Kop op die Blok sê: Wees stil my hart, die beker is blou

Voetbal word dikwels as ‘n metafoor vir oorlog gebruik. Maar die vergelyking kan ook anderkant toe vloei, want, maak geen fout nie, môre op Loftus is dit oorlog, en dit is oorlog vir die afficionado, ‘n keurslag tussen twee plettermagte met wyduiteenlopende samestellings, kragpunte en krygsdoktrines.

Ingegrawe aan die eenkant is die allesverowerende Blou Bulle, ‘n span wat herinner aan Romeinse blokformasies, wat staatmaak op maneuvrering, altyd op soek om hulle Schwerpunkt, hulle magsfokus, op die vyand se swakplek te konsentreer. Hulle strategie berus op klipharde frontliniekrygers wat in een ondeurdringbare skildmuur opereer, ‘n oordonderende lugaanval en vernietigende snellers in reserwe, gereed om deur bresse in die opponent se linies te klief. Teenoor hulle is ‘n meer ongereelde mag, ‘n bende stropers wat met mobiliteitstaktieke die vyand gaan lastig val, ontwrig en die falankse se hegte formasies gaan probeer lostorring.

Teenoor die kalm, momentumryke Romeinse linies van die Noord-Transvalers, gaan die Vrystaters kom soos Vikings, soos Genghis Kahn se Mongoolse ruitery, soos William Wallace se barbaarse Hooglanders, asof vanuit alle hoeke en windrigtings, vinnig, venynig en vreesaanjaend. Sukses in oorlog berus op ‘n mag se vermoë om met die vyand op ‘n plek en tyd van sy eie keuse slaags te raak. Die Blou Bulle se hele benadering berus daarop om die ander span terug te druk in dié se kwartgebied en om hulle daar in ‘n voorspelerkonfrontasie te betrek. Hardehande soos Derick Kuün, Gurthrö Steenkamp, Bakkies Botha en Pierre Spies kan dan as stormramme ontplooi word. Niemand is meer geduldig en verwoestend as dit by hierdie tipe beleg van ‘n doellyn kom nie. As die Vrystaat hulle self in die tipe uitmergelslag laat insuig, gaan hulle troepe uit die agterlyn moet onttrek om die aanslae rondom die losgemale te stuit, en met Olivier, Pretorius en Habana wat oorgehaal wag vir ‘n verskraling van die verdedigingslinies agterlangs, kan dit fataal wees.

Die Vrystaters sal hoop om met ‘n meer vloeibare inval die Ligbloues te dwing om hulle taktieke aan te pas. Die Cheetahs het self hierdie seisoen gewys hulle het ‘n voorpak wat kan rol en kan maal en kan rolmaal, maar hulle sal ‘n uitgebreide loopgraafworsteling wil vermy, juis omdat hulle kwesbaar is teen die teenaanval. Om ‘n verdedigingsoorlog in hulle eie kwartgebied te vermy, sal hulle die skopaanval van Morné Steyn en Fourie du Preez moet neutraliseer. Hoewel Jacques-Louis Potgieter en Hennie Daniller self weet wat die voorpunt van ‘n skopstewel is, is hulle beswaarlik die skerpskutters wat die Noord-Transvaalse nommer 9 en 10 is. Hulle beste verweer sal wees om uit diepte aan te val, iets waarvoor hulle uitmuntende flair het. Die beste scenario vir die Vrystaters sal ‘n gebroke slagveld wees, met kort, skerp skermutselings waar hulle Apache-stroopdief, Heinrich Brussouw optimaal aangewend kan word. Hy gaan by die breekpunte brutaal gekonfronteer word deur Deon Stegmann en Dewald Potgieter en dié worsteling gaan ‘n spitspunt van die wedstryd wees.

Vir Noord-Transvaal om dié wedstryd te wen, is dit nodig dat hulle deurgaans bedag daarop is dat die Vrystaat nie verslaan is voor ‘n onvoorwaardelike oorgawe wat eers na die eindfluitjie gaan kom nie. As die Cheetahs, met tien minute oor, nog binne trefafstand is, gaan die Blou Bulle sukkel om hulle vasgepen te hou. Daar is 22 Haaie wat somber dáárvan kan getuig.

Daar wag ‘n voetbalglorieverhaal om Saterdag geskryf te word. Die Blou Bulle kan ‘n epiese bloemlesing van oorwinnings voltooi. Steenkamp, Matfield, Botha, Rossouw, Du Preez, Olivier en Habana kan ‘n unieke versameling dekorasies saamstel as die Curriebekerwennersmedaljes om hulle nekke gehang word om teen dié van die Wêreldbeker, Drie Nasies-trofee en die Super 14 te klingel. Die Vrystaat, nou weer, kan nog ‘n oorlogsprokie by hulle Curriebekersuksesse van 2005, ‘6 en ‘7 skryf. Dis dan ‘n stryd tussen Wit en Blou en om te wen sal die Pretorianers spierwit gesukkel of die Vrystaters potblou baklei wees.

So, wie gaan dit wees wat vonkelwyn uit die tuitbeker drink? My hart sê ek gee nie om wie wen nie, maar my kop sê tuisterrein, ‘n wekroep tot geskiedenis, ‘n eindstryddeurwinterdheid en ‘n onwrikbare, suksesvolle wedstrydstrategie gaan Silvo op die Noord-Transvalers se inkopielys vir Maandag inskryf. Die Beker, soos die Afrikanerhartland se bloed, is Blou. Ek sit my kop op die blok: Die Blou Bulle wen met vyf punte nadat die Vrystaat ‘n manmoedige, flambojante, vatso! drie net voor die sirene druk.

игры детскииДанильченко Юрий Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.