Fourie du Preez speel Vrystaat planke toe

Rugby is ‘n dramatiese spel wat homself leen tot wonderlike vergelykings, maar die standaardrugbykommentator se kokertjie metafore is maar skraal. Een waarvoor daar ‘n besondere verknogtheid bestaan, van Kobus Wiese tot Warren Brosnihan, is om dit met boks te vergelyk vroeg in die wedstryd. Dan is daar te vertelle dat die spanne “nog versigtig is,” en “mekaar nog voel-voel”.

Wel, gister op Loftus was daar geen effense gepiets-en-kyk nie. Suid-Afrika se twee spogspanne het soos swaargewigboksers uit die hoek gestorm en woes en wild begin haak en swaai. Dit was veral die Vrystaat wat die ene Smokin’ Joe Frazier was. Hulle het die losskrums soos Scud-missiele getref, alles wat blou is en naby die bal kom, stukkend gelak, baklei vir lynstaanbal en toe Gurthro Steenkamp boonop nog gesukkel het om die raaisel van die kragbuks, WP Nel, in die skrums te ontrafel, het die Cheetahs die Jakarandastatters as’t ware teen die toue gehad. Hulle het die Noord-Transvaalse skop-en-smoor taktieke geheel en al geneutraliseer met uitbundige aanslae uit die diepte van hulle gebied uit.

Maar daar is ‘n ou bokswysheid oor swaargewigte: Een hou is al wat dit verg om die gang van ‘n geveg óf te verander, óf kortaf te beëindig. Noord-Transvaal het van die toue af geklou en –grou en nie één groot hou geplant nie, maar drie, en elke keer was dit die gevegsarties, Fourie du Preez, wat die onbewaakte kakebeen gesien en die opstopper geplant het. Eers was dit tydens die Noord-Transvalers se eerste opmars die Vrystaatse kwartgebied in. Du Preez het ‘n straftikskoppie geneem, vir François Hougaard in ruimte teen die oorkantste kantlyn gesien, ‘n voltrefferskoppie met ‘n boog daarin gepos en die jong vleuel het gevang, vasgemaak en oorgeval vir ‘n drie.

Morné Steyn, wat deesdae skop asof hy nooit weer die kans gaan kry nie, het verdoel. Tien minute later het ‘n Vrystaataanval nogmaals teen die Noord-Transvaalse kus gestrand, Dewald Potgieter is vort met die losbal wat hy Du Preez gevoer het. Die professoragtige skrumskakel het in die hart van Cheetah-gebied ingenael terwyl hy vir Bryan Habana van buite na binne gerangeer en toe soos ‘n pyl uit ‘n kruisboog oor die oop veld afgevuur het.

Die Vrystaat, blykbaar onbewus daarvan dat hulle neusdiep in die onwelriekendheid is, het net so ewe met hulle wedstryd aangegaan en aanval na aanval teen die Bloues gewerp. Maar weereens was dit ‘n onbeskermde bal wat hulle opgedok het en met al die dodelike skielikheid van ‘n muisval, het Fourie du Preez aan die werk gespring vir nog ‘n een-twee met Habana. Dié keer was dit ‘n venynige steekskop wat die aspirant Kapenaar gejaag en ingehaal het vir sy tweede drie.

Een, twee, drie houe soos Mike Tyson hulle in sy jeug geslaan het. Gerrie Coetzee het in sy hele loopbaan nie een keer van die planke af opgestaan om dit te doen nie. Arnold Taylor en Brian Mitchell het. Die Vrystaat het al dikwels. Maar nie dié keer nie.

Een-twee-drie, toe is hulle 0-21 agter. Van daar het Morné Steyn oorgeneem en nog vyftien punte gemunt. Natuurlik het die Vrystaat terugbaklei, heroïes ook, met die jong bulterriër, Heinrich Brüssouw in die middel, onder, bo, op die vleuel, in die middelveld, op die dekverdediging, op die aanval as skakel en as onplantbare baldraer, wat die stryd gevoer het. Op sy skouer was die blonde baksteen, Adriaan Strauss, die bittereinder Frans Viljoen en Nico Breedt.

Die Vrystaat het uiteindelik net soveel drieë as die Blou Bulle gedruk – drie, elkeen op sy manier ‘n meesterklas in flair, vasbyt en geduld. Maar Morné Steyn het die Noord-Transvalers buite bereik gehou. Boksgevegte word nie net deur bysteke gewen nie. Steyn weet duidelik hoe om soos ‘n skoenlapper te sweef.

Eindstryde is veronderstel om gruwelike taai, ongenaakbare, inhalige affêres te wees. Gister s’n was verseker nie ‘n dansles nie, maar dit was opwindend, vol passie en met ‘n asemrowende tempo. Dit is een vir die braaivleisvure en die legendebundels van môre. Die Vrystaat sal nie lekker slaap nie. Hulle sal omrol met die wete dat hulle hierdie wedstryd kon en behoort te gewen het.
As hulle net die bal beter beskerm het… of as Heini Adams maar net gespeel het, en nie die Professor van Pyn, Fourie du Preez nie.

купить джинсы брюки мальчикуtopcargo отзыв

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.