Die atletiekwêreldkampioen Caster Semenya is so deur die geslagstoetsskandaal getraumatiseer dat sy die Universiteit van Pretoria in kennis gestel het dat sy nie eksamen sal kan skryf nie, het Beeld Donderdag berig.
Haar afrigter, Michael Seme, het aan die dagblad gesê dat hy dink die trauma van die vrae rondom haar geslag tref haar nou eers.
“Haar kop is baie moeg,” het Seme gesê.
“Gelukkig het die universiteit ‘n goeie begrip van haar situasie en het dit aan haar duidelik gemaak dat eksamens die laaste ding is waaroor sy haar tans hoef te bekommer.
“Dis vir ons baie belangrik dat Caster die trauma op haar eie manier hanteer, maar ons is almal daar vir haar as sy ons nodig het.
“Sy sal eksamen skryf as sy daarvoor gereed is.”
Semenya studeer tans Sportwetenskap aan die universiteit.
Sy het die 800m gedurende die Wêreldatletiekkampioenskap in Berlyn in Augustus gewen. Maar die skielike verbetering in haar tyd, haar manlike bou en diep stem het twyfel oor haar geslag gesaai.
Die Internasionale Assosiasie van Atletiekfederasies (IAAF) het geslagstoetse op die 18-jarige Semenya uitgevoer, maar het geweier om kommentaar te lewer op berigte dat sulke toetse aangetoon het dat sy ‘n hermafrodiet is.
Verskeie organisasies het geëis dat Leonard Chuene – die hoof van Atletiek Suid-Afrika – moet bedank as gevolg van die wyse waarop hy die episode gehanteer het.