En toe die Haaie weer kyk, verloor hulle

Deel op

Gister het ek geskryf dat as daar een span is wat die Cheetahs se nommer het, dan is dit die Haaie. Daar het gister niks op King’s Park gebeur om my van mening te laat verander nie. Oorweeg die volgende: Dis tien minute na rustyd. Die Haaie loop voor met 18 punte teen drie. Hulle het reeds twee van hulle handelsmerkende karwatsdrieë gedruk, die eerste ‘n knikskoppie deur Stefan Terblanche in die doelgebied toegeval en die tweede ‘n netjies vervaardigde een met al die styl en presiesheid van die tipiese Haaie-teenaanval wat deur Ruan Pienaar gefinaliseer is.

Die Haaie dirigeer nou in die skrums, die lynstane en die vaste los. Die wind is tussen hulle skouerblaaie en Juan Martin Hernandez het so pas ‘n skepskop tussen die regoppes deur versend. Dít is ‘n span wat die teenstaanders se nommer het. Wat niemand kon voorspel het nie is dat hulle toe sou weier om ‘n munt in die tiekieboks te gooi en die Vrystaters te bel.

Wat hulle gedoen het is om hulle speelgoed te begin wegpak, boonop onder die indruk dat die Cheetahs weet wanneer hulle verloor het. Met die balbesit wat hulle kant toe gekom het, het die Vrystaters strooptogte in Natalse gebied geloods en kort voor lank het die jong stut, WP Nel, ‘n tonnel deur die pak verdedigers gevind en ‘n drie gedruk.  Hierdie punte, op twee Jacques-Louis Potgieter-strafskoppe gestapel, het die Vrystaters skielik binne reikafstand gebring. Die laaste ding wat die Natallers nodig gehad het, was ‘n opraap-en-skoertdrie teen hulle. En dis presies wat hulle getref het toe Ruan Pienaar die bal aangegee het dat dit soos ‘n nat kombers trek. Die ontembare Potgieter het dit opgepik en sy bonkige lyf wonderbaarlik voor die agtervolging van JP Pietersen gehou vir ‘n drie onder die pale.

Die Haaie het grootoog in ontkenning na die telbord gestaar waarop die Spikkelkatte asof deur goëlery twee punte voor was. Ruan Pienaar het wel orde in die Natalse rugbywêreld herstel met ‘n strafskop wat die Haaie laat voor kruip het met een magtige punt.

Daar was nog twintig minute se spel oor en daar was alle rede om te vermoed dat die Cheetahs se reserwetenk nou ook sou droog loop. Al wat nou moes gebeur was vir die Haaie om die tiekieboks te voer… In stede daarvan het hulle op die skepskop as wedstrydbeklinker besluit. Die wiskunde was dat sou hulle troffe, dan het hulle ‘n voorsprong van vier punte. Mis hulle, wel, dan is die Vrystaat immers in kwartgebiedkwarantyn. Soos wat dinge uitgewerk het, het Hernandez die pale aan alle kante misgeskop.

‘n Skepskop het wél die wedstryd beklink. Potgieter het die bal op een of ander manier tussen ‘n falanks Haaispelers deurgeryg om die volle place-drop-en-score pakket te behaal.  Sy oes vir die dag was 18 punte.

‘n Eindstryd oor twee weke is op die Cheetah-rooster. Dit gaan ‘n fassinerende een op Loftus tussen twee kontrasterende spanne wees. En wie sou die Vrystaters kwalik neem as hulle daarheen gaan met die vaste geloof dat enige iets kan gebeur?

для сваркиФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.