Kop op die Blok: Haaie het Cheetahs se nommer

Deel op

Al Bernstein, die legendariese boksontleder, het die reël geformuleer dat, maak nie saak hoe goed ‘n bokser is nie, daar ís iemand wat net weet hoe om hom te klop. Ter stawing wys hy na die ellende wat Muhammed Ali teen Ken Norton ondergaan het. Norton was nie die beste swaargewig van sy tyd nie – Ali was. Hy was nie eers die tweede of derde beste nie. George Foreman en Joe Frazier was. Beide van hulle het Norton behoorlik in die kryt gekasty.

Maar Norton het presies die regte styl, aggressie, liggaamsbou en taktiek gehad om vir Ali al sy dae te gee. Hulle het tweemaal teen mekaar deur die toue geklim. Norton het die eerste gewen en in die proses die beroemdste kakebeen in wêreldboks afgeslaan. Ali het die tweede naelskraap gewen, en dit meer deur bloedige vasbyt as flambojante bokskuns. Dwarsdeur was Norton ‘n raaisel wat Ali nie ontrafel kon kry nie. Hy het, om Bernstein te vertaal, Ali se nommer gehad.

Die Vrystaat is goed geposisioneer om môre se wedstryd te wen. Nadat hulle uit die blokke gestruikel het aan die begin van die Curriebekerseisoen, het die Spikkelkatte deurgaans verbeter. En hou in gedagte dat hulle die Haaie se Super 14-planne vroeër dié jaar flenters gespeel het.  Hulle het die tipiese Grey Kollege-flair om enige verdediging vanuit enige posisie op die veld verdwaas te laat. Hulle is ‘n hegte, tipiese span, meer broers as kollegas, en al die onderdele van hulle spel klop net reg. Die voorpak is vol perdekrag, hulle het die wêreld se voorste balkleptomaan in Heinrich Brüssouw en die prentjie word voltooi deur ‘n flambojante agterlyn wat gestabiliseer word deur ‘n ernstige losskakel.  Maar hulle gaan verloor.

Die rede daarvoor, glo ek, is dat die Haaie hulle nommer het. As die Natallers ‘n teenstaanderspan kon ontwerp, dink ek ons sou die Cheetahs uit hulle bloudrukke herken het. Die Haaie is ‘n span aasdiere. Hulle wedstrydontwerp is om druk te gebruik om vyandelike flaters te veroorsaak en dan is dit asof iets in hulle invaar. Daar is waarskynliker nie ‘n gevaarliker span op die teenaanval nie – nêrens in die wêreld nie. Maar ‘n teenaanval vereis ‘n mislukte aanval. En dis net hier waar hulle die Vrystaat gaan opbel.

Die Vrystaters, vir al hulle voortreflikheid op die aanval, vir al die eerlike werk wat hulle voorlangs insit, en vir al die stoerheid waarmee hulle verdedig, het ‘n manier om uit sinchronisasie te spring. As daar nou een span is wat hulle linies op die aanval verloor, is dit die Vrystaat. Wat meer kan sulke roofvisse soos Keegan Daniel, Ruan Pienaar en Stefan Terblanche vra, om nie van die stroper Ryan Kankowski te praat nie?

Die Natallers sal die eerste tweederdes van die wedstryd punte uit alle oorde insamel. Daarna sal die tipiese Vrystaatse paniek inskop en sal hulle balbesit domineer en self goeie punte met skouspelagtige drieë maak.

Ek sit my kop op die blok: Die Haaie wen ‘n hoëpuntetellingstryd met tien punte of meer.

casino gamedФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.