Veel opwinding by Frankfurtse motorskou

Deel op

Die onlangse Duitse motorskou is die hoogtepunt van elke Europese vervaardiger se uitstalkas.

Dit verteenwoordig nie net die wêreld se grootste motorskou nie, maar ook een van die heel belangrikstes omdat die meeste Europese vervaardigers hier al hulle nuutste tegnologie en modelle bekendstel.

Audi

Audi het hulle A5 Sportback hier vrygestel. Dit is eintlik n vierdeursedan met n koepeetipe daklyn soos in die Mercedes CLS. Die Sportback is langer as die A4 en groter as die A5-koepee. Hy het ook ‘n luikdeur met n geweldige groot begasieruim. Sy kopruimte binne is slegs 5 mm minder as dié in die A4. Die motor is dan ook eintlik n viersitplek en nie soos die A4 ‘n vyfsitplek nie. Enjins in die Sportback is dieselfde as in die A4; ons weet egter nog nie watter van hulle plaaslik beskikbaar sal wees nie. Audi het insgelyks hulle R8 Spyder bekendgestel. Die motor is toegerus met dieselfde V10 5,2-literenjin as die koepee. Die materiaaldak kan binne 19 sekondes afslaan en jy kan tot 50 km/u ry terwyl die die dak op- of afgeslaan word. Audi het ook ‘nn elektriese weergawe van die R8 aan die skougangers gewys. Die motor is nog net ‘n konsep maar met die pole wat so smelt kan die R8 gouer sonder sy V10-enjin wees as wat ons dink.

Bentley

Bentley het ook n “kleiner” model bekendgestel. Die Mulsanne is nou wel meer kompak as die Brooklands en die Corniches waaraan ons gewoond geraak het, maar die motor is nog steeds een van die grootstes op die pad. Sy enjin is ‘n 6,75-liter V8 en die onderstel is effens korter as 5m. Oor die 600 ingeneurs het aan die ontwikkeling van die Mulsanne gewerk en Bentley sê dat hulle die uitlaatgasse met nog 40% oor die volgende drie jaar wil verminder. Die motor het snaakse lyne, maar is tog herkenbaar as ‘n egte Bentley.

BMW

BMW het soos gewoonlik die kluts weer heeltemal kwyt geraak. Hulle het die oplossing vir ‘n probleem wat nie daar was nie gaan uitdink. Die 5-reeks GT of Gran Turismo is bekendgestel. Wel wat kan ons sê, dit is net soos die X6 baie lelik en heeltemal onnodig. Die 5 GT is nou wel ‘n 5-reeks, maar sy onderstel is eintlik van die nuwe 7-reeks afkomstig. Binne is die motor pure BMW-weelde met ‘nn klein bietjie praktiese ondernemingsgees. Buite is die nuwe motor egter uit verhouding uit lank en lyk dit kompleet of dit ‘n liefdeskind tussen ‘n 1-reeks en ‘n 7-reeks is. Dit is amper iets soos Mercedes se R-klas. Wat wel onthullend aangaande die 5 GT is, is die feit dat dit waarskynlik ‘n goeie idee gee van hoe die 5-reeks gaan lyk, net sonder die groot luikrugdeur agter. Waaraan BMW nie gedink het nie, is om die motor net die GT of 8-reeks te genoem het. Dit verteenwoordig n mengesel tussen ‘n sportsedan, luikrug, veeldoelwa, stasiewa en ‘n limo… Ai tog BMW! Die X1 is net so vreemd. Nie dat die motor enigsins vreemd lyk nie; dit is n waardige, sagte veldvoertuig. Maar hoekom die X1? Die ding is net so groot soos die huidige X3, hoekom hom nie gewoon die X3 noem nie? Hy gaan net so duur wees soos die X3 en is ook nie regtig ‘n veldvoertuig nie. Die motor is boonop gebaseer op die huidige 3-reeks en nie die 1-reeks nie. Iemand by BMW rook iets.

Citroën

Die Franse het nou maar eenmaal styl en oorspronklikheid. Citroën het hulle splinternuwe DS3 bekendgestel. Die DS-kenteken sal aan die bopunt van elke modelgroep staan, so met ander woorde die DS3 is aan die bopunt van die C3, die DS4 sal bo-aan die C4-modelreeks wees en die DS5 bo die C5. Citroën sê hulle wil die Mini en die Fiat 500 met dié outjie aanvat. Wel een ding is seker, die Citroën is heelwat groter as beide daardie retronommertjies. Die DS3 sal in petrol- en dieselweergawes beskikbaar wees. Net onder die DS3 is die splinternuwe C3. Dié nuweling is nie net langer en breër nie maar bied ook heelwat meer spasie in die binneruim. Sagter lyne as sy voorganger en meer moderne rondings maak die nuwe C3 nog meer aantreklik vir sy teikenmark. Nou is die C3 in dieselfde klas as sy naaste teenstander, die Ford Fiesta.

Ferrari

Sekerlik een van Ferrari se heel belangrikste motors is die F430, maar nou het die manne van Maranello die 458 Italia bekendgestel. Die 458 vervang die F430 en dit op sigself vertel die storie van hoe belangrik die motor is. Dit is die brood-en-botter-model van die Ferraristal, die goedkoopste Ferrari wat geld kan koop. Die enjin is ‘n 4,5-liter V8 met 413 KW en hope wringkrag. Trouens, die 458 beskik oor ‘n kwart meer wringkrag by 6000 toere as die F430 Scuderia.  Die 458 gebruik ook die dubbelkoppelaar uit die Calafornia. Danksy die hulp van ‘n sekere mnr Schumacher is daar 140 kg afwaartse druk by 200 km/u. Die 458 Italia kan die 100km/u-merk binne 3,4 sekondes haal en sy asem sal eers by 323km/u opraak.

Ford

Ford het ook sy veeldoelvoertuig, die C-Max, bekendgestel. Nou of die ouens in Brittanje dit weet of nie, die naam laat my aan ‘n sekere adres in Pretoria dink. Die C-Max is natuurlike gegrond op die Focus en bied dan ook baie meer ruimte as die Focus met dieselfde rygerief en lyne. Wel, nie heeltemal nie, die bussie is so effens langer en hoër as die Focus. Motors soos die Renault Scenic en Mazda 5 sal moet wakker slaap met die Fordjie op die horizon. Die C-Max het ‘n nuwegeslag-Ecoboost-enjin in. Die verplasing is slegs 1,6 liter maar hy ontwikkel 108 KW se krag danksy ‘n laedrukturboaanjaer. Daar is ook ‘n 2,0-liter Ecoboost met 130 KW wat later in die Mondeo gebruik gaan word. Ford praat van ‘n 1,4-liter en selfs ‘n 1,2-literweergawe later in 2010.

Hyundai

Soos ons nou al met die Koriane geleer het, doen hulle dinge baie vinnig. Die Hyundai Tuscon wat baie goed vir Hyundai oor die wêreld heen vaar, is so pas met die ix35 vervang. Dit sit die naamsveranderings van die i10, i20 en i30 voort, ix staan natuurlike vir 4×4-aandrywing. Nou ja, al die modelle in die ix35 reeks is darem nie 4×4 nie, daar is 4×2-modelle ook. Twee enjins word gebruik: ‘n 1,6-liter petrol met turbokrag wat 125 KW lewer en ‘n 2,0-liter turbodieseleenheid. Ons verwag die ix35 aan die begin van 2010 op plaaslike bodem.

купить воронеж моечно-уборочное оборудованиелобановский александр дочь

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.