Menseregtegroepe is ontstoke nadat Pole ‘n wetsontwerp aanvaar het wat verpligte kastrasie vir pedofiele wettig.
Die wet, wat Vrydag bekragtig is, bepaal dat pedofiele wat skuldig bevind word daaraan dat hulle kinders onder 15 of ‘n nabye familielid verkrag het, chemies gekastreer sal word nadat hulle uit die gevangenis vrygelaat word.
“Die doel van hierdie aksie is om die geestesgesondheid van die gevangene te verbeter, om sy libido te verlaag en sodoende die die risikio van nog ‘n misdaad deur hierdie persoon te verminder,” het die regering in ‘n verklaring gesê.
Eerste minister Donald Tusk het verlede jaar aangekondig dat hy pedofiele, wat hy ‘wanaangepastes’ noem, aan verpligte kastrasie wil onderwerp. Hy het toe gesê hy glo nie menseregte is van toepassing op sulke individue nie.
Alhoewel hy reeds kritiek van menseregtegroepe ontvang het vir sy uitlatings, het hy dit nog nie teruggetrek nie.
“As iemand geestesgesond is, straf ons hom. As hy siek is, probeer ons hom gesond maak. Dit is hoe die Poolse regstelsel werk. Die wet stel twee benaderings bekend. Sover ek weet maak dit hierdie wet die strengste in Europa oor die kwessie.”