Predator dalk strydig met internasionale wetgewing

Deel op

Die onbemande vliegtuie, die Predators, wat die VSA in Afghanistan en Pakistan teen vermeende terroriste gebruik, kan teenstrydig wees met internasionale wetgewing sê die VN se topondersoeker op dié gebied.

“Die probleem met die die VSA is dat hulle toenemend gebruik maak van Predators wat veral gebruik word in verhouding tot Pakistan en Afghanistan,” sê die VN se Spesiale Rapporteur vir Buitegeregtelike Teregstellings, Philip Alston.

“My kwelling is dat Predators aangewend word binne ‘n raamwerk wat internasionale humanitêre wette asook internasionale menseregtewette oortree,” het hy gesê.

Die Amerikaanse aanvalle wat met behulp van onbemande vliegtuie teen Talibanteikens uitgevoer is, het reeds tot burgerlike sterftes gelei en swaar kritiek van die plaaslike bevolking ontlok.

“Die regering van die VSA sal meer moet onthul oor die maniere waarop hulle maatreëls neem om nie arbitrêre buitegeregtelike teregstellings te laat plaasvind deur die gebruik van hierdie wapens nie.”

Alston sê hy het ‘n verslag oor die kwessie aan die VN se Algemene vergadering voorgelê.

Hy het die VSA aangemoedig om meer openhartig te wees oor hoe en wanneer hulle onbemande tuie gebruik. Dit is iets waaroor die Amerikaanse department van verdediging en die CIA gewoonlik stil is.

“Ons wil hê die VSA moet meer openhartig wees en sê ‘OK, ons is bereid om sekere aspekte van die program te bespreek’, anders het ‘n mens werklikwaar ‘n problematiese onderbou waar die CIA ‘n program bestuur waar ‘n aansienlike aantal mense gedood word en daar geen verantwoording in terme van die relevante internasionale wette is nie.”

Sedert August 2008, het ongeveer 70 aanvalle deur onbemande tuie byna 600 mense in die noordooste van Pakistan gedood.

“Ek wil graag weet wat die wetlike basis is waarop die VSA opereer, maw, wie bestuur die program, watter aanspreeklikheidsmeganismes is in plek wat dit aanbetref,” het Alston gesê.

“Ten tweede, watter voorsorgmaatreëls het die VSA in plek om seker te maak dat hierdie wapens streng vir die doel wat ooreenstem met internasionale humaitêre wette, aangewend word?”

“Derdens, watter soort hersieningsmeganisme is daar om te evalueer wanneer hierdie wapens gebruik word? Dit is die kwessies wat ek aangespreek wil sien.”

 

online slots forДанильченко Юрий отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.