Kop op die Blok: Griekwas vandag mishandel op Loftus

Deel op

Kyk, ons almal hou daarvan om te sien hoe ‘n kloekmoedige kleintjie vir ‘n selfvoldane grote ore aansit. Dis ‘n soort stapelvoedsel, nie net vir sportaanhangers nie, maar vir fliekgangers en ander romantici die wêreld vol. Sonder die kleintjie-sit-die-grote-koud ideaal, sou daar immers nie ‘n Rocky gewees het nie. Helaas, vandag gaan daar nie ‘n gelukkige einde aan die kleintjie se dag op Loftus wees nie. Die vernaamste rede is juis dat hierdie nie ‘n oorgeruste grote gaan wees wat die veld teen hulle neem nie.

Desperaatheid is wonderlike steroïed en die Griekwas sal tot die oogballe opgespuit wees daarmee. Die Blou Bulle ook, en dis waar die knoop vir die strepiestruie lê. Húlle beter vandag wen om die wonderwerk van ‘n halfeindrondte te beleef, maar die Noord-Transvalers het ‘n bloedbelope oog, nie net op ‘n mog’t-trofee voorlaaste rondte nie, maar op die tuitbeker self. Hulle eie probleem is dat hulle nog op gesamentlike vorm op soek is. Die toevoeging van hulle Springbokke het nie die verwagte stoomrollereffek gehad nie en verlede week moes hulle soos foksterriërs skarrel om die Vrystaters te bêre. Die Blou Bulle kan nie anders as om onrustig en derhalwe baie verbete te wees nie.

As vasberadenheid en fokus in gelyke mate uitgedeel is, is dit moeilik om te dink in watter onderdeel van die spel die Griekwas genoeg mannemateriaal het om die Blou Bulle te kwes. Die Ligbloues kan staatmaak op eerstefasebal uit die skrums, en danksy die radartoring, Victor Matfield, sal hulle meer as hulle kwota lynstaanbesit kry. Met ‘n Pierre Spies wat harder as ooit ywer, die werkholis Dewald Potgieter en Deon Stegmann wat die Blou Bulle se weergawe van Heinrich Brüssouw is, gaan daar nie losballe vir kwaadgeld rondlê nie.

Heini Adams is geen Fourie du Preez nie, maar hy hoef regtig net die bal by Morné Steyn te kry wat sal weet wat om daarmee te doen. ‘n Agterlyn met Wynand Olivier, ‘n Jaco Pretorius bruisend met nuwe rugbylus, Bryan Habana en Zane Kirchner, het genoeg oktaan om bresse deur selfs die stoere Griekwa-verdediging te brand.

Ek sit my kop op ‘n blok: Dis die Blou Bulle met nie minder as tien punte nie.

подъемник автомобильныйФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.