Leeus was rateltaai op Ellispark

Waar was hierdie Leeus die hele jaar? Gister op Ellispark, teen die WP, was hulle die ene koning van die bosveld. Bygesê, by tye het hulle minder vuilbaard as ratel, en durf mens dit sê, Springbok, gelyk. Dit was juis die ratel in hulle wat hulle na ‘n skynbaar fatale verrinnewering laat terugkom het. Dit was, van alle mense, die wêreld se langste senter en deeltydse lynstaanspringer, Andries Bekker, wat hulle eers diep gekwes het. Net ná ‘n minuut se speeltyd het hy homself, bal onder die arm, in oopveld gevind en het hy die afstand doellyn toe met kameelperdtreë weggehark voordat hy platgetrek is, maar nie voordat hy die bal uitgewip het na Juan de Jongh vir ‘n skokdrie heel aan die begin van die wedstryd nie.

Die Leeus het hulleself van die grond opgetel, afgestof en van heel voor af begin. Hulle het ‘n beloninkie gekry toe losskakel Herkie Kruger drie punte met ‘n strafskop vervaardig het. Nie lank daarna nie was dit wéér die kameelperdagtige Andries Bekker wat deur ‘n gaping gegalop het en dié keer vir sy petit blonde heelagter die bal met ‘n oop doellyn gegee het. Pietersen het sy eie drie verdoel en ‘n strafskop bygevoeg. WP was skielik 17-3 voor, twee drieë duskant ‘n eerste plek op die log.

Dis egter toé dat die ratel in die Leeu ontwaak het, en die Springbok ook. Want as dit die rateltaaiheid was wat hulle laat terugbaklei het, was hulle taktieke reg uit die Springbok-handleiding vir 2009. Hulle het ‘n net om die WP in dié se kwartgebied getrek en stelselmatig, versmorend aangeval. Dit het uiteindelik twee Doppies le Grange-drieë opgelewer om die spanne as’t ware voor te laat begin met ‘n gelykoptelling vir rustyd.

Die WP, met die halfeinddrome blykbaar in die kleedkamer uit hulle geskree, het die tweede helfte teen topversnelling begin en weereens was dit die Kameelperd wat die Leeus amper vertrap het. Dié keer was dit die spokerige Joe Pietersen wat om die verdediging gedwaal het om vir Bekker die bal te gee om te skoert vir die doellyn. Hy is egter ingehaal en neergekerf. Die Transvalers het hulle doellyn soos leeuwyfies verdedig en gewys hulle kan self venynig op die aanval wees. Die eerste drie van die helfte is naderhand deur Dusty Noble gedruk. Kruger het dit verdoel, wat beteken het dat die Rooibontes 21 punte sonder ‘n repliek van die WP aangeteken het.

Die WP het ‘n laaste pyl uit die koker getrek en François Louw het op die golf van ‘n voorspelerstorm losgebreek om ‘n drie te druk. Dít en ‘n Pietersen-strafskop het die WP met ‘n nippertjie laat voorloop totdat Chris Jonck ‘n mediumafstandstrafskop oor die dwarslat gestoot het. Die Transvalers het ‘n laaste dieregestalte vertoon toe hulle soos ietermago’s walgegooi het om met 27-25 deur te skraap.

Die Leeus het vier maande om oor hulle sondes te dink. As hulle nie ‘n paar visse deur die vingers laat glip het vroeër in die seisoen nie, sou hulle waardige halfeindrondtemededingers gewees het. Soos hulle gister en verlede week gespeel het, is dit nie ondenkbaar dat hulle Sir Don se koppie Ellispark toe kon bring nie. Nou ja, hierdie spyt kom te laat.

En die WP? Volgende week kyk hulle ‘n omgekrapte Blou Bul tussen die horings. Gister was moontlik net die eerste nederlaag in twee weke vir hulle.

silver wedding jewelryАлександр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.