Swart dwaling en wit woede

Ná die Verraad van ’94 is Afrikanergeduld en -sin vir regverdigheid met “wit vrees” verwar. Nou word sporadiese uitbarstings aan regse kant as blote rassisme deur die liberales weggepraat. Inderwaarheid is dit simptomaties van ‘n baie meer – vir die SA superstam-in-wording – vernietigende mag: Wit woede. Wanneer sal die regering wakker skrik en na die Afrikaner begin luister?

Wit vrees – wat dit is en wat dit nie is nie.

Melanie Verwoerd is ‘n uiters eerlike mens. Ons weet dit want Melanie Verwoerd sê so, en Melanie Verwoerd sal nie lieg nie, sal sy? In ‘n TV-onderhoud, terwyl sy ambassadrise in Ierland was, redeneer sy dat blanke Suid-Afrikaners die land in skares verlaat het, nie as gevolg van regstellende aksie of misdaad nie, maar omdat hulle wil… reis. Tydens die opname, circa 2002, was sy nog getroud met Wilhelm Verwoerd, oorloperkleinseun van H.F. Verwoerd. Sy het deskant gesing in die lofkoor vir die ANK en haar menings en rasionaliserings het sy stiptelik uit die koorbundel van die party gekry.

In antwoord op Sandra Prinsloo se vraag oor blankes se vrese, het sy Thabo Mbeki se woorde gekanaliseer: Vrees word deur onkunde aangevuur. Blankes se vrese is eintlik net vooroordele, veroorsaak deur die stompsinnige aanvaarding van stereotipes. Wanneer blankes meer van swartmense en hulle kultuur leer, sal dié vooroordele, en daarmee saam wit vrees, verdwyn. Vir dít om te gebeur, moet afstand, geografiese afsondering, tussen die rasse verdwyn.

Sy het miskien intellektueel ingestem dat rasseineenvloeing in ‘n bepaalde gebied die wagwoord vir ware en nodige transformasie is, maar sy het dit nooit geglo nie, nie regtig nie, nie met hart en siel nie. In die onderhoud, met ‘n skielike frons, ‘n gesigsplukkie wat ongemak, selfs selfongeloof openbaar, reageer sy op ‘n vraag oor Noord-Ierland. Is daar ‘n oplossing? … nee. Sy dink nie so nie, en vertel van ‘n voorval waar ouers in ‘n Protestantse woonbuurt Katolieke kinders verhoed om daardeur skool toe te loop. ‘n Herrie ontstaan. Polisie moet die kindertjies skool toe en terug begelei. Nee, die kulture is te uiteenlopend. Multikulturele harmonie is onmoontlik. Blykbaar registreer die heerlike ironie nie by haar nie: Twee dele van ‘n enkele volk, uit een kultuur afkomstig, net deur hulle geloofstradisies te onderskei, kan nie in een gebied saamleef nie. Maar twee rasse, met geen tradisie of kultuurooreenkomste anders as strydgenote in een gebied nie, nou ja, dié kan en moet saamleef. Dis die oplossing. Dis die Mandela-droom in aksie.

Volgens die beste blanke liberalistiese tradisie, het Melanie Verwoerd aan die einde van haar ampstermyn van Wilhelm Verwoerd geskei en haar toegewydheid aan rasseversmelting gedemonstreer deur permanente verblyfreg in leliewit Ierland te bekom. Wat haar rasionalisering ook al is, en glo my, niemand verdedig hulle onverdedigbare handelinge met dieselfde vloeiende vasberadenheid as ‘n liberalis nie, sy moet erken sy word nie gereeld in Dublin deur ‘n swart minibustaxi van die pad af gedruk nie en het lanklaas die risiko geloop om deur ‘n swartman verkrag te word. Gebiedskeiding werk vir haar rasseharmonie; hoekom nie vir die res van blanke Suid-Afrika nie?

