Kop op die Blok: Leeus doen dit weer aan die WP

Deel op

Hierdie is ‘n wedstryd wat die WP eerder sou wou oorslaan. Hulle het weinig om te wen en baie om te verloor. Rugby is ‘n spel waarin harde liggame teen hoë spoed teen mekaar bots, en dit is ‘n biologiese aksioma dat as jy dit halfhartig, selfs driekwarthartig doen, jy gou genoeg gaan seerkry. Die een ding wat enige Streeptrui nou nie wil hê nie, is om voor die uitspeelrondtes ‘n besering op te doen. Daar is geen kans dat hulle hierdie wedstryd met volle ywer gaan beding nie.

Die WP, wat al klaar besig is om Curriebekergloriehooftrekke in hulle koppe te skryf, gaan min genoeg hê om hulleself vandag mee te motiveer. Niemand onthou ná die seisoen wie die tippie van die punteleer uitgemaak het nie, en dit is al wat die WP het om deur ‘n oorwinning oor die Leeus te bekom.

Aan die anderkant van die middellyn is ‘n iesegrimmige Leeuspan, erg omgekrap dat hulle uit die eksklusiewe geselskap van halfeindrondtemededingers gesluit is. Hulle is lekker jannetjie op dié wat dit behaal het, en jaloesie is meestal ‘n kragtiger motiveerder as selfvoldaanheid. Daar was nog nooit Transvaalse liefde in die WP verlore nie en om te kan sê dat hulle die Strepiestruie twee keer in een seisoen afgeransel het, is nou weliswaar nie ‘n regte-egte trofee nie, maar vir ‘n span wat nie kan dink waar hulle volgende silwerware vandaan sal kom nie, is ‘n skrale troos skielik baie werd.

Transvaal is nou nie juis ‘n repositorium van supersterre nie. Môre sal hulle weereens die stryd sonder ‘n enkele Springbok moet beding. Maar laas week kon veertien Natalse toetsspelers hulle slegs met die punteverskil van ‘n enkele doelskop troef. Onbesonge mag hulle wees, maar daar is genoeg pyle in die Transvaalse koker om die WP swaar te kwes. Die eerstefasebesit behoort gelykop verdeel te word, wat die worsteling vir die losbal deurslaggewend sal maak. Die Leeus het die afgelope ruk ‘n, vir hulle teenstaanders, ontstellende manier ontwikkel om rondlêballe in te win. Baywatch Grobbelaar, Derick Minnie en Willem Alberts is op ‘n peil met Watson, Vermeulen en Louw, maar dis weereens ‘n vraagstuk van vasberadenheid. Transvaalse verbetenheid sal ook hier seëvier oor Kaapse vieserigheid.

Die WP het ‘n hele falanks snellers in die agterlyn – spoed net waar jy kyk. Hulle is die één span in die kompetisie wat die vermoë het om gereeld uit vastespel drieë te druk. Maar die beste span maak staat op gleuwe wat in die opponent se verdediging ontstaan. Ook dít is ‘n saak van vasberadenheid. Die Leeus se seisoen eindig more. Dit is altyd beter om op ‘n crescendo as ‘n gepieng te eindig. En dít is motivering genoeg.

Ek sit my kop op die blok: Al gaan die WP voort om vir vanjaar se Curriebeker mee te ding, behoort vandag aan die Transvalers.

Die Leeus wen met vyf of meer punte.

free online gamesлобановский класс харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.