Kop op die Blok: WP se seuns nie mans genoeg

Deel op

Geykte uitdrukkings vloei hierdie hele week uit die Kaap uit. Dis asof hulle ‘n trommel vol stempels het, elkeen met ‘n cliché op, en wanneer die halfeindrondtetyd in die Curriebekerseisoen is, trek hulle dit nader.

Tjap! Dis ‘n uitklopwedstryd en enige iets kan gebeur.

Tjap! Tuisvoordeel.

Tjap! Die wedstryd vind tussen vier wit lyne plaas.

Tjap! Die wedstryd word op gras en nie op papier nie gespeel.

Wat alles bewys dat die WP-rasiemasjien kan lees, so goed asof hulle in die Ou Suid-Afrika skool gegaan het. Wat hulle op papier raak lees, is dat dit nie is waar hulle die Bulle wil pak nie. Die Blou Bulle het ‘n span, nie net vol sterre nie, maar gelaai met legendes soos Victor Matfield, Bakkies Botha, Pierre Spies, Fourie du Preez en Bryan Habana. En as Morné Steyn nog nie volwaardig legendaries is nie., het hy al die oormerke van een.  Meer beduidend nog is dat hierdie nie legendes is wat ‘n span uitmaak nie, maar eerder ‘n span wat legendes maak.  Dit word beklemtoon deur die geklingel van silwerware in hulle koffers.

‘n Groot tros van hierdie Blou Bulle het die kans op ‘n unieke seisoensprestasie: ‘n Volhuis trofeë. Steenkamp, Matfield, Botha, Spies, Rossouw, Du Preez, Steyn en Olivier het reeds triomfsirkels met die Super-14-  en Drie Nasies-trofeë gedraf, en hulle het ook aandele in die William Webb Ellis-beker. ‘n Curriebeker sal hulle… ûhmm… bekers laat oorloop. Dit sê iets en die WP kan hulle clichéstempels byderhand hou. Want – tjap! – wen is ‘n gewoonte, en die Blou Bulle – tjap! – weet hoe om trofeë te wen. Ervaring en Grootwedstrydtemperament kan nie gekoop word nie. Tjap!-tjap!-tjap!

Die Blou Bulle gaan wen want – tjap! – jy stuur nie kinders om grootmense se werk te doen nie. En die WP is in wese ‘n span van kinders, in elk geval in vergelyking met die Bloubaarde van Pretoria. Die enigste onderdeel van hulle spel wat teen die Noord-Transvalers s’n kan opweeg, is hulle voorry, en in ‘n mindere mate hulle lostrio van Oeps Watson, Duane Vermeulen en die gehapte Francois Louw. Hulle vaste vyf is te lig, te groen en te intimideerbaar om huis te hou met Derick Kuün, Gurthro Steenkamp, Matfield en veral Bakkies Botha.

Agterlangs is dit die kort wedstrydkerfstokkies wat gaan tel. Dit kan ‘n interessante fantasie-oefening wees om te spekuleer hoe ‘n WP op hulle beste teen ‘n Noord-Transvaal op húlle beste sal vaar. Die punt is egter juis dat die WP nié op hulle beste kan wees in die stroomversnellings van ‘n uitklopwedstryd nie. Die gewig van besluite, die innerlike stukrag om planne uit te voer en die rekbaarheid van gemoed om terugslae te verwerk, sal ongetwyfeld ontbreek.

En gaan vra maar net vir die Crusaders, die Chiefs en die Haaie uit na die druk wat die Bulle op jou plaas in so ‘n situasie. Dis die soort las wat kampioenspanne al geknak het. Die Blou Bul-matrys is die een waarnatoe Peter de Villiers oorgeskakel het na sy aanvanklike, euforiese waansin, en hierdie patroon is onweerstaanbaar uitgevoer deur hoofsaaklik Bul-personeel.

Ons  weet dit, en wat meer is, die WP se afrigterspan weet dit. En hulle weet ook dat hierdie druk hoofsaaklik streskrake gaan bring in die agterlyn van die Kapenaars. Derhalwe soek hulle dringend na stabiliteit in die verdedigingskanale. So desperaat is hulle dat hulle ‘n onbeproefde penkopsenter, Paul Bosch, nadergehark het, bloot vanweë sy reputasie as ‘n goeie lakker.  Wel, mag die boetman op sy stukke wees, want van hom word verwag om die beste lynbreker in Suid-Afrikaanse rugby, Wynand Olivier, op hok te hou.

Dis bekend dat die WP baie erg is oor hulle tuisveld. Mag hulle ewe geheg wees aan hulle eie kwartgebied, want dit is presies waar hulle die grootste deel van hulle middag gaan deurbring. Dit laat die losbreekaanval as hulle vername offensiewe wapen. Maar daarvoor het hulle skielik steelbesit en ‘n losgetorringde spel nodig. En waar gaan hulle dít teen die Blou Bulle kry.

Die WP het ‘n onverwagse goeie seisoen beleef. Hulle het die halfeindrondte in die tweede plek op die punteleer gehaal. Uitmuntende prestasie. Nou moet hulle tevrede wees, want dit is die hoogtepunt van hulle seisoen.

Die Blou Bulle gaan wen met tien punte of meer. Ek sit my kop op die blok.

специальный инструментФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.