Haar teorie dat bekendheid met ander rasse hulle bemind sal maak, sal min indruk op blankes op die platteland maak. Daar is niemand meer wantrouig teenoor swart kultuur as juis hierdie boere nie en daar is niemand wat swart kultuur beter ken en verstaan as hierdie plattelanders nie. Duidelik het bekend nie bemind gemaak nie! Melanie Verwoerd, daarenteen, het ‘n euforiese bewondering vir swart kultuur en geestelikheid. Hierdie aanprysing is blykbaar makliker om vol te hou vanuit Dublin as Dullstroom. Haar lewensdemonstrasie is dat hoe verder ‘n witmens van Afrikakultuur verwyder is, hoe makliker is dit om waardering daarvoor te hê. Die sinvolle gevolgtrekking is dat gebiedskeiding onontbeerlik is vir rasseharmonie. En was dit nie presies wat H.F. Verwoerd, haar voormalige man se oupa, bepleit het nie?

Blanke mense het ná vyftien jaar van ANK-oorheersing ‘n baie beter begrip van swart kultuur en lewensbeskouing. En hulle is meer wantrouig as ooit. Veiligheidshekke is hoër, alarms skriller, waghonde groter, buurtpatrollies meer opsigtelik namate swart woongebiede nader aan blanke buurte kruip en toegang makliker word. Om ag te slaan op redelike veiligheidsaksiomas, soos om, sê nou maar, nie in die donker in jou motor langs ‘n lokasie af te trek om te slaap nie, is nie die gedrag van ‘n lafaard nie. Dis blote, basiese wysheid. Om verlok te word deur die newelideaal van Afrika-medemenslikheid – die Afrika-kultuur van basiese respek vir lewe, soos Desmond Tutu dit stel – en op grond daarvan algemene veiligheidsmaatreëls te verontagsaam, is nie manmoedigheid nie – dis dwaasheid.

Geregverdigde vrees is ‘n onmisbare element vir persoonlike en nasionale oorlewing. En as daar een volk is wat geregtig is op basiese wantroue teenoor ‘n ander ras, is dit die Afrikaner. Daarvoor het ‘n voortstuwende misdaadfront van die afgryslikste wreedheid gesorg. Geen liberalis sal dit egter erken nie. Volgens die handleiding van basiese liberale opvattings, kan alle slegte dinge aan apartheid toegeskryf word. Derhalwe kan die misdaadgolf nie aan swartmense toegedig word nie. En blanke vrees is nie die reaksie van ‘n logiese verstand nie; dis die halsstarrigheid van onbevryde denke wat vasgeslaan het in ‘n Middeleeuse rasseopvatting. Hieraan hang die hele breindrein, die ontvolking van sleutelposte, die Afrikaner-diaspora. In liberale oë is blanke vrees ‘n irriterende volksneurose wat geen plek in die veelkulturele bestel van die Nuwe Suid-Afrika het nie.

Voor 1994 was blanke vrees bloot as ‘n spoedhobbel in die ANK se opmars na oorname gesien. Die hele linkse ideologiemasjinerie het in werking gesuis. Dakar-gangers het teruggekeer nadat hulle Beethoven geluister en whiskey saam met Thabo Mbeki gedrink het. Dis asof hulle soos Marco Polo verhale vertel het uit verre lande, van wonderwerke wat die oog nog nie gesien en die oor nog nie gehoor het nie. “Hierdie is goeie ouens,” het hulle geëvangeliseer. Die linkse media het hosannas oor veral die vrygelate terroris, Mandela, aangehef. Wat nog meer oortuigend was, was die volksmedia, hoofsaaklik Naspers wat die sinkende SAS Nasionale Party verlaat het en nou besig was om in die rigting van die ANK te roei. Blanke besware is in myle en myle se kolomme weggesus. Dit is veral gedoen met daardie half-minagtende toon, daardie redaksionele aanvaarding dat enige iemand wat die oorgang vrees ietwat primitief en bygelowig is. Terwyl wit vrees die hele oornameproses kon beduiwel, is dit met erns en omsigtigheid en begrip behandel.

Daarna egter, ná FW de Klerk se politieke hoogtepunt waarin hy sy volk uitoorlê en bedrieg het, het “wit vrees” ‘n semantiese metamorfose ondergaan. Dit was nou die stok waarmee aan die Afrikaner gekarring is, waarmee hy getart is soos wat ‘n gorilla agter tralies getart word. “Wit vrees” was nou ‘n smaalwoord waarin opvattings van kortsigtigheid, ontransformeerbaarheid en doodgewone papbroekigheid ingebind is. Dis asof die woord onttrek is aan visies van ‘n hartbeeshuisie waarin ‘n verlate wit gesinnetjie mekaar beangs aanklou terwyl die swart magte buite versamel. Dis die wind, dis die wind, my kind…

Die liberale ontleders het een keer ‘n deurslaggewende begrip van die Afrikaner getoon en dit was toe FW de Klerk vir Andries Treurnicht en ander stokke in die oorgawespeke met sy referendum van 1992 omseil het. Hy het sy “ja”-stem gekry en daarmee die Afrikaner se oorlewing op die altaar van multikulturalisme gelê. Daarna het die linkses, so gereeld soos sonsopkoms, die Afrikaner se aard en optrede verkeerd gepeil.

