Blanke oudstryders deur SANW afgejak

Oud-lede van ‘n peloton wat met onderskeiding aan die Grensoorlog deelgeneem het, is toestemming geweier om hulde aan gevalle makkers in Bloemfontein te bring. 1 Suid-Afrikaanse Infanteriebattaljon in Tempe, Bloemfontein, het aanvanklik onderneem om ‘n dinee vir die peloton tydens hulle 25-jarige reünie aan te bied. Hierdie reëling is onverwags eensydig deur die SANW gekanselleer. Die peloton het wel Vrydagmiddag ‘n welwillendheidsbesoek aan die eenheid gebring, maar is van die gronde verdryf toe hulle toestemming gevra het om na die Muur van Herinnering te gaan om veral die herinnering van hulle toenmalige pelotonsersant, Pierre Digue, te eer.

Volgens majoor John Meyer van 1 SAI, is die peloton se versoek om hulle dinee in die eenheid se klub  te hou, deur generaalmajoor TM Nkabinde, van die Infanterieformasie in Pretoria gekanselleer. Hy sê die peloton het ‘n uiters eerbiedige brief aan die eenheid gerig waarin hulle vra om die dinee daar te hou en selfs so ver gegaan het om hulle krygsdeskundigheid tot die eenheid se beskikking te stel. Generaalmajoor Nkabinde het gesê dat die peloton nie die regte kanale gevolg het nie.

“Natuurlik  het ons die regte kanale gevolg,” het ‘n ontstoke meneer Paul Stone, hoofaankoper van ‘n nasionale sporttoerustingmaatskappy, gesê. “Ons het op die regte plek begin. Ons het die eenheid gekontak en twee van ons lede het selfs ‘n afspraak gemaak en daarheen gery vir ‘n vergadering. Waar wil die generaal hê moet ons begin?”

Hierdie twee lede is hoflik deur majoor Meyer en sammajoor van Helden ontvang en planne vir die dinee, waarvoor die peloton sou betaal, is gesmee.

Die gort was behoorlik gaar toe die peloton eers ingelig is dat ‘n staptoer deur die eenheid goedgekeur is en binne minute daarna meegedeel is dat die eenheidsbevelvoerder, luitenantkolonel Baker, hulle beveel het om die terrein te verlaat. Dit is veral toe hulle verbied is om die Muur van Herinnering met die naam van Sersant Digue daarop, te besoek.

“Al hulde wat ek aan hom kon bring, was om die plaatjie met sy naam daarop in die HK met my duim skoon te vryf,” het ‘n bewoë meneer Charles Dunstan van Pretoria gesê. “Twee van ons pelotonlede het gehelp om hom te begrawe, en nou word ons verbied om voor die Muur te vergader om sy herinnering te eer.”

Gustav Venter, Praag-rubriekskrywer en lid van die peloton, sê hy het geen twyfel oor wat die rede agter die weiering is nie: “Dis skreiende rassisme, niks anders nie. As dit ‘n swart peloton was wat daar wou vergader, sou die generaal inskiklik gewees het. Maar ons is wit en hulle is bang vir ons. Ons het die vyand in 1984 onder die blaker geskop en dit ontsenu hulle.”

Die peloton, bekend as die Hoof van die Leër se Peloton, het met welslae aan Operasie Askari in 1983 deelgeneem. Volgens die destydse Hoof van die Leër, generaal Jannie Geldenhuys, het die Suid-Afrikaanse Weermag tydens dié operasie verskeie lankgekoesterde gebooie van gemeganiseerde oorlogvoering herskryf, veral in die manier waarop die hoogs mobiele, maar relatief dun gepantserde Ratel-infanteriegevegsvoertuig, gebruik is om Russiese tenks te vernietig. “Voor dít gebeur het,” het generaal Geldenhuys gesê, “was dit ‘n onbetwyfelde gebod dat slegs ‘n tenk ‘n ander tenk kan vernietig.”

Die peloton het besluit om die terrein vreedsaam te verlaat. “Ek het respek vir majoor Meyer en die manier waarop hy ons ontvang het, “ het mnr. Venter gesê. “Dit is die enigste rede hoekom ek ingestem het om die eenheid vreedsaam te verlaat. Maar ek was gereed om die plek af te breek. En moenie fout maak nie, met hierdie peloton agter my, selfs na 25 jaar, kon ons dit gedoen het.

Nkabinde is net nog ‘n senior offisier wat sy rang aan vergeldingsaksie te danke het. Het hy ‘n dag se behoorlike basiese of ander opleiding ontvang? Ek glo nie. As hy het sou hy die basiese beginsels van militêre hoflikheid verstaan het. Dis as gevolg van sulke arrogansie en onbeholpenheid dat die nuwe weermag so ‘n patetiese grap is.”

Venter en mnr. Stone het wel instruksies verontagsaam en in ‘n paar oomblikke van stilte hulde aan hulle gevalle kameraad by die Muur van Herinnering gebring.

люстры подвесные интернет магазинФильчаков прокурор харькова

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.