Griekwas se kaartehuis tuimel in op Loftus

Moet net nie vandag vir Dawie Theron vertel hoeveel jy al vir ‘n Hallmark-kaartjie betaal het nie, of selfs vir ‘n verkeerskaartjie nie. Gister op Loftus het die Grikewas twee geel kaarte gekoop teen 34 punte, die wedstryd en waarskynlik ‘n plek in die halfeindrondte van die Curriebekerreeks. Theron kon na die wedstryd op sy span geskree het – hy is na alles die afrigter. Maar die een wat vir die plafon moes staar tydens die uittrapsessie was die kaptein, Jonathan Mokuena, siende dat dit hý was wat die eerste geelkaart gekoop het. Terwyl hy op die kantlyn gesit en berouvol lyk het, het die Blou Bulle twee verdoelde drieë en ‘n strafskop op die telkaart ingeskryf.

Tot en met daardie tydstip was dit ‘n aanskoulike een-vir-jou, een-vir-my affêre in die Bulkamp. Die Noord-Transvalers het die eerste hou geslaan toe hulle net na die eerste minuut ‘n volle agterlyn aanval op die Griekwastelling geloods het. Wynand Olivier het die lyn so maklik soos ‘n kasplankie oor die knie gebreek, vir Jaco Pretorius gevoer wat die bal net aangehelp het na Zane Kirchner. Dié het die bal vorentoe geknikker en bymekaar gemaak vir vryf punte in die hoek. Met Morné Steyn wat deesdae blykbaar nie mag misskop nie, het die Ligbloues die luuksheid om te druk net waar hulle wil. In minder as 2 minute van die afskop af, was die Blou Bulle 7-0 voor.

Die Griekwas  het egter onmiddellik gewys dat hulle dit kan vat én kan uitdeel. Hulle het die bal tot in die Bloues se kwartgebied gedryf waar skrumskakel Sarel Pretorius ‘n stuitige steeklopie op die doellyn uitgevoer en die kalk gehaal het. Minute later het hulle algehele minagting vir die tradisies van Loftus getoon, die Blou Bulle se skrum naby hulle doellyn oopgewig waarna Davon Raubenheimer die bal gegryp en die doelgebied gehaal het vir nog ‘n Griekwadrie. Naas Olivier het daarin geslaag om albei verdoelings mis te skop, maar die Griekwas was nog steeds met 10-7 voor.

Die Blou Masjien, punte en vergasser blykbaar deur die week mooi gestel, het nou een aanval na die ander geloods, een skokgolf op ‘n slag. Die Griekwas het soos Voortrekkers verdedig totdat Mokuena uit die grondvloer van ‘n losskrum Heini Adams se voet gegryp het. Hy het sy peperduur geel kaart gekry en die Blou Bulle ‘n lynstaan naby die Griekwadoellyn. Die Delwers het manmoedig verdedig teen die verwagte rolmaalbeweging wat toe nooit gebeur het nie, en Danie Rossouw het onbelemmer deurgerammel vir ‘n drie. Kort daarna het die Ligblou-agterlyn die Griekwa-verdediging herwaarts en derwaarts gerek totdat Morné Steyn rondom die laaste linie geglip het vir nog ‘n drie wat hy uit die hoekie verdoel het.

Skielik was die Pretorianers 24-10 voor en nadat Olivier en Steyn strafskoppe uitgeruil het, was die rustydtelling 27-13.

Net na rustyd het Griekwa-senter Barry Geel skuins befoeterd deur die Ligblouverdedigingslyn gehardloop vir ‘n drie. Dié keer was dit die Blou Bulle wat die Griekwa-euforie gesnuit het toe Pierre Spies die bal naby die doellyn gekry het en bo-oor allerlei onbenullige strepiestruie gestorm om Geel se drie te neutraliseer.

Rohan Kitshoff is toe, na herhaalde aansoeke, ‘n geelkaart toegestaan, waarvoor die Griekwas weereens sewentien punte moes uithaal en hoes. Bryan Habana het ‘n roetine-onderskepdrie gedruk en kort daarna was Morné Steyn die eerste om ‘n koerslose lang lynstaaningooi van die Griekwas te bereik en hy het ‘n verspotte drie gedruk.

Daarna het reserwehaker Bandise Maku deurgewurm vir nog ‘n drie en Habana het sy tweede vir die dag – en ‘n gerekte dyspier – gekry.

Al wat vir die Griekwas oorgebly het, was om te probeer vir hulle vierde drie en die gepaardgaande bonuspunt. Dié het hulle gekry terwyl die sirene afgegaan het, maar dit was al die geelkaarte en harde 80 minute werd. Die mikroskopies presiese aangeë, die aanvalspoed, die rigtingsveranderinge! Dis hoekom ons van rugby hou. Naas Olivier het die eer gekry om die spandrie af te rond.

Hulle het nog ‘n flentertjie kans om die halfeindrondte te haal, maar ek  sou dink nadat Dawie Theron vir menere Mokuena en Kitshoff van aangesig tot aangesig gesien het, is hulle geregtig op  “Word gou beter”-kaartjies.

Die Blou Bulle wen 61-27 en gee daarmee onheilspellend kennis dat die Blou Masjien terug is, en met elke kragslag beter loop. Victor Matfield het ‘n meesterklas in die lynstane gelewer, Danie Rossouw is behalwe vir Bakkies Botha die naaste ding wat daar is aan Bakkies Botha en Dewald Potgieter was ‘n tier waar hy ook al op verdediging of aanval verskyn het. Agterlangs het Wynand Olivier gewys dat Jean de Villiers se vertrek uit die Springbokspan, geen nasionale katastrofe hoef te wees nie.

развивающийся коврикФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.