Steun vir BNP styg sterk in Brittanje

Deel op

Byna ‘n kwart van volwassenes sou dit oorweeg om vir die regse Britse Nasionale Party te stem, het ‘n meningsopname vandag getoon, ná die partyleier se omstrede deelname aan ‘n BBC-TV-program.

Die YouGov-opname vir die Britse koerant, die Daily Telegraph, wat gedoen is nadat die BNP-voorsitter Nick Griffin Donderdag vir die eerste keer op “Question Time”, die BBC se gewildste politieke paneelbespreking, verskyn het, het bevind dat 22 persent van kiesers dit “ernstig sou oorweeg” om vir die BNP te stem.

Die vraag of Griffen toegelaat moes gewees het om op die program te verskyn – asook kritiek oor die uitsending self – het ‘n vuurwarm debat in Brittanje ontketen en koerantopskrifte oor die afgelope dae oorheers.

Vele kritici van Griffin se deelname vrees dat die platform wat hy ontvang het die regse party ‘n hupstoot gaan gee.

Die meningsopname het bevind dat vier persent gesê het hulle gaan “definitief” oorweeg om vir die BNP te stem, ‘n verdere drie persent sou dit “waarskynlik” oorweeg, met 15 persent wat gesê het hulle is “moontlike” BNP-kiesers.

Meer as die helfte van diegene wat aan die meningsopname deelgeneem het, het met die BNP saamgestem of gedink dat die party “‘n punt beet het” deur te poog om “vir die belange van die inheemse, blanke Britse volk op te kom… wat nie genoegsaam deur opeenvolgende regerings beskerm is nie”.

Ingeslote hierby is 43 persent wat saamgestem het dat hulle “geen simpatie vir die party self het nie”, hoewel hulle die party se kommer gedeeltelik begryp.

Omtrent 12 persent het gemeen dat hulle geheel en al met die BNP saamstem, teenoor 38 persent wat gesê het dat hulle totaal met van die party se politiek verskil.

Die BNP het op se webwerf beweer dat 9 000 mense hetsy aangeteken het hetsy “as potensiële lede geregistreer het of hul name op poslyste geplaas het” sedert die uitsendig plaasgevind het.

Die Britse minister Peter Hain, wat ‘n prominente rol in die eertydse veldtog teen die ou Suid-Afrika in Brittanje gespeel het, het tevergeefs probeer om Griffin van die kassie af te hou. “Dis presies wat ek gevrees het sou gebeur en waaroor ek gewaarsku het.

“Die BBC het vir die BNP die geskenk van die eeu gegee en nou sien ons die gevolge. Ek is woedend hieroor.”

Die BBC het Griffin uitgenooi nadat sy party byna ‘n miljoen stemme – en 6,2 persent – tydens die Europese verkiesing in Junie behaal het, wat genoeg was om Griffin en ‘n kollega na die Europese Parlement in Straatsburg, Frankryk, te stuur.

Die BBC het sy besluit verdedig deut te sê as staatsuitsaaier is hy verplig om onpartydig op te tree.

Die uitsaaier het ook gesê dat hy meer as 350 klagtes oor die uitsending ontvang het, maar die meeste was van kykers wat gemeen het dat die program bevooroordeeld teen die BNP was.

Nagenoeg agt miljoen mense het na die uitsending gekyk – drie keer die gewone gehoor.

VAndag se koerante in Brittanje wemel van berigte en kommentaar oor Griffin se verskyning. Hoofartikels bevat kritiek teen Griffin en die BNP, maar ook die formaat van die program en die paneellede.

Die Times het gesê die BBC was reg om Griffin uit te nooi, maar het “belangrike foute” gedurende die program gemaak, waaronder die vervaardiging van ‘n uitsending “net oor hom” wat “vir die onbetrokke kyker gevaarlik naby aan ‘n geboelie kon gelyk het”.

Die Daily Mail het foto’s van die gehoor geplaas wat blykbaar met die hand uitgesoek is om ‘n skewe beeld van Brittanje as ‘n land van gekleurdes te skep (92% van Britse burgers is steeds blankes). Die programaanbieder, David Dimbleby, het blykbaar lede van die gehoor vooraf aangemoedig om te boe en tussenwerpsels te skree.

Die Financial Times het gesê: “Dis skandelik dat geen van die hoofstroompolitici op die programpaneel die rassiste gekonfronteer het deur immigrasie te verdedig nie.”

Die BNP se webmeester Simon Bennett het gesê: “Tydens die Euro-verkiesings het ons 40 000 navrae bygekry, maar halfmiljoen pond bestee om dit reg te kry.

“Op ‘Question Time’-aand het ons ‘n bagatel uitgegee maar het byna 25 persent van die Euro-verkiesingstotaal behaal binne die bestek van agt ure.

“Ons het ‘n geweldige aantal nuwe mense bekom wat onstel is deur die boelietaktiek wat teen voorsitter Nick Griffin toegepas is.”

Griffin het Vrydag die BBC daarvan beskuldig dat hy ‘n “hangparty” op hom losgelaat het en het geëis dat die program heropgeneem word.

Volgens Griffin was die lede van die Londense gehoor, wat hom met woedende vrae gepeper het, afkomstig vanuit ‘n stad wat reeds “etnies van blanke mense gesuiwer is”.

Hy het gesê dat hy ‘n formele klag teen die BBC aanhangig gaan maak en hulle daarvan beskuldig dat hulle die formaat van die program verander het om hom in ‘n slegte lig te stel.

YouGov het Donderdag en Vrydag aanlynonderhoude met 1 314 kiesers gevoer.

Die opname het die hoofopposisie, die Konserwatiewes se steun op 40 persent geskat, die regerende Arbeidersparty s’n op 27 persent, die Liberaal-Demokrate op 19 persent en ander partye op 14 persent – waaronder drie persent vir die BNP.

для дачиФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.