Ná die oorgawe het die Afrikaner, tot almal se verbasing, beleefd opsy gestaan terwyl swart blakers op sy regeringstoele gaan sit het. Dit het die liberales oortuig dat die Afrikaner se nasionale gô uit was. Hulle was bloot verkeerd. Die Afrikaner was nog altyd – meestal tot sy eie nadeel – bedeel met ‘n soort nasionale sportmangees. In 1994 het hy ietwat knorrend toegegee dat hy uitoorlê is en het hy die openbare toneel grootliks ontruim om met sy lewe aan te gaan, ja, maar ook om vir die wenners kans te gee om hulleself te bewys, om beheer te neem, om die land te bestuur soos wat aan hulle voorgehou is net die ANK dit kan doen. Hy het kleinlike vergeldingsmaatreëls soos dorpsnaamveranderings, die verwydering van volksimbole soos die vlag en volkslied en grootskaalse staatsdiensafleggings van blankes gesluk, oortuig dat dit ‘n kortstondige, oorentoesiastiese vergryp is wat weldra reggestel sal word.

Die liberale media het eers ongelowig, en toe met groot brawade en snedigheid hierdie ontruiming van die sentrale verhoog gesien en verkondig as ‘n algemene ineenstorting van die Afrikanerpsige. Die Afrikaner, volgens hierdie denkskool, was ‘n uitgediende mag. Hy het sy stoom verloor, beweer ‘n politieke ontleder van die Universiteit van Johannesburg, so onlangs as drie jaar gelede. In dieselfde week het die bitterkat, Christi van der Westhuizen, geskryf dat die Afrikanerman as’t ware ontman is omdat hy nou met ander, meer potente, mans moet meeding en dit onmoontlik vind. Die media het voortdurend die beeld van die nuwe, flinke, skrander swartman gekonstrueer en, in teenstelling daarmee, die patetiese boedeloorgawe van die witman. Blykbaar het hulle, en die res van die liberale waarnemers, hulle eie fiksie begin glo.

Die teendeel is eerder waar. Die Afrikaner het die vernederings wat op hom opgehoop is en die manier waarop omtrent elke plegtig geswore onderneming teenoor hom verbreek is, met geduld en waardigheid verdra, nie omdat hy lamsakkig was nie, nee, eerder omdat hy taai is, taai soos sy voorvaders wat ‘n wilde land getem het, en geduldig, geduldig soos sy oupas wat ná die verplettering van die Engelse Oorlog hulleself elke dag, met onuitputlike lydsaamheid, opgehef het, een breukdeel van ‘n vorentoetreetjie op ‘n slag. As die Christi van der Westhuizens van hierdie land verby hulle eie verwarring en bitterheid kon kyk, as die Koos Kombuise en Max du Preez’s kon hoor wat anderkant die gedruis van hulle eie liberale ontkennings was, sou hulle dit besef het.

Hulle het hulleself egter te veel verkneukel in die illusie van ‘n verslane, verskrikte Afrikaner. Die swart elite, altyd ‘n pas agter die liberale gansmars, het die idee aangegryp en hulle beleid en benadering gemonteer op die idee van ‘n verlore Afrikaner. Hierdie was ‘n mistasting van kataklismiese omvang, ‘n wanbegrip wat uiteindelik daartoe kan lei dat Suid-Afrika van bo in die Noorde, tot Kaapland in die Suide al langs die naat af geskeur word.

Wit vrees is voorgehou as ‘n negatiewe nasionale karaktertrek. Maar dié wat hulle oor teen die grond het, voel reeds die rammelinge van iets onmeetbaar wyer en intenser in omvang: Swart vrees. Swart vrees in reaksie op ‘n sluimerende wit woede wat dalk in onverwagse gedaantes mag manifesteer.

тамбов кресла,Фильчаков Александр Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.