Hein Willemse se voorspraak vir kreolisering

Danie Goosen
Deel op

Afrikaners word nou reeds vir ’n geruime tyd deur ’n klein groepie bruin woordvoerders aan ’n politiek van beskimping, swartsmeer en belediging onderwerp. Alhoewel hierdie groepie nie naastenby verteenwoordigend van bruin Afrikaanssprekendes is nie, gee hulle politiek van beskimping aanleiding tot diepe vorme van wantroue. Daarmee word Afrikaanssprekendes gekniehalter om rondom dwingend noodsaaklike kwessies – soos die voortbestaan van ons moedertaal – op ’n sinvolle wyse saam te werk.

In die hart van hierdie politiek van beskimping staan die idee van “identiteit”. En hoe dodelik voorspelbaar het die argumente nou nie reeds geword nie! Elke aanspraak wat Afrikaners (hoe genuanseerd ook al) op ’n eie identiteit maak, word sonder uitsondering as “rassisties”, “etnosentries” en “angs vir die onbekende” afgemaak. As dit nie so skadelik vir onderlinge verhoudinge was nie kon ’n mens dit soos met Chuene se leuenagtige gebruik van die woord “rassisme” as absurd afgelag het.

Die jongste voorbeeld hiervan kom van Hein Willemse, wat op die onlangse Roots-konferensie aan die Universiteit van Wes-Kaapland slegs met die grootste moeite sy ressentiment en afsku jeens Afrikaners se aanspraak op ’n eie identiteit in bedwang kon bring. Volgens Willemse word diegene (bedoel: Afrikaners) wat hulle op die “saak van ‘die minderheid’, ‘taalregte’ en ‘ons eie’ stel” deur niks minder nie as deur “vrees en angste vir die onbekende oorheers”.

Ten grondslag van Willemse se argument lê ’n erg simplistiese beeld op die geskiedenis. Daarvolgens moet die geskiedenis as ’n soort reglynige proses verstaan word. Aan die begin van sy geskiedenis heers daar ’n angsvallige, vreesagtige en daarom ook patologiese gryp na ’n eie identiteit. Aan die einde van hierdie proses sal ons almal egter uit die kloue van laasgenoemde bevry word. Wanneer dit gebeur, sal ons ons ware menslikheid ontdek. Die feit dat hierdie droombeeld op die geskiedenis nie met die geskiedenis self strook nie, is klaarblyklik nie iets wat Willemse tot enige vorm van nadenke stem nie.

Die geskiedenis lyk inderdaad anders as wat Willemse wil voorgee. Jerry Z. Muller skryf daarom ook in ’n onlangse uitgawe van die gesaghebbende Foreign Affairs dat identiteitspolitiek as die mees dominante politieke verskynsel van die 20ste en 21ste eeu beskou moet word. In weerwil van Willemse se beeld op die geskiedenis word ons tyd eenvoudig gekenmerk deur die een na die ander kultuurgemeenskap wat op die erkenning van hul eie identiteite aanspraak maak. Is dit slegs Afrikaners wat te midde van honderde ander kultuurgemeenskappe nie op sodanige erkenning mag aanspraak maak nie?

Ingevolge sy eie vertrekpunte sou Willemse slegs vir Muller gelyk kon gee as hy tegelyk sou aanvaar dat die tydperk waarna laasgenoemde verwys juis vanweë sy identiteitspolitiek as “patologies” afgemaak moet word. Maar dit is tog gewoon absurd. Genoemde tydperk mag om verskeie redes as patologies beskryf word, maar geen regdenkende mens kan dit sonder meer aan sy identiteitspolitiek toeskryf nie. Inteendeel, daar kan met reg aangevoer word dat die identiteitspolitiek van hierdie tyd in vele opsigte juis ’n bolwerk teen sy moontlike patologieë (soos sy totalitêre bewinde, sy eenvormige massas, sy sosiale ontbinding, ensovoorts) vorm.

Willemse laat hom egter nie deur hierdie soort argumente van stryk bring nie. Inteendeel, volgens hom bestaan daar op grond van sy droombeeld op die geskiedenis ten minste twee redes waarom Afrikaners se dae as ’n identifiseerbare gemeenskap getel is (’n feit waaroor hy skaars sy opgewondenheid kan verberg):

Eerstens, vanweë demografiese faktore (“geboorte, dood en migrasie”) sal die rol en invloed van Afrikaners “met verdrag minder word”. Die Afrikaners se demografiese verdwyning sal volgens Willemse gepaard gaan met die verdwyning van dié soort Afrikaans wat Afrikaners vroeër as nastrewenswaardig beskou het, naamlik goeie Standaardafrikaans.

Tweedens, vanweë die “onomkeerbare” aard van die geskiedenis stuur ons in Suid-Afrika onvermydelik op “kreolisering” af, dit wil sê op ’n toestand waarin die veelheid van tale en kulture uiteindelik hulle gewaande puurheid sal afskud en in ’n soort Suid-Afrikaanse weergawe van die “melting pot”-ideaal deurmekaar geklits sal word. Dit is ’n toestand waarin ons einde ten laaste van die “behoudende dwang van vorme van eng nasionalisme” wat die stiksienige Afrikaners op almal afgedwing het, bevry sal wees.

