Toestroming na stede skep krisis – Sexwale

Diepsloot
Deel op

DiepslootDie toenemende toestroming na stedelike gebiede deur landelike swartes plaas geweldige druk op die stedelike infrastruktuur, het die minister van menslike nedersettings, Tokyo Sexwale, gister gesê.

Hy het by die lekgotla oor plaaslike regering in Durban oor die rol van plaaslike regering in menslike nedersettings gepraat.

Sexwale het verduidelik dat die huidige “depressie” op die platteland veroorsaak dat al hoe meer plattelandse inwoners op soek na werk na stedelike gebiede verhuis.

“Dit plaas die stedelike infrastruktuur onder druk weens die toenemende aantal informele nedersettings terwyl die hulpbronne van plaaslike regerings reeds tot die uiterste toe beproef word.”

Sexwale meen die toenemende aantal informele nedersettings, oftewel plakkerskampe, is vinnig besig om vir Suid-Afrika in ‘n ramp te ontaard, “afgesien nog van die konstante toevloei van vlugtelinge en ander mense oor ons grense”.

Die minister van samewerkende regering, Sicelo Shiceka, het verklaar dat daar ‘n hele aantal munisipaliteite met geldelike probleme in die land bestaan, het die SAUK onlangs berig.

Volgens Sexwale skuld munisipaliteite omtrent R53 miljard in hul pogings om dienste volgens die verwagtinge van inwoners te verskaf.

Die weg na die toekoms is om meer menslike nedersettings te bou, het Sexwale gesê.

Die nuwe nedersettings beteken nuwe belastingbasisse en nuwe bronne van inkomste.

“Hulle beteken nuwe inkomstestrome in die vorm van dienste. Hulle lei tot die skep van plaaslike werksgeleenthede deur die bou van huise of die ontwikkeling van infrastruktuur in die vorm van paaie, straatligte, elektrisiteitsaansluitings en so meer,” het Sexwale gesê.

Volgens hom maak die bou van nuwe huise en verwante nedersettings deel uit van ‘n breër nasionale ekonomiese dinamo.

“Dit sit die mynsektor aan die gang wat koper, ystererts en ander rumateriaal moet verskaf wat in konstruksie gebruik word.

Dit stimuleer die vervaardigingsektor wat die staal, bakstene, teëls, deure, vensterrame, ensovoorts, moet verskaf,” het hy in ‘n verklaring laat weet.

Die minister het opgemerk dat dit die taak van die menslikenedersettingsdepartement is om menslikheid en waardigheid te herstel, om ruimtelike ongelykhede aan te spreek en om gemak en veiligheid aan alle burgers te verskaf.

Die bou van huise, meen hy, gaan die kleinhandelsektor “lewe inblaas” aangesien huishoudelike materiaal en goedere verkoop gaan word, maar banke en finansiële dienste, wat die wiele van handel en nywherheid “smeer”, sal ook daarby baat.

“Dit spreek vanself dat ons nie die uitdagings van die huididge ekonomiese toestand moet ignoreer nie, terwyl ons op hierdie nuwe sending vertrek om menslike nedersettings te ontwikkel.

“Daar word gehoop dat Suid-Afrika mettertyd aan die huidige resessie sal ontkom… Selfs ná die huidige resessie, gaan die pad na werklike ekonomiese herstel ‘n lange wees.”

Hy het gesê Suid-Afrika kon nie dié eeu as ‘n ontwikkelende nasie met ‘n ontluikende ekonomie afsluit nie.

“Ons land behoort, teen die einde van dié eeu, reeds te ontluik het en tot ‘n ontwikkelde land gegroei het, as ‘n gelyke tussen ander ontwikkelde lande ter wêreld,” het Sexwale verklaar.

мультик про робота трансформерапрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.