Met Bataafse vlag verwelkom

Deel op

Janssens en de Mist het oral in die land gevind dat die koloniste bly was dat die Kaap weer Hollands was. Op 9 April 1803 het Janssens van Swellendam af aan De Mist geskryf: “Die genoeë op die platteland om aan die Moederland teruggegee te wees, skyn seer algemeen.” De Mist het ná sy reis geskryf dat hy selfs by die ver afgeleë ingesetenes groot gehegtheid aan die Hollandse regering bespeur het.

Dit blyk uit Anna Böeseken se beskrywing van die reis dat De Mist en sy reisgeselskap op verskeie plekke met die Bataafse vlag verwelkom is. Dit het ook gebeur op Graaff-Reinet, maar die twintigtal armsalige huisies, die lendelam drosdy en die vervalle kerk het ‘n swak indruk gemaak. De Mist het geld gegee vir die herstel van die kerk en het opdrag gegee dat ‘n nuwe drosdy gebou word.

Op sy terugreis het De Mist kennis gemaak met die Karooboere. Die geselskap kon luister na die talle jagstories. Van Tjaart van der Walt is vertel hoe hy sy broer uit die kloue van ‘n leeu kon red omdat hy so goed kon skiet. Die leeu, wat die ruiter en perd bespring het, is deur Van der Walt in die kop getref, en die perd en sy ruiter het ongedeerd gebly.

Aan die voet van die Swartberge het die Bataafse vlag op die huis van veldkornet Samuel de Beer van Kweekvallei gewapper met die aankoms van De Mist se geselskap. Al die inwoners van die wyk was voor die huis in twee rye opgestel. Terwyl hulle die geweer presenteer, het De Beer met die swaard in ‘n bont geskilderde skede die gaste welkom geheet. Twee van sy kinders het ‘n welkomslied op die fluit begelei, en daarna is almal die huis binnegenooi. Die tafels was belaai met kalfsvleis, pluimvee, ‘n groot verskeidenheid groente, waatlemoen, spanspek, pragtige druiwe en heerlike wyn wat op die plaas gemaak is. De Beer het vertel dat hy niks met die opstand van Graaff-Reinet te doen wou hê nie, maar ‘n sterk voorstander is van die vryheid en die natuurlike regte van die mens. Lichtenstein het opgemerk dat De Beer ‘n deeglike kennis gehad het van wat die vorige vyftien jaar in Europa gebeur het.

Lictenstein het op sy reise ook die entstof teen pokke bekend gestel wat enkele jare tevore deur dr. Edward Jenner en ander ontwikkel is. Baie was daarteen gekant, maar die dokter wat so goed met die boere oor die weg gekom het dat hy selfs die huisgodsdiens op plase waargeneem het, kon meestal hul vooroordele weg redeneer.

‘n Kommissie wat die veeteelt ondersoek het, meld dat die mense godsdienstig is. Die Bybel, ‘n gebede- of ander godsdienstige boek het oral byderhand gelê. Almal was daarop gesteld dat hul kinders gedoop word; die eed is heilig en mense gaan nooit aan tafel sonder om te bid nie. Die kinders en families is baie aan mekaar geheg.

Onder die Bataafse bewind — sonder die wanbestuur en korrupsie van die Kompanjie — het die opstandige Oos-Kapenaars rustig en kalm gebly. Hulle was nou direk onder die Nederlandse regering; die Graaff-Reinetters het juis in 1795 in opstand gekom omdat hulle nie onder die Kompanjie wou staan nie, maar onder Nederland. Simpatieke bewindhebbers en amptenare het die nuwe gesag uitgeoefen.

Nog geskiedenisartikels deur Jaap Steyn (in omgekeerde chronologiese volgorde):

Ontmoetings met sendelinge

Reise van Janssens en De Mist

Die Kaap is weer Hollands

Kaap kry sy eerste weekblad

Begin van ‘n kultuurbotsing

Lady Anne Barnard se waarnemings

Die eerste goewerneur

Halfhartige verdediging van die Kaap in 1795

Herlewing in die boukuns

Die agteruitgang van Nederland

Die piëtisme brei uit

‘n Groot Kaapse prediker

Kerklike lewe aan die Kaap

Die lewe in die Kolonie

Nuwe name vir nuwe sake

Verkenning van die land

Skipbreuke en die held Woltemade

Sewe Duiwels

By die uitspanplek

Op die trekpad tydens die Groot Trek

’n Nuwe geldstelsel aan die Kaap

Die Afrikaner se eerste demokratiese opvattings

Godsdienstigheid van die trekboere

Die lewe van die 18de-eeuse trekboere

Hoe ‘n admiraal en ‘n prins Afrikaans gered het

купить лего киевФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.