Swaziland het die kolonialisme voorlopig oorleef

Deel op

Die grootste enkele skade wat die Britse kolonialisme en imperialisme in Afrika gedoen het, is om die Westminster-stelsel van een-mens-een-stem op ‘n andersoortige sosiale werklikheid af te forseer. Die resultaat is dat vreemde ideologieë (sosialisme, kapitalisme, ens.) binne ‘n veelpartystelsel die stamgerigte sosiale orde ontwrig en selfs vernietig het. Een van die weinige Afrikalande wat voorlopig die aanslag teen die tradisionele orde oorleef het, is Swaziland.

Swaziland

Swaziland is maar ‘n katspoeg weg van SA. Derhalwe is die aanslag op Swaziland vanuit ‘n ANC- en Kommunisties-beheerde SA heftig en venynig; die laaste ideologiese kanonskote is nog nie afgevuur nie.

Die stryd teen tradisionele leierskap het ‘n lang aanloop. In 1894 het Swaziland onder die voogdyskap van die Transvaalse Republiek gestaan.

  • Tussen 1894 tot 1902 het die Britse administrasie in SA ook heerskappy in Swaziland gevoer.
  • In 1903 het die Britte direkte beheer oor Swaziland uitgeoefen. Op hierdie stadium is ‘n Britse Adviserende Raad in Swaziland tot stand gebring.
  • In 1921 is simboliese erkenning aan koning Sobuza II verleen, maar dan sonder uitvoerende mag.
  • In 1944 is erkenning aan koning Sobuza II verleen en is hy met uitvoerende magte beklee.
  • In 1964 het die Koning ‘n Interne Raad tot stand gebring wat hierdie jaar aan ‘n verkiesing deelgeneem, wat as die Umbokodvo-beweging bekend gestaan het. Genoemde beweging het al die setels van die Parlement ingeoes.
  • In 1966 het die Britte pogings aangewend om ‘n Westerse tipe grondwet, met ‘n grondwetlike monarg aan die stuur, op Swaziland af te dwing.

In 1968 het Swaziland ‘n onafhanklike land geword. ‘n Verkiesing is in 1972 gehou en het die Umbokodvo-beweging vyf en sewentig persent van die stemme op hom getrek. Die opposisieparty het bekend gestaan as die Verenigde Demokratiese Beweging van die Mense (PUDEMO). Koning Sobuza II het toe stappe geneem om van die Britse veelpartybestuurstelsel weg te beweeg en het in 1973 die parlement ontbind. Die rede wat hy aangevoer het, is dat die Britse veelpartystelsel vreemd aan die kultuur van die Swazi’s is en ideologieë ingevoer het wat verdelend op die samelewing ingewerk het. Die koning het volle beheer oorgeneem, partye verbied en vakbonde ontbind.

Swazifisering

Aanvanklik is ‘n Liqoqo as ‘n soort oppergesagdraende adviesraad ingestel, maar ook hier het die politieke ideoloë hulle invloed laat geld en die gesag van die koning ondermyn. Koning Sobuza II is in 1982 dood en hierna het koningin Dzeliwe as regentes opgetree. In 1984 is koningin Dzeliwe deur koningin Ntombi vervang, om daarmee die weg te baan vir haar enigste seun, prins Makhosetive, om die troon oor te neem en wel as Mswati III. Laasgenoemde het in 1986 die troon bestyg.

Dit is interessant dat die monarg in samewerking met die koninginmoeder regeer. Haar raad en advies moet ingewin word. Sy is protokollêr tweede in senioriteitsorde. Die eerste minister is die nommer drie. Klaarblyklik is dit nie sonder meer so dat die seun van die regerende koning ipso facto sy vader sal opvolg nie. Nee, ‘n geheime raad van adviseurs neem ‘n besluit, met inagneming van bevoegdheid, bekwaamheid en wenslikheid.

Wat natuurlik ‘n pluspunt in Swaziland is, is dat dit ‘n min of meer homogene land van verwante Swazistamme is. Derhalwe is dit moontlik om hierdie klein land op ‘n tradisionele wyse te regeer. Die resultaat is positief, ten spyte van armoede (in Westerse terme gemeet):

  • Daar is sosiale wet en orde.
  • Geweldpleging is minimaal.
  • Die bevolking is vriendelik en hulpvaardig.
  • Die sosiale weefsels in die samelewing het behoue gebly.

Suid-Afrika

In SA is die politieke toneel dramaties anders. Die Britse kolonialisme het van ‘n veelrassige, veeletniese en veeltalige land een unitêre staat gemaak. Die kolonialisme is ‘n gevoelige slag toegedien toe die Nasionale Party van 1948 die politieke leisels ter hand geneem het. Toe is die Britse kolonialisme in trurat gegooi. Wyle dr. Hendrik Verwoerd het besef dat die enigste oorlewing van ‘n Westerse samelewingsorde in Suid-Afrika geleë was in ‘n federale staat wat vir etnisiteit en tradisionele leierskap voorsiening sou maak. Universiteite is aangemoedig om etnoloë en volkekundiges op te lei. Volkekundiges is ingespan om die administrasie te begelei. Die individu is binne ‘n eie beskawings- en kultuurkonteks geïntegreer.

Die Boer-Brit-geveg

Ongelukkig het die politieke verdelingslyn tussen Boer en Brit onverpoos voortgeduur en is die beleid van afsonderlike ontwikkeling as blakende rassisme geïnternasionaliseer. Die Britse sakesektor het alles in werking gestel om grensnywerhede te ondermyn en die tuislande onwerkbaar te maak. Daarmee het ‘n vloedgolf van swartes na die oorontwikkelde vier provinsies gevloei.

Die dolk wat Hendrik Frensch Verwoerd se dood beteken het, was die doodslag van ‘n Westerse beskawing en so is die weg geskraap vir die politieke glybaan van eerste ministers Vorster en Botha, totdat F.W. de Klerk die land volledig uitverkoop het. Die tragedie van die moderne SA is aan almal bekend en die bloed het sedertdien nooit ophou vloei nie.

Implikasie

Wat Swaziland so interessant maak, is dat die Verwoerd-politieke eksperiment aldaar waargemaak kan word. Miskien is dit in die belang van die Afrikaner om op ‘n georganiseerde wyse in Swaziland betrokke te raak en te bly, ten einde te verhoed dat die linkse politieke ideoloë ook daar die tradisionele orde versteur en ontwrig.

организация освещения в ландшафтной средеданильченко юрій броніславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.