Die ANC-regime is al weer uit op ‘n kinderagtige veldtog van naamsveranderinge. Naamsveranderinge is uiteraard niks anders nie as pure afguns vanuit die oord van diegene wat die vernietigers van welvaart en die beskawing is, wat nooit op hul eie iets tot stand kon bring nie.
Dit help egter nie om hierteen te skop nie. As ‘n goeie passasier op die sneltrein Suid-Afrika wat toenemend spoed optel op sy spoor na ‘n piesangrepubliek, het ek dus besluit om ‘n paar veranderinge van my eie voor te stel.
Glenn Agliotti se woonplek, Bryanston, word Chicago.
“Regter” Nkola Motata se geboorteplek word na Bordeaux herdoop.
Kameraad Blade Nzimande, kaviaarkommunis en nouveau-Wabenzi, se geboorteprovinsie, Kwazulu Natal, sal van nou af Beiere heet.
Jacob Zuma, wie se party na bewering sal regeer tot die Wederkoms, se geboortedorp, Nkandla, word herdoop na Nasaret.
Schabir Shaik, wat aan die terminale toestand bekend as die lewe ly, se buurt Berea in Durban, word Betanië (gaan lees Johannes 11).
Julius Malema se geboortedorp, Seshego, word Houtbaai. (Ek weet daar is geen see naby Pietersburg nie, maar ek kon dit kwalik Houtkop noem, nie waar nie?)
Lees Anton Barnard se gereelde kommentaar op die woernaal SAmizdat.