baster-Frans wat gedurende hul tweehonderdjarige oorheersing deur die Noormanne grootliks sy Saksiese en Germaanse woordeskat verloor het en ‘n geweldige hoeveelheid Franse woorde oorgeneem het.

Vir Jansen en ander verteenwoordig die voortbestaan van die Afrikaner as Kaukasiër en mens van Europese afkoms ‘n ongewenste verskynsel wat aan “rassisme” toegeskryf kan word. Volgens Chris Louw, “spreek (Jansen in sy)… boek ‘n totale veroordeling uit oor Afrikaners as onredbare rassiste – minstens in hul verband as herkenbare etniese groepering”.

Waarskylik is Jansen nog veel meer radikaal in sy benadering tot die land se Afrikanerprobleem as Malema. Terwyl Malema se soort swart nasionalisme afsydig en ongevoelig teenoor Afrikaners staan en hy ons waarskynlik op die duur bloot soos Mugabe uit die land wil verdryf, sien Jansen in ons ‘n ongewenste biologiese verskynsel wat uitgeroei – of uitgeteel – moet word.

Tydens die sogenaamde “transformasieproses” aan Kovsies gaan Afrikaans eerste sneuwel. Niemand minder nie as Tim du Plessis, redakteur van Beeld, het dit vandeesweek erken toe hy in sy koerant geskryf het: “(Jansen se) planne om die UV te ‘transformeer’ gaan daardie universiteit vinniger verengels as wat onder sy voorgangers gebeur het. Dis ‘n tragedie en rampspoedig vir Afrikaans, maar dis sy en die bestuur se prerogatief om die universiteit op daardie koers te vat.”

Ek vermoed egter dat die dood van Afrikaans aan Kovsies nie Jansen se enigste doelwit is nie. Slegs wanneer die Afrikaner ook biologies en as witmens uitsterf, sal sy revolusie voltrek wees. Jongmense aan die UV gaan nie net gedwing word om koshuise te deel nie. Daardie gedwonge assosiasie oor die kleurgrens heen sal onder Jansen nog veel verder gevoer word, om die biologiese en seksuele te bestryk. Die enigste “goeie Afrikaner” in Jansen se boek is hy of sy wat bereid is om seksuele verhoudings met iemand van ‘n ander ras aan te gaan en sodoende tot die hoër vorm van mens, die baster, te aspireer.

Ook met verwysing na Breyten Breytenbach se uitspraak dat “apartheid… die wet van die baster is”, het ek onlangs begin dink dat die ANC en hul lakeie soos Jansen – hy en Malema is mos nou hand om die blaas – eintlik besig is om ‘n vorm van apartheid teen ons te pleeg. Nie historiese apartheid soos ontwikkelingshulp in die tuislande, skole, universiteite en hospitale vir swart en bruin waartydens hulle getalle en opvoedingsvlak asemrowend in pas met hul Afrikanerhaat kon styg nie, maar “apartheid” soos dit in 1973 deur die Verenigde Nasies gedefinieer is in die “International Convention on the Suppression and Punishment of the Crime of Apartheid”.

Volgens artikel II(2) van daardie konvensie, behels apartheid die “deliberate imposition on a racial group or groups of living conditions calculated to cause its or their physical destruction in whole or in part”.

Ek vra my af of Jansen en diegene soos hy wat die Afrikaner se vernietiging, ook as rassegroep, ten doel het, nie besig is om apartheid in sy bose definisie teen ons te pleeg nie?

Maar dis miskien die onderwerp vir ‘n volgende rubriek.

агрегаты сварочные передвижные с дизельным двигателемtopcargo отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.