WP besin oor die lewe, die heelal en twee punte

Deel op

Die WP het gister ‘n voorsprong van een punt probeer verdedig en daarom met twee punte verloor. Dit is die droewige waarheid waaroor die Kapenaars vandag moet probeer kom. Met twaalf minute in die wedstryd voor, en loshande met een punt voor, met die Blou Bulle op kraal in hulle eie kwartgebied, het die WP opgehou om harde punte te probeer maak en het eerder die sagte opsies gekies.

Hulle sou goed gedien gewees het deur die bal te behou en op kort afstand aan te val, maar het eerder die Blou Bulle probeer terugskop in die kraal in. Dit pen die Blou Bulle mos vas waar hulle nie wil wees nie – in die onmiddellike omgewing van hulle doelgebied. Die swakheid met dié plan was dat dit die Blou Bulle iets verskaf het wat hulle bo alles begeer het: Die bal. Hulle het uiteindelik uit die kraal gebars, die bal veldop gedra, ‘n hoogvatstrafskop verwerf – en toe vat Morné Steyn die bal en beduie pale – 53 meter van waar Mark Lawrence na die hemele gewys en sy fluitjie geblaas het – toe…

Dis nie asof die WP enige bevestiging van die Noord-Transvaalse losskakel se vernietigende vermoëns makeer het nie.  Teen hierdie gevorderde stadium van die wedstryd – 3 minute voor sluitingstyd – het hy reeds ses uit ses strafskoppe deur die pale geryg met al die oënskynlike ongeërgdheid van ‘n ou tannie wat ‘n oorbekende patroon hekel.  Hy het die skade vroeg reeds begin, ironies genoeg in die tyd wat Bakkies Botha ‘n geelkaart uitgedien het. Die Blou Bulle se stadige gif het toe reeds die WP se lugweë toegeknyp en Steyn het twee strafskoppe met sjirurgiese presiesheid aangeteken.

Dis so al asof die vreesaanjaende Bakkies dié keer maar buite perke moes gebly het, want na sy terugkeer het WP ritme van ‘n aard gevind en veldaf uitgebreek. Daar is hulle ingewag deur die Noord-Transvalers se baldiewe, die blonde Viking Dewald Potgieter en die gespierde mol, Deon Stegmann. Die gestreepte aanslag is telkens teruggedryf en Steyn het die pale nog twee keer in die visier gekry en natuurlik raak geskiet. Maar die WP se nuwe Percy, Joe Pietersen, het self ses punte met strafskoppe teruggehark.

Albei spanne het met venyn aangeval en roekeloos verdedig. Vir die grootste deel van die wedstryd was dit die Blou Bulle wat die grootste bedreiging vir die doellyn ingehou het, maar heroïese verdediging van die WP het hulle elke keer, soms binne die laaste sentimeters, gestuit. Die rustydtelling was 12-6 vir die Bloues.

Na lang pouse het die balans van die wedstryd in die WP se guns begin kantel, en toe hulle ‘n meevaller kry – ‘n deurgeknikkerde bal wat deur Gio  Aplon gejag en toegeval is – het ‘n nuwe geloof hulle beetgepak en het hulle met geesdrif en flair aangeval en hulle neuse voorgekry. Die skuts het strafskoppe uitgeruil en, met twaalf minute oor, was die Kapenaars met daardie een reuse punt voor. Dis toe dat hulle besluit om  dit te verdedig.

Dit was ‘n Nqalevuki wasgoedlynlak op Jaco Pretorius wat die koeël in die Steyn-geweer gelaai het.
Die WP kon nie weer die bal terugwen nie en die Blou Bulle het die spel met ‘n mate van selfversekering versmoor om met 21-19 te wen.  Vandag, terwyl die Noord-Transvalers rustig begin beplan om die Cheetahs op Loftus te ontvang, kan die WP maar net tob hoe naby een punt is en hoe oneindig ver twee is.

детские трубки для плаванияФильчаков Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.