Hy kan doen met sewe miljoen

Deel op

Die uitgaande openbare beskermer Lawrence Mushwana het ‘n afskeidspakket van byna R7-miljoen ontvang, wat allerweë kritiek ontlok.

Hy word ook daarvan verdink dat hy vergeldingsoptrede teen die hoof van die openbare beskermer se kantoor, Themba Mthethwa, onderneem het omdat dié sy betaling bevraagteken het. Mushwana het Mthethwa geskors toe hy dit gewaag het om vrae daaroor te stel, waarna die geld binne 48 uur in sy rekening inbetaal is.

Die betaling is deur Shirley Thoke gemagtig, wat ses dae as uitvoerende bemapte van die beskermerskantoor waargeneem het, net lank genoeg om die sewe miljoen aan Mushwana oor te betaal. Sy is blykbaar ‘n vertroueling van Mushwana. Daar was voorheen sprake van “nepotisme” teen Mushwana as gevolg van die verhouding tussen hom en Thoke, maar dit is as ‘n “vendetta en ‘n smeerveldtog” teen hom afgemaak.

Volgens Mushwana is hy op so ‘n rojale uitbetaling geregtig omdat sy nuwe pos, voorsitter van die SA Menseregtekommissie, nie oor byvoordele beskik nie. Mushwana het ook met sy vertrek ‘n luuksevertrekvoertuig, ‘n BMW X5 wat as ampsvoertuig vir die openbare beskermer diens gedoen het, saam met hom geneem. Daarom moes die staat vir die nuwe openbare beskermer, Thulisile Madonsela, ‘n motor huur voordat hy ‘n nuwe voertuig sal ontvang.

Mushwana is veronderstel om die voertuig van die staat aan te koop indien hy dit sou wou hou, maar in weerwil van sy sewemiljoenpasella het hy nog niks betaal nie.

Die enorme gratifikasiebedrag wat Mushwana ontvang het, is in die openbare beskermer se jaarverslag opgeneem, wat in September sonder slag of stoot deur die parlement goedgekeur is. Tydens ‘n ondersoek deur die Johannesburgse koerant, die Mail & Guardian, is joernaliste van bakboord na stuurboord gestuur en wou die kantoor van die openbare beskermer, die parlement en die presidensie nie kommentaar lewer nie.

‘n Woordvoerder van die departement van justisie, Tlali Tlali, het gesê die departement beskik oor geen inligting oor Mushwana se gratifikasie nie aangesien die kantoor van die openbare beskermer ‘n onafhanklike grondwetlike liggaam is wat aan die nasionale vergadering verslag doen. Hoofstuk 9 van die SA grondwet maak daarvoor voorsiening.

Volgens Tlali “is dit nie outomaties dat besoldiging en diensvoorwaardes vir alle hoofstuk 9-instellings dieselfde is nie, aangesien elke instelling oor sy eie wetgewing beskik”.

Die voorsitter van die SA Menseregtekommissie (SAMRK) , wat insgelyks ‘n hoofstuk 9-instelling is, verdien effens minder as ‘n adjunkdirekteurgeneraal in die regering – ‘n jaarlikse salaris van R889 000. As openbare beskermer het Mushwana egter dieselfde salaris as ‘n regter verdien, ongeveer R1,5 miljoen.

As deel van sy “goue handdruk” het Mushwana blykbaar R90 000 se verlofgeld ontvang, iets wat nie binne die reëls toelaatbaar is nie.

машинкі на пультуФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.