‘Kernwedloop’ is meer gepas

Deel op

Dit was voorwaar ‘n kernnaweek in die ware sin van die woord.

Iran het dié naweek twee kortafstandmissiele afgevuur nadat sy Rewolusionêre Wag met oorlogsoefeninge begin het. Volgens die amptelike media is dit om die land se paraatheid en afskrikvermoë te adverteer.

Die grond-tot-grond missiel, die Fateh (Oorwinning) en die seemissiel, die Tondar (Donder) is Sondag suksesvol gelanseer.

Iran het Maandag die Shahab 3-missiel getoets wat glo ‘n reikwydte van 2 000km het en Israel en die VSA se basisse in die Golf binne bereik plaas. Dié missiel is al voorheen deur Iran getoets.

Oplaaiende spanning tussen Iran, die VSA en Israel vanweë die land se kernprogram is ook tans in die nuus en waarnemers glo die oefening is gemik daarop om Obama se mees onlangse uitsprake te beantwoord.

Die Amerikaanse president het Saterdag gesê die ontdekking van ‘n geheime kernaanleg wys ‘n “kommerwekkende patroon” en ontwyking deur Iran voeg dringendheid tot die samesprekinge met ses wêreldmoondhede Donderdag in Geneva. Die VSA en Israel vermoed dat Iran kernkrag vir militêre doeleindes wil aanwend.

Iran het egter die stelling ontken en gesê die Weste is al lank reeds bewus van die aanleg naby die heilige stad Qom. Hulle het die bestaan van die aanleg Maandag per brief aan die IAEA, die Internasiionle Atoomenergieagentskap, erken en gesê die aanleg is oop vir inspeksie.

Iran het die Weste daarvan beskuldig dat die uitbarsting oor die sogenaamde geheime aanleg die gesprek in Geneva negatief kan beïnvloed.

Dit het ook hierdie naweek bekend geraak dat China hulle arsenaal opgegradeerde missiele op 1 Oktober tydens ‘n militêre parade gaan vertoon.

Die Chinese Xinhua-nuusagentskap het ‘n bevelvoerder aangehaal wat werksaam is by die beheer van kernwapens.

Dit sal die land se klem op militarisering en modernisering weereens benadruk. Buitelandse waarnemers is vol afwagting en sal die verbymars van die Volksbevrydingsleër fyn dophou.

Minder tenks gaan deur die strate afgerol kom en meer van die weermag se gevorderde wapentuig sal ten toon gestel word, het generaal Gao Jianguo, woordvoerder van die Militêre Parade aan Reuters gesê.

Bomwerpers, vegvliegtuie en helikopters sal verbyvlugte oor Beijing onderneem.

Daar sal 108 missiele te siene wees wat twee soorte konvensionele grond-tot-grond missiele sal insluit, asook interkontinentale kernmissiele, het Yu Jixun, onderbevelvoerder van die leër se Tweede Artillerie gesê. Die Tweede Atrillerie beheer China se kernarsenaal en is besig met ‘n uitbreidingsplan wat konvensionele missiele sal insluit.

“Al vyf soorte missiele is van die soliede brandstof soort, met kleiner omhulsels… In die verlede was dit meesal vloeibare brandstof en die omhulsels was enorm.”

Die Julang-2, of JL-2, ‘n duikbootmissiel met ‘n trefafstand van 8 000km wat in 2001 getoets is en die CSS-X-10, ‘n soliede brandstof interkontinentale ballistiese missiel mag dalk deel vorm van die vertoning.

Die VSA se maritieme strateë is bekommerd dat China dalk ‘n ballistiese anti-vaartuigmissiel, ‘n Dongfeng 21-D, ontwikkel het wat Amerika sal dwing om hulle vliegdekskepe op ‘n afstand te hou in die geval van ‘n aanval op Taiwan.

China het egter nog nie die vermoë om met behulp van satelliete en ander stelsels skepe op see te volg en aan te val nie, sê militêre kenners.

Maar dit was nie al wat die naweek onder die kernsoeklig geval het nie. Volgens Nieu-Delhi se atoomspesialiste kan Indië nou wapens bou wat meer as 200 kiloton kan dra en volgens die internasionale gemeenskap as “behoorlike strategiese afskrikmiddels” deug.

Dit sal natuurlik vir Pakistan, aartsvyand en kernmoondheid, in die skadu van Indië stel.

Indië se aankondiging kom op dieselfde tydstip as Iran se missieloefening en ‘n hewige debat wat in die land self woed oor of die laaste kerntoetse in 1998 suksesvol was of nie.

‘n Invloedryke wetenskaplike, K Santhanam, by die Indiese weermag se navorsing- en ontwikkelingsorganisasie, beweer die kernhittetoets by Pokhran in Rajasthan, was laer as wat verwag is.

Die stelling het weer aanleiding gegee tot spekulasie dat Indië nog ‘n toets beplan wat spanning met Pakistan verder kan verhoog en die nuutondertekende burgerlike kernooreenkoms met Washington in die gedrang kan bring. Indië het tot dusver geweier om die Kernsperverdrag te onderteken en is sedert 1974 besig om ‘n kernarsenaal te ontwikkel.

Volgens kenners beskik Nieu-Delhi oor genoeg wapengraad plutonium om ten minste ‘n honderd kernkoppe te vervaardig.

Militêre kenners sê Indië se kerntoetse is nog nie behoorlik uitgevoer nie en is net mbv rekenaars gesimuleer.

Barack Obama het onlangs by die Algemene Vergadering van die VN gepleit dat meer lande by die Kernsperverdag aansluit. Hy het voorgestel dat Indië as ‘n land aansluit wat nie oor kernwapens beskik nie.

Indië het sy voorstel met minagting verwerp in ‘n brief aan die voorsitter van die Veiligheidsraad.

Met Pakistan, Indië en Iran se onversetlike houding, en China se magsvertoon, is ‘n kernvrye wêreld besig om in die vergetelheid te verdwyn.

“Kernwedloop” is die nuwe woord op algar se lippe.

 

мозаика киевпрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.