Malema gaan vir Nedbank ‘n les leer

Julius Malema
Deel op

Die ANC-jeugliga wil swart Suid-Afrikaners mobiliseer om hul Nedbankrekeninge toe te maak indien die banke in gebreke bly om die borgskap wat dit onlangs van Atletiek Suid-Afrika onttrek het, weer in te stel, het die liga se president Julius Malema Maandag gesê.

“Toe ons Nedbank se senior bestuurders gebel het om die saak met hulle te bespreek, het hulle junior swart bestuurders gestuur. Ons sal hulle ‘n les leer indien hulle hiermee voortgaan. Ons sal mense mobiliseer om hulle geld te onttrek en by ander banke te gaan bank,” het Malema aan duisende studente aan die Universiteit van Zoeloeland gesê.

Nedbank se besluit om swart bestuurders te stuur om met jeugligaleiers te onderhandel, kom neer op ‘n strategie om swartes teen swartes op te stel, het hy gesê.

“Ons wil met die senior bestuurders en die HUB onderhandel. As hulle nie na ons toe kom nie, sal ons die massas mobiliseer. Ons kan dit maklik doen want ons het meer as 600 000 lede,” het hy gesê.

Dit was verkeerd van Nedbank se base om die borgskap te onttrek as hulle nie gelukkig was met Atletiek Suid-Afrika se base nie.

Die bank het sy borgskap in die naloop van die Caster Semenya-geslagstoetsomstredenheid onttrek.

“Ons sal hulle ‘n les leer oor die mag van die massas. Hulle mag geld hê maar ons kan hulle oorwin omdat ons die massas aan ons kant het.”

In kommentaar op die stelling van die Reserwebankgoewerneur Tito Mboweni dat Suid-Afrika nie myne gaan nasionaliseer nie, het Malema gesê dat die uitgaande goewerneur nie ‘n goeie posisie sou kry indien hy met sulke stellings volhard nie.

“Ons wil nie Tito se verklaring sien dat myne nie genasionaliseer gaan word nie. Tito is niks in die ANC nie. Indien hy so aangaan, sal hy nie ‘n lekker ontplooiing ontvang nie.”

Die jeugvleuel sal verseker dat Suid-Afrikaanse myne genasionaliseer word sodat die rykdom wat sodoende verkry word vir dienslewering gebruik kan word.

“Ek wil vir u sê dat die belasting alleen vir mense kan sorg. In Botswana besit De Beers 49% en die regering besit 51%. Die geld wat deur die myne geproduseer word, word gebruik om die lot van mense daar te verbeter.”

Malema het gesê dat die ANC alreeds vir ‘n lang tyd Mboweni dophou en dat sy kontrak as goewerneur weens sy gedrag nie hernieu is nie.

“Ons weet dat hy sekere sienings oor president Jacob Zuma voor die ANC se Pietersburgkonferensie gekoester het. Ons weet dat hy nie van Zuma gehou het nie.”

Daar was ‘n mediastorm toe Malema die eerste keer ‘n paar maande gelede ‘n beroep gedoen het dat myne genasionaliseer word.

Malema se besoek aan die universiteit was deel van die ANC se studenteorganisasie, Sasco, se pogings om steun voor die SR-verkiesing te werf.

Hy het die studente gemaan om nie vir die Inkatha-vryheidspartygesinde studenteorganisasie, Sadesmo, te stem omdat dié liggaam geweld predik.

“Jy kan nie vir mens stem wat met geweld dreig nie. As hulle (die IVP en sy studentevleuel) nie wen nie, kla hulle oor ‘n gekookte verkiesing,” het Malema gesê, met verwysing na onlangse verkiesings aan die Mangosuthu-universiteit van Tegnologie (MUT).

Sadesmo het hom aan die stemtellery onttrek ná die MUT-verkiesing verlede week en gekla dat die verkiesing oneerlik was.

Omtrent 60% van die tellery was reeds afgehandel en Sasco was voor. Daar is gevrees dat geweld aan die MUT sou uitbreek op die vooraande van die eksamens, het hy gesê.

“Buthelezi het sy jeug geleer om demokratiese prosesse te verwerp. Nou predik hulle geweld. Hulle dink dat geweld en intimidasie ons bang sal maak.”

Malema het gesê die jeugvleuel is nie bang vir die IVP nie en dat vryheid teen ‘n hoë prys gekom het.

“Ons is nie bang vir enigiemand nie. Ons respekteer maar ons vrees nie.”

Hy het IVP-leier Mangosuthu Buthelezi as ‘n “fabrieksfout” bestempel en gesê dat hy die ANC verraai het deur saam met die apartheidsregering te werk.

Hy het ook die Demokratiese Alliansie-leidster, Helen Zille, as “vals” bestempel omdat sy botox gebruik het.

полиграфЛобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.