Blink motors, vrot paaie

Deel op

Dit sal baie interessant wees om uit te vind waarom die meeste ANC ministers díé spesifieke motorfabrikate verkies, wat hulle só ruimskoots met belasting geld aankoop. Dit is gewoonlik swart en baie luuks met laeprofiel bande. Met ander woorde, die motor se bakwerk is baie naby aan die padoppervlak. Mnr. Trevor Manuel, minister van “wie weet wat ookal”, het baie onlangs ook vir hom so ‘n enetjie aangeskaf. Die motor het in die omgewing van ‘n miljoen rand gekos. En dit nadat hy deur baie beskou is as iemand wat weet hoe om verantwoordelik met die belastingbetaler se geld om te gaan.

Dit is duidelik dat hierdie ministers, met hierdie motors, slegs op die land se tolpaaie bestuur, want op enige ander pad kan daar deesdae net met ‘n vierwiel-aangedrewe voertuig veilig by jou bestemming uitgekom word. Dit is dalk die rede waarom regeringsamptenare nie weet in watter haglike toestand die land se paaie is nie, want hulle motors kan nie daar ry nie.

Dit het verlede week in ‘n parlementêre debat geblyk dat Suid-Afrika ‘n padonderhoud-agterstand van R38,3 miljard rand in die gesig staar. Die minister van vervoer, mnr. Sbu Ndebele, het erken dat die land ’n agterstand van R18,4 miljard het, wat betref die onderhoud van die kern-netwerk van nasionale paaie. In die provinsies is daar ’n verdere agterstand van R19,9 miljard. Verder kan hy egter nie sê of die agterstand ingehaal kan word nie, maar kan hy net bevestig dat dit wel die benarde situasie is. Of die pad-probleme opgelos kan word, hang daarvan af of die nasionale tesourie genoeg geld beskikbaar kan stel.

Dit is ‘n feit dat 32%, dit is 4 142 km, van die nie-tolpaaie wat nog bestaan, ’n oorblywende strukturele lewensverwagting van minder as vyf jaar het. Om dit in die volgende vyf jaar te herstel, sal R35,2 miljard kos. Tans is die begroting hiervoor, in terme van die mediumtermyn-begrotingsraamwerk, slegs R16,8 miljard. Dit beteken net 1 980 km se paaie sal versterk kan word.

Oplossings is die volgende: Die belastingbetaler moet verder besteel word met die uitbreiding van tolpaaie, of geld moet iewers geleen word om die paaie te herstel. Die tweede opsie sal natuurlik die koste van herstel amper verdubbel. As die paaie egter nie onderhou word nie, sal hulle tot niet gaan, met ernstige gevolge vir die land se ekonomie.

Net soos met die land se infrastruktuur vir elektrisiteit, water en spoorvervoer, is die situasie met paaie die gevolg van jare se verwaarlosing, swak beplanning en die tekort van goed geskoolde ingenieurs en padbouers.

Hierdie blink-motor-ministers word uitgedaag om ‘n slag bietjie tussen Middelburg en Wonderfontein te gaan ry. Gaan doen ‘n paar besoeke in die omgewing van Standerton. Gaan kyk hoe lyk die pad tussen Jozini en Mkuze. Gaan ry ‘n slag saam met ‘n boer mielies in silo’s toe, in die Carolina omgewing. Van hierdie paaie is onherstelbaar; dit sal heeltemal oorgebou moet word.

Die genoemde bedrag van R35,2 miljard skiet dus reeds ver te kort.

 

to playлобановский класс харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.