Gaan Mo hou?

Deel op

Die DA het Maandag ‘n persverklaring uitgereik waarin hulle Suid-Afrika se nuwe Intelligensiehoof, Mo Shaik, se aanstelling betreur.

Volgens die verklaring het Shaik homself reeds skuldig gemaak aan valse aantygings teen politieke opponente en is daar ernstige vrae oor sy aandeel in die wapenaankoopskandaal deur die Duitse Frigatkonsortium.

Die vloot het reeds besluit dat die Spaanse maatskappy Bazan, die kontrak sal ontvang, maar ná ‘n besoek van Thabo Mbeki aan Duitsland is die tender weer heropen.

Suid-Afrika het daarna ‘n konsulaat in Hamburg geopen, die hoofkwartier van die Frigatkonsortium, tydens nuwe wapenaankooponderhandelinge en Mo Shaik is as die konsulgeneraal aangestel sonder dat hy enige diplomatieke ondervinding gehad het.

‘n Paar maande later is die Suid-Afrikaanse kontrak aan die Duitsers toegeken en kort daarna is die konsulaat ook gesluit. Die Shaikbroers is ook reeds geïmpliseer in die skandaal, volgens die DA.

Die Heferkommissie het, daarbenewens, ook bevind dat die aantygings wat Mo Shaik en Mac Maharaj teen die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Bulelani Ngcuka, gemaak het dat hy ‘n “apartheidspioen” was, geen substansie bevat nie.

Ngcuka was die ondersoeker in Mo se broer, Schabir, se bedrog en korrupsiebedrywighede.

Maar dit lyk asof die DA se besorgheid oor Shaik se aanstelling nie sonder gronde is nie.

Volgens die Mail & Guardian geniet Shaik die geselskap van ongure karakters uit die onderwêreld. Tydens die ANC se 52ste nasionale kongres in Polokwane in 2007, het Shaik opgedaag met die leier van die Kaapse bendewêreld, Cyril Beeka, as sy lyfwag.

Beeka word onder meer verbind aan karakters soos Mark Lifman, Seepuntse miljoenêr, wat onlangs vir die tweede keer van kinderverkragting vrygespreek is, asook die vermoorde Oekraïner en beweerde dwelmbaas Jurie Ulianitski.

Mac Maharaj het Shaik glo dadelik genader by die geleentheid in Polokwane en gesê in sy posisie het hy nie beskerming nodig nie, maar later ontken dat hy Shaik berispe het. Die teenwoordigheid van Beeka was vir sekere lede van die Zumakamp kennelik ‘n verleentheid.

Beeka, 48, is ‘n voormalige lid van umKhonto weSizwe, en geen vreemdeling in die ANC nie.

Hy is reeds vir dwelmhandel, afpersing, geldwassery, aanranding en vervalsing aangekla en daar was selfs aantygings van moord teen hom.

Hennie van Vuuren, die hoof van die korrupsie en regeringprogram by die Instituut vir Sekerheidstudies, het sy kommer uitgespreek oor die feit dat Zuma met sulke karakters assosieer.

Hy het gesê Zuma behoort homself eerder te “met indiwidue van integriteit” te omring.

Mo se regte naam is Riaz en hy is die broer van Younis, Shamin (Chippy) en, soos reeds genoem, van Schabir.

Schabir, ‘n vorige raadgewer van Jacob Zuma, is tronk toe vir korrupsie, maar is onlangs vrygelaat op mediese parool. Kritici sê die besluit om hom vry te laat was eerder polities as om werklike gesondheidsredes.

Die vertroue wat president Zuma in Mo stel, kom van sy eertydse bemoeienis met die gewapende stryd teen die NP-regering. Mo Shaik en Mac Maharaj was die dryfkragte agter Operasie Vula in 1988 waartydens hulle onder andere wapens in Suid-Afrika ingesmokkel het.

Chippy, Mo se broer, het destyds daarin geslaag om verskeie weermagprojekte van die wit regering te infiltreer en belangrike inligting aan die ANC oor te dra. Sy vrou Zerena was glo ‘n personeelklerk.

Pravin Gordan van die Natal Indian Congress en huidige miniister van finansies was glo insgelyks ‘n vormende invloed op die twee.

Mo is in 1985 deur die veiligheidspolisie aangehou en hy het later in trane vertel hoe hy gemartel is.

детская одежда интернет магазинылобановский политик

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.