Haaie se mistroostige oorwinning

Die Haaie het gister op Kingspark in hulle wedstryd teen die Leeus baie aan hulle geliefde Indiese Oseaan herinner: Nie so woes, so groot of so koel nie, maar so vasberade soos branders om hulleself stukkend te loop teen rotse. Uiteindelik het hulle gewen met ‘n volle verdoelskop se punte tussen hulle en die Leeus.

Niks was meer veelseggend van die Leeus se vertoning as die glinstering in Stephan Terblanche se oë toe hy oor die WP se wedstryd aanstaande week teen Transvaal gespekuleer het nie. “Ek hoop hulle (die Leeus) daag op vir die partytjie.” Na tagtig minute se verbete, maar grootliks vrugtelose, worsteling teen die Leeus, is dit duidelik dat hy iets van Leeujoligheid weet.

Die Haaie, met veertien toetsspelers teen nul, het ‘n amperse monopolie op die bal gehad en het meer tyd in Leeugebied as ‘n onwettige Nigeriese immigrant in Sunnyside deurgebring. Hulle het beslag gelê op ‘n groot gros van die Leeus se lynstaanbal en het genoeg balle op die grond gewen. Hulle het strooptog na strooptog geloods, maar het nie veel meer uitgerig as ‘n soutwatergolf teen ‘n rots nie. En maak nie fout nie, op verdediging was die Leeus soos hoogs mobiele rotse. Onbesonge voorspelers soos Kevin Buys en Nico Luus het nie net teenstaanders raakgevat nie, maar hulle geplant. As Keegan Daniel, byvoorbeeld, ‘n boom was, het daar nou ‘n laning van hom op Kingspark gegroei.

Agterlangs kon Ruan Pienaar, Juan Hernandez en JP Pietersen geen gleuwe in die verdediging vind nie. Hulle enigste drie was ‘n Bismarck du Plessis-afronding van ‘n rolgemaal teen ‘n Leeuvoorpak wat met ‘n geelkaart uitgedun was.

Die Leeus het ook net een drie gedruk, maar dit was darem ‘n baie lustiger poging gewees, vroeg in die wedstryd toe Doppies le Grange die Haaie se agterlyn versplinter het om skrumskakel Chris Jonck om te stuur vir ‘n netjiese vyfpunter. Herkie Kruger het die doelskop gemis en dít was uiteindelik die twee punte wat die Leeus vir ‘n gelykopwedstryd nodig gehad  het.

Vooraf het ek voorspel dat die Leeus kan wen as dit nie was dat hulle deur Earl Rose op heelagter belemmer sou wees nie. Maar Rose is soos ‘n basterbrakkie – dis net as jy iets van hom verwag dat hy hopeloos is. Gister het niemand enige verwagtinge van hom gehad nie en dié keer was hy voortreflik – dapper onder die hoë bal, netjies in posisie, geniepsig op die aanval.

‘n Ander speler wat aangenaam verras het, was Ruan Pienaar, meer spesifiek met sy skopwerk pale toe. Hy het skielik ritme gevind, was goed gebalanseer wanneer hy die bal tref en het nie net die bal oor die dwarslat gekry nie – hy het dit reg in die middel tussen die torings deurgeklits.

Twee Pienaar-strafskoppe en ‘n Hernandez-skepskop het gehelp om die Haaie met halftyd voor te kry met 16-11.

Die tweede helfte was vol aksie, maar het net 9 punte geproduseer waarvan die Leeus ses gekry het. Hulle het, om presies te wees, met vyftien minute om te gaan, 17-16 voorgeloop. Ruan Pienaar het daarna ‘n kosbare strafskop oorgekry, maar uiteindelik was dit die Haaie wat moes vasbyt om te wen.

Vanaand kou afrigter John Plumtree sy binnewang. Die Haaie was goed genoeg om die Leeus te klop, maar as hulle nie ‘n paar geheime wapens kry om te ontplooi nie, gaan hulle vasval, indien nie teen die WP nie, dan teen die span uit Pretoria. Hierdie jaar se tuiste van die Curriebeker lyk blou; nie die grysblou van die Indiese oseaan nie, maar Noord-Transvaalse ligblou.

games onlineОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.