Ten minste die volgende kritiese notas moet aan die adres van Willemse en sy Afrikaner-vyandige geesgenote gerig word:

  1. Willemse se beeld op die geskiedenis is so oud soos die moderne wêreld self. Vanaf die vroeë modernisme is die geskiedenis voorgestel as ’n reglynige beweging uit die primitiewe sug na identiteit na groter vorme van rasionaliteit en bevryding. Willemse sluit hierby aan, maar met die een verskil: Anders as in die modernisme is dit nie die rede van die verligte mens wat ons van die primitiewe verlede sal bevry nie, maar eerder die toestand van kreolisering. Die geskiedenis weerspreek egter beide moderne beelde op die geskiedenis, dit wil sê sowel die rasionele as die kreoolse opvatting daarvan. Anders as wat die modernisme en sy kreoolse napraters verwag het, gaan die toenemende rasionalisering van ons wêreld juis met ’n groter aandrang op ’n eie identiteit gepaard! Dit is ’n ironie wat Willemse volledig ontgaan.
  2. Willemse se toestand van kreolisering verteenwoordig nie bevryding nie, maar ten diepste ’n totalitêre benadering jeens verskille. In naam van sy idee van veelheid (kreolisering) word juis ’n verstikkende eenheid op almal afgedwing. Dit is ’n eenheid waarin daar geen ruimte vir die kultuurgemeenskappe gelaat word om hulself te bevestig of maar net gewoon te wees nie. “Kreolisering” word nou ’n hoogste plig. Enigeen wat nie aan sy eise voldoen nie, sal met die dodelike oordeel van “rassis” en “etnosentris” getref word.
  3. Willemse en sy geesgenote lewer deurgaans ’n apologie vir ’n sogenaamde “oper, ruimer” Afrikaans. Hierdie apologie het egter niks met werklike openheid uit te waai nie. ’n Oop en skeppende Afrikaans kan slegs binne die ruimte van omskrewe grense bestaan, net soos wat ’n skaakspel slegs binne die ruimte van bepaalde reëls gespeel kan word. (Of ’n Mozart-simfonie slegs binne die – buigbare – beperkinge van die musikale reëls geskryf en opgevoer kan word). Willemse se kreoolse voorspraak beteken nie groter openheid nie, maar eerder die opheffing van Afrikaans.
  4. Willemse se pleidooi vir kreolisering gaan gepaard met ’n protes teen die “behoudende dwang van vorme” en in die besonder teen die “gegermaniseerde, ‘wit’ vorme van Afrikaans” wat in die verlede op alles afgedwing is. Kreolisering daarenteen beteken om met die begrensing wat vorm oplê, weg te doen. Hierdie pleidooi staan egter in die teken van die postmoderne (’n ander woord vir ‘kreolisering’) onvermoë om grense aan te lê. Grense is daarvolgens per definisie verdag. Maar kan hierdie keuse sonder meer gehandhaaf word? Die feit van die saak is dat die postmoderne, kreoolse onvermoë om grense neer te lê met ’n onmiskenbare tendens tot die platvoerse, die onestetiese en die banale gepaardgaan. Vorm en begrensing is dít wat ons nog altyd van die banale afgeskerm het. In die mate waarin Willemse met vorm en begrensing wil wegdoen, lewer hy juis ’n apologie vir die kontemporêre heerskappy van banaliteit. Hierby moet nog die ironiese feit gevoeg word dat Willemse met sy apologie vir kreolisering self weer nuwe vorme van grense aan andere oplê. Sy beroep op die oënskynlik grenslose kreolisering weerhou hom egter daarvan om sy verbintenis tot nuwe grense openlik uit te spreek.
  5. Die kreoolse afkeer van vorm en begrensing gaan (en in weerwil van heftige gebare tot die teendeel) gepaard met ’n afkeer jeens enige vorm van taalpolitiek. Taalpolitiek wêreldwyd beteken immers om grense te bepaal of tussen verskillende grense te bemiddel. In die mate waarin Willemse homself egter van enige vorm en begrensing wil losmaak, in daardie mate stel hy homself juis buite die taalpolitiek.

Omdat Willemse nie die noodsaak van taalpolitiek in bogenoemde sin raaksien nie, word elke sodanige politiek deur hom aan vorme van delegitimering (rassisme, apartheid, ensovoorts) onderwerp. Maar so word verlamming en selfs spanning tussen Afrikaanssprekendes in die hand gewerk – juis nou terwyl daar groter vorme van inspanning, samewerking en bondgenootskap behoort te heers.

Prof. Danie Goosen is voorsitter van die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings) en die skrywer van Die nihilisme – notas oor ons tyd.

free no deposit pokerФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.